Oorsaak van plaasbestuurder se dood bekend

Donald en Mimi Haasbroek. Foto: Facebook

Donald Haasbroek (66), die plaasbestuurder van die Geelhoutboom-omgewing buite George wat Vrydagoggend dood in sy huis aangetref is, het aan ʼn massiewe hartaanval gesterf.

Mimi Haasbroek, Donald se vrou, het Woensdag aan Maroela Media gesê die oorsaak van sy dood is deur ʼn nadoodse ondersoek bevestig. “Ons weet nou daar was geen gemene spel betrokke nie en sy dood was natuurlik. Dit gee ons groot gemoedsrus om dit te weet,” het Mimi gesê.

Maroela Media het vroeër berig plaaswerkers het Vrydag op Donald se liggaam in sy badkamer afgekom nadat hy nie vir werk opgedaag het nie. Volgens Mimi het Donald haar Donderdagoggend baie vroeg by die bushalte gaan aflaai, omdat sy saam met die Suid-Kaapse kinderkoor na Kaapstad gereis het om ʼn Belgiese kinderkoor daar by die lughawe te ontvang.

Sy het gesê ʼn werker van die plaas het haar Vrydag gebel om te sê Donald het nie Donderdagmiddag by die stalle opgedaag soos gewoonlik nie en ook nie Vrydagoggend vir werk nie. “Ek het dadelik vir hom gesê daar is fout, hy moet gaan kyk,” sê Mimi. Dit is toe dat Donald se liggaam in die badkamer aangetref is.

“Ek vermoed hy is huis toe om sy stalklere te gaan aantrek toe hy die hartaanval gekry het. Sy televisie was aangeskakel en sy selfoon het nog by die bank gelê waar hy altyd gesit het,” het sy gesê. Die polisie is ontbied om die omstandighede rakende Donald se dood te ondersoek, maar daar was geen teken van inbraak of enigiets wat uit die huis vermis word nie.

Volgens Mimi het Donald verlede jaar ook ʼn hartaanval gehad, maar dit eers besef toe hy die volgende dag dokter toe gegaan het. Hy het kort daarna ʼn operasie ondergaan om ʼn stent in sy hart te laat sit. “Sedertdien was hy baie gesond, hy het geoefen en gesond geëet. Ons het gereeld sy bloeddruk getoets en dit was ook altyd goed. Hierdie hartaanval was baie onverwags.”

Donald word oorleef deur drie seuns, drie skoondogters en drie kleinkinders. ʼn Gedenkdiens sal volgende week uit die NG kerk Drakenstein in die Paarl gehou word.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê daar word nog gewag vir die finale verslag van die nadoodse ondersoek. “In dié stadium kan ek bevestig dat geen gemene spel vermoed word nie en dat ons voorlopige ondersoek daarop dui dat hy aan natuurlike oorsake dood is. So, volgens alle aanduidings sal die saak afgesluit word sodra die verslag van die nadoodse ondersoek ontvang is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

al ·

Dankie tog daar was geen gemene spel nie en dat hy natuurlik dood is.
Sterkte aan sy geliefdes.

Jeannette ·

Dankie dat die Oom ten minste nie vermoor is nie. Dit is baie hartseer natuurlik vir sy vrou, kinders en onmiddellike stel vriende en familie. 22 jaar gelede is my Pa, ook ‘n hartlyer, net so skielik in sy slaap oorlede. Sterkte aan die tannie, die seuns en res van die gesin en vriendekring.

john samuel ·

Ek wil nie onsensitief klink nie – maar dit is werklikwaar a raare verskynsel!! N Boer in Suid Afrika wat aan natuurlike oorsake die Hiernamaals ingaan….
Medelye aan die Haasbroek Familie..

Magda ·

Nie lekker om te lees van sy dood nie – maar lekker om te lees dat dit nie NOG n Plaas moord was nie – Sterkte aan sy Familie.

CQ ·

…nou sluk almal wat MOORD geskree het in vorige berig seker aan hul woorde…

Al wat ek wonder is waarom sy vrou nou so dankbaar is dis natuurlike oorsaak en nie vuilspel….
Het ek iets in die berig gemis? Waar was sy?

Weduwee ·

CQ, want dit is makliker om daarmee te “deal” as iemand aan natuurlike oorsake doodgaan. Daar is nie woede en kwaad teenoor ‘n derde party nie. Dit beteken hoegenaamd nie sy het iets met sy dood te doen nie, as dit dalk is wat jy insinueer.

Gladnie! ·

Weduwee, gladnie eens gedink in daai rigting nie. Net geonder hoekom sy vuilspel sou vermoed as sy tuis was en gesien het hy val in mekaar van hartaanval…. Dan kon sy tog vir die polisie gesê het. My man het inmekaar gesak en kon n hele ondersoek dalk nie nodig gewees het nie..?Of was sy nie tuis nie?
Dis al wat ek wou weet

Semaar net ·

Gaan lees die berig weer. Hy het haar vroeg die oggend gaan aflaai…daana is hy huistoe om ander klere te gaan aantrek om sy dag by die stalle te begin en dis toe dat hy nie vir sy dag opgedaag het nie…Sterkte vir die gesin, familie en vriende…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.