Oorsaak van vermiste Paarl-man se dood bekend

Elmar Knoetze (Foto: Verskaf)

Die liggaam wat vroeër vandeesmaand deur stappers op Paarlberg in die Wes-Kaap aangetref is, was toe wel dié van die vermiste Elmar “Faffa” Knoetze.

Ronel Bence, ʼn familievriend, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Bence sê die familie het “hoop verloor” nadat ondersoekspanne sommige van Knoetze, wat instandhoudingswerk vir KWV gedoen het, se persoonlike items, soos onder meer sy bril, op die Paarlberg aangetref het.

Sy sê Knoetze se vrou, Tania, en twee kinders, onderskeidelik ses en 12 jaar oud, is “stukkend” oor sy afsterwe. “Sy gesin het sedert sy verdwyning deurlopend hoop gehad dat hy op ʼn dag net weer by die huis sou instap. Nou is dit finaal; daar is geen meer hoop nie,” sê sy.

Volgens inligting van die polisie en die lykskouing blyk dit asof Knoetze tydens sy staptog op die berg “per ongeluk gegly en geval het”. “ʼn Mens sal uiteraard nooit presies kan weet wat gebeur het nie,” sê sy. “Al wat aan ons bekend is dat hy gaan stap het, gegly en na sy dood geval het. Dit is nog nie duidelik of hy op slag dood is en of hy eers later dood is omdat hy nie hulp kon ontbied nie.”

Bence sê die uitslae van van die lykskouing bring tog vir die familie ʼn mate van afsluiting. “Hulle kan nou begin om sy dood te verwerk sonder die onsekerheid wat hulle vir die laaste paar weke agtervolg het,” sê sy.

Knoetze se werkgewer het intussen sy dood in ʼn e-pos aan sy kollegas bevestig. In die e-pos het sy werkgewer hom as ʼn sagte en goedhartige mens beskryf. “Dit is met groot hartseer dat ons jou in kennis stel van die ontydige dood van Elmar Knoetze (aan sy vriende en kollegas beter bekend as Faffa). Hy sal onthou word as iemand wat sy kennis [oor die bedryf] met passie gedeel het en was altyd iemand wat gereed was om te help wanneer iemand hulp benodig het.

“Hy het ʼn wonderlike sin vir humor gehad en sou altyd terwyl hy gewerk het gesing het: ‘Ons gaan braai vanaand!’ Hy het elke oggend met gebed geopen voordat die dag se verantwoordelikhede begin het. Hy was betroubaar en sy positiewe houding jeens sy kollegas was een van sy wonderlikste eienskappe. Rus in vrede, Faffa, jy gaan vreeslik gemis word.”

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die uitslae van die lykskouing afgehandel is en aan die familie oorgedra is.

Bence sê die Knoetze-familie wil weldoeners vir hul ondersteuning en boodskappe van bemoediging bedank oor die laaste paar weke. “Ons wil namens sy gesin almal bedank vir al hul ondersteuning, mooi woorde, boodskappe, en ook diegene saam gebid het. Ons is ook dankbaar vir almal se moeite en dié wat help soek het na hom.”

Maroela Media het vroeër berig die 45-jarige Knoetze het op 29 Maart onder raaiselagtige omstandighede verdwyn. Knoetze het volgens Bence op die dag van sy verdwyning sy huis verlaat om te gaan stap.

Bence het vroeër aan Maroela Media gesê Knoetze was volgens kringtelevisiebeeldmateriaal om 06:00 (28 Maart) vinnig by ʼn winkel van ʼn plaaslike vulstasie in om sigarette te koop en is om 07:00 weer op die Langenhovenweg, in die rigting van die Du Toitskloof-berg, opgemerk.

Die polisie het sedert sy verdwyning geen leidrade oor sy vermisraking gehad nie. Nadat ʼn liggaam op 12 April deur stappers op Paarlberg aangetref is, het die Wes-Kaapse polisie bevestig dat ʼn lykskouing gehou sal word om vas te stel of die liggaam wel dié van Knoetze is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is ‘n hartseer dag en einde vir die Knoetze familie en om sulke afsluitings nuus te ontvang oor jou Eggenoot en Pa van jong kindertjies. Alle simpatie aan hierdie gesin, familie, vriende asook kollegas en wens jul almal alle sterkte toe met jul groot verlies asook gedurende die routydperk. RIV Faffa.

Genoeg ·

Kring televisie het aangedui dat hy in die rigting van Du Toitskloof gestap het en sy liggaam word op Paarlberg ontdek na 15 dae? Iets rym hier glad nie of is ek nou onnodig suspisieus?

Nogal ·

Genoeg:
Ek Stem volkome saam met jou ….hoe werk daai stap en rigting, maak mos nie sin??

Genoeg ·

Iewers maak iets nie sin nie. Hy is laaste op kring televisie gedien terwyl hy in die rigting van Du Toitskloof gestap het en sy liggaam word 15 dae later op Paarlberg gevind? Hoekom is van sy persoonlike artikels soos onder meer sy bril nie by hom gevind nie, maar iewers op Paarl Berg? Iewers wil dinge glad nir rym nie

Buitestander ·

Sterkte aan familie en vriende met die afsterwe. Vertrousting word julle te gebid.
Af is dit verdagte omstandigheid sou daar omgeruimdhede was kan die persone nie rus vinf nid.

cb ·

Die waaroms en hoekoms, sal onbeantwoord bly, simpatie aan die famielie en naasbestaandes, die waarheid sal wel uitkom. Sterkte

Oom Piet ·

Shoe Gerrit, nie goed nie…
Faffa se geliefde gesin, familie, vriende en kollegas berus daarin dat Faffa in die skoonlug natuur met liefde denke aanvaarding, in vrede hemel toe is.

Egbert ·

Struikrowers floreer op Paarlberg. Dalk was hy ‘n slagoffer….

Nettie ·

Maroela Media, dalk kloof ek hare oor kleinighede, maar ………

Langenhovenpad …. – dit is LangenhovenWEG in die Paarl en
KWV was mnr. Knoetze se WERKGEWER, nie WERKNEMER, soos aangedui in par. 7 van u berig nie.

Sterkte aan me. Knoetze en die twee kindertjies!

Tania Heyns ·

Dagsê Nettie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

Gesiggie ·

So jammer vir die Hartseer… mag God jul bystaan in die tyd van hartseer… Weet enige iemand dalk of daar al nuus is van die meisie Marie Ostbo wat vermis geraak het, soos berig 20 April? het nog geen opvolg gelees… soos die Familie bekommerd was, maar nou weet wat gebeur het, kan ek net dink wat die meisie se familie moet deurmaak… hoop dat daar goeie nuus sal wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.