Oorsaak van Potch-hoërskoolbrand nog nie bekend

Die gebou in puin. Foto: Aldus Smith

Die gebou in puin. Foto: Aldus Smith

Die ondersoek duur voort na die oorsaak van Donderdagoggend se brand by die Hoër Tegniese Skool op Potchefstroom waarin die skool se historiese administratiewe gebou verwoes is.

Lee-Roy Pretorius, woordvoerder van die Tlokwe-brandweer, het Vrydag aan Maroela Media gesê kenners is steeds besig om die oorsaak van die brand te ondersoek.

“Die gebou wat gefynkam word [vir leidrade] is nogal groot en dit is moeilik om te bepaal hoe lank die ondersoek sal duur, maar ons behoort teen volgende week meer wys te wees. In dié stadium kan ons nog nie ʼn voorlopige oorsaak identifiseer nie,” het hy gesê.

Intussen het die plaaslike gemeenskapskoerant, Potchefstroom Herald, berig die oorsaak is vermoedelik ʼn kortsluiting.

Maroela Media het Donderdag berig brandbestryders het in die vroeë oggendure nagenoeg twee uur lank gespook om die brand in bedwang te bring.

Die brandweer is omstreeks 03:20 na die skool ontbied en met hul aankoms was die 113 jaar oue administratiewe gebou in ligte laaie.

“Die administratiewe gebou is losstaande van die res van die skool en bestaan onder meer uit die ontvangskamer en ʼn paar kantore, waaronder die hoof se kantoor. Dié gedeelte is in die brand verwoes,” het Pretorius toe gesê.

Die brand is omstreeks 05:30 in bedwang gebring en brandbestryders kon keer dat die brand na die personeelkamer, biblioteek en res van die skool versprei. Die meerderheid van die skool se argiewe kon darem gered word, hoewel van die argiewe waterskade opgedoen het.

Niemand is tydens die voorval beseer nie en die brand het nie skoolverrigtinge ontwrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Dis sker ma die eff want waar hulle is beand dit …breek en brand net bou niks op nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.