Oorsaak van Natasha Potgieter se dood bekend

Natasha Potgieter

Natasha Potgieter

Die ouers van Natasha Potgieter sê hulle sukkel steeds om ʼn mate van berusting te vind, al weet hulle nou wat die oorsaak van hul dogtertjie se dood was.

Volgens kapt. Phumelelo Dhlamini, woordvoerder van die polisie, het Natasha verdrink. “Daar word geen vuilspel vermoed nie. Die ondersoek gaan egter voort om die presiese omstandighede rondom die gebeure voor haar dood vas te stel,” het Dhlamini gesê.

Jaco Potgieter, Natasha se pa, het aan Maroela Media gesê Natasha se boeties mis haar nog baie en dat dit sleg gaan met hulle.

Natasha (6) het op 5 Februarie by ʼn maatjie gaan speel en glo alleen teruggestap na haar ouerhuis toe sy verdwyn het. Gemeenskapslede en die polisie het onmiddellik na haar begin soek. Haar liggaam is die volgende oggend in ʼn swembad naby haar huis gevind.

Volgens Dhlamini is Natasha se liggaam deur die eienaars van die huis waar sy verdrink het gevind. Hy het gesê die huis is sowat twee huise van Natasha se ouerhuis af. Sy is twee weke gelede begrawe uit die NG kerk Ladybrand-Noord.

Tania Halse, wyksraadslid, het destyds op Facebook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie te bespiegel of kritiek te lewer oor die omstandighede rondom Natasha se dood nie. “Julle het almal so trots gemaak met julle pogings om na haar te soek, moet nou nie afbreuk daaraan doen nie. Kom ons ondersteun eerder die gesin in hulle uur van nood.”

Natasha was ʼn gr. R-leerder by Bokmakierie-kleuterskool by die Ladybrand Primêre Skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Uvonka ·

So hartseer!! RIV Poppekind! Sterkte aan haar gesin in hierdie droewige tyd!

Ada ·

Dit is te hartseer om kommentaar te lewer. So jammer jammer jammer.

not in wonderland ·

Ag siestog, die arme kind, as kinders het ons ook altyd na die “ryk” mense met swembaddens gekyk en wou ook net swem. Dit is so hartseer, dit is seker al wat sy wou doen. Rus in vrede liewe kind xx

E.K. ·

‘n Kind se dood verander dinge in ‘n gesin en die routydperk maak soms dat mense amper verby mekaar leef omdat hulle so gefokus is op hul seer. Dan kom daar baiekeer ander probleme want mense weet nie hoe om dinge te verwerk nie. Ek hoop REGTIG die gemeenskap staan die mense by en ek hoopEk bid hul regtig baie baie sterkte toe. Mens kan dit nie alleen doen nie, ek wens so ek kon hul kontak. Soms wil hul net ‘n oor hê wat regtig luister.

Madelyn ·

Ek kan my nie indink wat hierdie ouers en boeties deurgaan nie, dis so verskriklik tragies! Mag Jesus julle styf vashou in hierdie tyd.

Vicky ·

Ek glo nie mense besef die trauma van die gesin nou nie. Om te bespiegel dat die kindjie 6 is en alleen huistoe geloop het, HOE DURF JY ? Die ouers het tien teen een gedink die kindjie is nog by haar maat, of hulle woon n kat spoeggie uitmekaar, n mens kan nie al wil jy hoe graag jou kind 24 uur 7 dae n week dophou nie. Sterkte aan die gesin, my klein lief kindjie was 10 en het reg langs haar 2 ouer broers verdrink.

Menine Botha ·

Ek vra maar uit onkunde, is dit wet dat n swembad altyd n net moet ophe, al het jy self nie kinders nie. Sodoende kan iemand anders se kind nie per ongeluk in jou erf beland en in jou swembad verdrink nie?

jemma ·

ek dink nie dit is so maklik om ñ swembad 24/7 te bedek nie. My kinders is op ñ warm dag heeldag in en uit ons swembad…om elke keer eers die net op te sit is in so geval onprakties want dit vat bitter lank, kinders sal nou induik ñ halfuur speel, iets gaan eet en nou nou weer induik.So ek weet nie?

sarie ·

dis so hartseer en dit is onbeskryflik, die dood van jou kind, jy vat dit dag vir dag. geen een weet wat dit regtig is voor jy nie self daar is nie, my 2jarige kleinseun en sy pa 5 april oorlede in motorongeluk, daar gaan nie een dag verby wat die gebeure nie afspeel in jou gedagte, die dood van jou kind is nie iets wat oorkom word nie, al wat ek weet is dat tyd die skok,ongeloof ens sagter maak, maar vergeet en oor dit kom ? nooit , die berusting kom en dis deel van die tyd wat alles sagter maak, sterkte aan die familie, woorde maak geen verskil nie, net gebed en tyd. mens weet nie wat om te se nie

Tanya ·

Mag die Here U seer hart ook vertroos, tannie Sarie. Stertke.

Celia ·

Hierdie week op RSG se “Wat se die prokureur” duidelik gehoor dat daar is wette in plek, alle swembaddens moet omhein wees, of toegemaak en die erwe ook rondom n swembad.
Moenie kritiek lewer nie? n Lieflike dogtertjie se lewe is weg omdat grootmense nie dinge reg doen nie. Hoeveel nog?

Alki ·

Dit is nou maar een ding, water trek ‘n kind soos ‘n magneet

Rina ·

Vir seker behoort n swembad nie vanaf die straat bereikbaar wees vir n kind nie?

Cherise ·

Ek lees so na almal se kommentaar en ek stem saam dat ‘n swembad beveilig moet word. Het iemand al gedink hoe die eienaar van die swembad voel? Hulle was nie tuis nie en om die volgende oggend ‘n kind se lyk in jou swembad te vind? Ek sal van my kop af gaan. Sterkte aan al die betrokke partye. RIV liefie.

ken van benoni ·

Ek wil nie veel sê nie, net “Celia, Celia nie so kras nie”!
Simpatie aan aldie betrokke partye. Sterkte vir almal.

Gideon ·

Ek lees nog die kommentaar van bo a f en dink nogal by myself….hoe mooi….niemand lewer enige negatiewe kommentaar nie…..maar ag ja…..hoe verder af, hoe erger !!! Ja….’n net en ja ‘n heining…..en en en…..dit gaan mos nou oor die kleinding en ouers se rou….die arme eienaars van die swembad ook. Alles in ons lewens is nie perfek nie en ons kinders kan nie in glaskassies bly nie…..die Here het besluit. Ons verstaan dit nie altyd nie en dit maak ons kwaad…..maar ons vind vertroosting in die rondom ons wat ons ondersteun en bystaan……so kom ons los nou maar die wet vir dit en die wet vir daardie…..dis onvanpas !!!! Alle sterkte vir almal betrokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.