Oorsaak van ontploffing by Kaapse winkelsentrum bekend

Foto: Verskaf.

Die polisie in die Wes-Kaap het laat hoor dat hulle die omstandighede rakende die ontploffing Donderdagmiddag by ʼn restaurant in die Gardens-winkelsentrum in Tuine, Kaapstad, ondersoek.

Die ontploffing het Donderdag omstreeks 15:00 in die Pulp Kitchen-restaurant in dié winkelsentrum plaasgevind.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê agt mense is in die voorval beseer, onder wie ses vroue en twee mans. “Daar is tot dusver geen sterftes aangemeld nie.”

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911 wat op die toneel was, het egter aan Maroela Media gesê nege mense is tydens die voorval beseer. Daar was volgens hom verskeie nooddienste op die toneel teenwoordig.

“Nege mense is beseer toe ʼn vermoedelike gaslekkasie by ʼn restaurant ʼn ontploffing veroorsaak het.”

Volgens Herbst is twee volwassenes in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

“Sewe ander volwassenes het ook brandwonde opgedoen en is deur verskillende nooddienste na hospitale geneem.”

Die Gardens-winkelsentrum het Donderdag in ʼn verklaring op sy amptelike Facebook-blad gesê hy betreur die voorval op die eerste verdieping waarin verskeie werknemers beseer is.

Foto: Verskaf.

“Om nooddienste kans te gee om hul werk te doen en ekstra versigtig te wees, sal die sentrum vandag [Donderdag] gesluit bly.” Die sentrum het wel bygevoeg dat winkeleienaars toegang tot hul winkels sal verkry sodra nooddienste toestemming gee.

Hulle het medelye betuig met die beseerde werknemers.

Maroela Media het vroeër berig Theo Layne, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het Donderdag aanvanklik gesê vyf mense is beseer tydens die ontploffing.

Layne het Vrydag aan Maroela Media gesê hy neem kennis dat meer mense beseer is. “Ek verneem daar is sowat nege mense beseer. Wat ek kan bevestig, is dat ons vyf mense behandel het. ʼn Mens moet onthou, daar was byna vyf verskillende nooddienste op die toneel en dit is moeilik om dinge tussen die klomp te koördineer.”

Layne het bevestig die brand het sy oorsprong weens ʼn gaslekkasie in die kombuis gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.