Oorsaak van brug se ineenstorting bekendgemaak

Die Geldenhuys-voetgangerbrug oor die N3 het op 9 Augustus in die vroeë oggendure ineengestort. Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Woensdag gesê ʼn ondersoek deur Superstructure Consulting Engineers het getoon die Geldenhuys-voetgangerbrug oor die N3 in Johannesburg het ineengestort nadat ʼn swaar stuk staal op ʼn vragmotor een van die ondersteunende steunpilare getref het.

“Die ineenstorting van die Geldenhuys-voetgangerburg op die N3 in die vroeë oggendure van 9 Augustus 2017 is veroorsaak deur die trefslag op die steunpilaar in die middel van die snelweg, het ons ondersoek bevestig,” het Louw Kannemeyer, die padagentskap se waarnemende ingenieursbestuurshoof gesê.

Maroela Media het vroeër berig die snelweg is vir ʼn hele ruk gesluit nadat die brug ineengestort het. Vyf mense is tydens die voorval beseer. Robert Banda was saam met sy vrou en sewejarige dogter in ʼn vragmotor toe die brug op die voertuig geval het. Hulle het ernstige beserings opgedoen en moes in ʼn hospitaal opgeneem word.

Kannemeyer het gesê Sanral het na aanleiding van die voorval Superstructure Consulting Engineers opdrag gegee om ʼn onafhanklike ondersoek te doen om die oorsaak van die ineenstorting te bepaal. Die firma het die ondersoek afgehandel en die finale verslag is aan Sanral oorhandig.

Volgens hom toon stawende bewyse dat die trefslag veroorsaak is deur ʼn 18,1 ton staalrol wat 100 m noord van die ineengestorte brug op die N3-Noord gelê het.

“Merke op die pad het direk gelei van die punt van botsing tot waar die stuk staal tot stilstand gekom het.”

Die padagentskap het gesê die gewig van die staal teen ʼn bewegende spoed kon ʼn baie groter trefslag veroorsaak het as wat die steunpilaar kon hanteer. Puin wat verder as 40 m weg van die pilaar af gelê het, het ʼn baie groot eksterne botsing bevestig.

Volgens die Sanral-verslag is dit statisties “ʼn baie onwaarskynlike gebeurtenis” vir ʼn brug se ondersteuningstruktuur om só ʼn groot trefslag op so ʼn hoogte te ervaar. Die pilaar was deur ʼn betonversperring beskerm, maar die trefslag was hoër op. Die stuk staal wat op die pad gelê het, is ook later ondersoek en die merke daarop het aangedui dat dit ʼn harde botsing met beton gehad het.

Sanral se versekeraars neem tans die saak met die betrokke derde partye op, terwyl die SAPD sy eie ondersoek doen na die stuk staal en die vervoervoertuig wat daarby betrokke was.

Die brug is in 1978 gebou om voetgangers toegang tot die mynboubedrywighede tussen die ooste van Germiston en die Geldenhuys-treinstasie aan die weste te gee. Die mynboubedrywighede is jare gelede gestaak en die brug is sedertdien vir voetgangers gesluit.

Die laaste ondersoek van die struktuur is in Julie 2016 gedoen en geen rede tot kommer oor die hoofstruktuurelemente aan die brug is toe waargeneem nie. Alle gebreke is deur die bruginspekteur as klein en irrelevant bestempel. Die handrelings was nie meer daar nie, maar aangesien die brug nie meer gebruik is nie en afgesper was vir die publiek, is dit destyds nie as ʼn probleem beskou nie.

Kannemeyer het gesê al die moontlike oorsake vir die brug se ineenstorting, soos seismiese uitwerkings, ontploffings en onwettige mynbou, is ná die voorval geïdentifiseer en tydens die ondersoek een vir een uitgeskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Nicoline ·

Wonder net hoe lank die lelike groot blokke sement nog so langs die pad gaan bly le?

Handrelings ·

Die handrelings is natuurlik na die skrootwerf. Net buite Nigel op die pad na Springs is ook ‘n brug waarvan die relings verdwyn het. Elke stukkie yster in begraafplase is ook aan die verdwyn. Vir meer as ‘n honderd jaar was daar ‘n reling om die graf van Carolus Trichardt en sy gade in die Middelburg-Wes begraafplaas wat toe ook verdwyn het.

Leahim ·

Dit is goeie nuus dit wys dat die brug nie ineengestort het omrede daar swak vakmanskap was soos met die brûe wat die laaste paar jaar ineengestort het nie .Ek verstaan nie was Banda n Zimbabwiese van se trok so hoog gelaai dat die staal die brug getref het en moet hy of sy maatskappy dan betaal vir die opruiming van die rommel.

Louise ·

@Leahim – As ek reg verstaan uit vroeë berigte, was dit nie Banda se trok wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die brug het wel op die voorkant van sy trok geval…

B-man ·

Ek dink die trok was in Noordelike rigting op pad en het te vinnig om die draai gekom. Die staalrol was nie goed genoeg vas nie en het die trok verlaat. Trok het te gou te skerp gedraai, maar rol het reguit aanbeweeg, oor die betonreling en in die pilaar in.

Gawie de Beer ·

waarom plaas hulle nie fotos van die staal rolle en die duidelike tekens soos genoem?

Theresa ·

Man, vrou en kind in ‘n trok. Trok is te hoog gelaai? met staalstuk wat beton tref (want dis te hoog). Nalatige bestuurder. Plus = is dit sy trok? Indien nie, waarom ry sy vrou en kind in ‘n werksvoertuig wat amptelik gebruik word, saam met hom? Teen watter spoed het die trok gery? Was hy in die middel van die pad? waarom – trokke hoort in linkerkantste baan @ hoogstens 80km p u??? Die brug is reg gebou. Die trok te hoog gelaai. Trok in middel = boete gekry daarvoor?? Indien bevind dat nalatige bestuur, moontlik te vining gery en moontlik nie sy voertuig nie, maar eintlik amptelike vervoer = ? Mal oor forensies – dit maak goed net soveel vinniger duidelik.

Selfbeskikking ·

In hierdie land geld geen padreels vir trokke nie. Ons moet onderhandel vir selfbeskikking, die hele land gaan val soos die brug. Ek kan nie meer met die regering saamleef nie en ons moet onafhanklik word, gou ook.

Ronel ·

18.1ton? Mag so swaar vrag op die paaie gaan? Is ons paaie gebou/ ontwerp so swaar vrag te kan dra?

t ·

@Ronel – 18.1 ton is nie swaar nie. ‘n Super-link mag selfs 50 ton dra. Dit hang alles af van die maksimum massa per as. Van die slim mense kan ons dalk inlig wat daardie syfers is.

JoeV ·

Stel jou nou voor mevrou en die kinders ry daar en die tol tref hulle. Askies gaan dit regmaak nie. Wie ondersoek die oorsake van die soort voorvalle? Is iemand besig om daai kultuur te herstel?

bgj van der westhuizen ·

as die staal rol los gekom het en die pilaar getref dit se vir my die persoon wat gelaai en of vas gemaak het nie sy werk behoorlik gedoen nie hy moet ook aan gekla word
soos die bestuurder van die vragmoter hy moet sy vrag inspeksie op hou het en seker maak dit is vas

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.