Oorsaak van tehuis-inwoner se dood ná inbraak bekend

(Foto: SA Police Service/Twitter)

Jeanette van Wyk (83), wie se liggaam die afgelope naweek ná ʼn inbraak in haar woonstel by die Silwerjare Tehuis vir Bejaardes in Schweizer-Reneke gevind is, is aan ʼn hartaanval dood.

Maroela Media het vroeër berig personeel van die tehuis het onraad gemerk toe Van Wyk nié Sondagoggend op die gebruiklike roepradio gereageer het nie. Hulle het na haar gaan soek en die woonstel deurmekaar en met ʼn gebreekte ruit aangetref. Hulle het op Van Wyk se lewelose liggaam afgekom. Daar was geen sigbare beserings aan haar liggaam buiten bloedspatsels om haar mond nie, het kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, gesê.

Die boewe het ʼn sak vol kruideniersware gepak, maar is blykbaar deur iets die skrik op die lyf gejaag aangesien hulle sonder die sak gevlug het. In dié stadium blyk dit dat net Van Wyk se selfoon gesteel is.

Die dief of diewe het die pallisadeheining van die terrein oopgebuig en daarna by Van Wyk se woonstel ingebreek.

Luidens ʼn verklaring van die tehuis is ʼn moordondersoek aanhangig gemaak.

“Die uitslae van die polisie se dienste vir forensiese patologie het op 9 September bevestig dat ʼn hartaanval tot haar dood gelei het. Die ondersoek duur voort en die bestuur van die tehuis wil die polisie bedank vir hul flinke en professionele hantering van die ondersoek tot dusver.

“Hoewel daar wel maatreëls ingestel is om die inwoners te beveilig, word die veiligheidsplan van die tehuis tans hersien. Aanbevelings van kundiges word ingewin om sekuriteit te verbeter om sodoende die veiligheid van inwoners te verseker,” het die tehuis gesê.

Die tehuis het ook gesê  Van Wyk se dood was ʼn geweldige skok vir die personeel en inwoners en is steeds uiters traumaties vir hulle.

Die tehuis is deel van die NG Kerk se welsynsafdeling.

NG Welsyn en die tehuis het hul medelye met Van Wyk se kinders, Chris, Johan en Hannelie, asook haar kleinkinders en vriende betuig.

Die polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word om vas te stel of die moordondersoek laat vaar gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Geskok ·

Nee die moordondersoek kan nie laat vaar word nie.
As gevolg van die inbraak het sy ‘n hartaanval gekry. Dit het haar so ontstel.
Moontlik die hartaanval wat die diewe so die skrik op die lyf gejaag het.
Kom nou polisie, hou jou lyf bietjie speurder en dink aan moontlikhede.
Nou wil hulle seker die leêr sluit : Sterf agv natuurlike oorsake.

Eunice ·

Jaaa…regtig SILWERJARE TEHUIS SCHWEIZER RENEKE júlle sal moet ERNSIG planmaak nou!!
Eers is tannie Annatjie Niewoudt dáár vermoor en NOU tannie Jeanette!!!
Die bejaardes,betaal ten duurste om daar te kan inwoon,SORG DAT JULLE BEJAARDES VEILIG IS TEN MINSTE, dis die mimste wat julle as TEHUIS kan doen, eerlikwaar!!!
RUK JULLE SEKURITEIT NOU REG EN BEVEILIG JUL BROOD EN BOTTER!!

JR ·

Dit is die werk van lafaards om oumense en kinders as hulle slagoffers uit tesoek hier by ons moes n hele ouetehuis sluit as gevolg van krimenele sterkte aan haar familie en vriende

Koos de Meyer. ·

Ek het nie geweet ‘n hart aanval gee bloed om die mond nie.

Nettie ·

@Koos de Meyer – dit kan seker. Die tannie kon haar lip of tong raakgebyt het toe sy die aanval gekry het. Maar laat ons tog sensitief wees hier en nie spekuleer oor hoe wat, wanneer, waar en waarom gebeur het nie? Haar vriende, familielede, gesinslede en kennisse lees ook hier!

Sinoniem ·

Eerste keer dat ek hiervan lees myself…. klink eerder of hul dinge wil toe smeer.

Rubber ·

Elektriese heining wat met ‘n alarm werk vind ek is’n groot afskrik middel. Die gewone ANC matriek kwalifikasie en elektrisiteit gaan nie saam nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.