Oorsaak van pikkies se dood bekend

Dooie pikkewyne van die Boulder-pikkewynkolonie is Vrydagoggend gevind. (Foto: SANParks Table Mountain National Park/Facebook)

Die 63 Afrika-pikkewyne van die Boulder-pikkewynkolonie by Simonstad in die Wes-Kaap het toe weens bysteke gevrek. Die pikkewyne het tussen Donderdagmiddag en Vrydagoggend gevrek en ʼn nadoodse ondersoek het gewys van die pikkewyne het tot 20 bysteke opgedoen.

Omgewingsbewaarders meen dié vrektes is ʼn groot slag vir die bewaring van Afrika-pikkewyne, wat reeds op die lys van bedreigde spesies is.

Volgens Rey Thakhuli, woordvoerder van SANParke, bestaan die moontlikheid dat die pikkewyne die bynes versteur het en daarna deur die bye aangeval is.

Ronnis Daniels, hulpbronontwikkelingsbestuurder van die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sanccob), sê die pikkewyne was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Maroela Media het vroeër berig die dooie voëls is Vrydag na Sanccob geneem vir nadoodse ondersoeke. Biologiese monsters is ook geneem wat vir siekte- en toksikologiese toetse gestuur is.

Tydens die outopsies is bevind dat die pikkewyne veelvuldige bysteke opgedoen het. Geen ander wonde of bytmerke is gevind nie.

Talle dooie bye is ook op die plek waar die pikkewyne gevrek het, gevind.

Dr. David Roberts, ’n kliniese veearts van Sanccob, het gesê veldwagters sal die pikkewyne se neste in die omgewing monitor om eiers wat pikkewyne voor hul dood gelê het, te red.

Roberts sê die verlies van meer as 60 gesonde en volwasse Afrika-pikkewyne is ’n groot slag vir die Boulder-kolonie omdat die spesie reeds bedreig is. Daar is slegs 10 300 broeipare in Suid-Afrika oor.

Volgens dr. Katta Ludynia, navorsingsbestuurder by Sanccob, is meer as 40 000 broeipare (80 000 volwasse pikkewyne) die afgelope 20 jaar verloor.

“Die grootste bedreigings vir Afrika-pikkewyne is die gebrek aan voedsel, toenemende skeepsverkeer, oliestorting en besoedeling, klimaatsverandering, uiterste weersomstandighede, siektes en predatore,” sê Ludynia.

“Slegs ongeveer ’n derde van alle kuikens sal hul eerste jaar op die see oorleef.”

Ludynia sê Sanccob werk nou saam met die regering en die bestuursowerhede om die risiko vir pikkewyne, op see en in die broeikolonies, te verminder en rehabiliteer jaarliks honderde beseerde Afrika-pikkewyne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Pikkewyne is so oulik! Hierdie is ‘n regtige hartseer storie. Wonder of iemand die swerm bye tussen pikkewyne losgelaat het, hoe anders kon bye daar uitkom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.