Oorsaak van voëlvrektes in die Oos-Kaap bekend

‘n Dooie duif is op die gras aangetref (Foto: Verskaf)

Toetsuitslae het bepaal dat die groot aantal vrektes onder voëls twee weke gelede in die Buffalo City-metrogebied in die Oos-Kaap, deur virusse veroorsaak is.

Maroela Media het op 7 April berig dat ongeveer 76 dooie voëls in twee weke se tyd in Qonce (King Williams Town) aangemeld is, gevolg deur 27 in Oos-Londen, vier in Berlin, drie in Stutterheim en een in Queenstown. In die meeste gevalle was die dooie voëls duiwe.

Volgens die Oos-Kaapse se departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming het die Oos-Kaap se staatsveearts karkasse na laboratoriums in Komani, Queenstown en Pretoria vir toetse gestuur om die oorsaak van die voëlvrektes te bepaal. Die toetse het vasgestel dat die voëls positief vir die paramiksovirus en psevdochum (Newcastle-siekte) getoets het.

“Veeartse het ʼn patroon gevind wat daarop dui dat duiwe in siklusse van vier jaar baie vatbaar vir die paramiksovirus raak.”

Die paramiksovirus en Newcastle-siekte is virusinfeksies wat onder pluimvee en ander voëlspesies voorkom en respiratoriese siektes veroorsaak. Dit kan vinnig versprei. In die geval van die paramiksovirus, word duiwe gewoonlik erg siek of vrek sodra hulle die virus opgedoen het. Die virusse kom ook wêreldwyd algemeen in die meeste lande voor.

Volgens die departement kan pluimvee ook die virusse aansteek, maar daar is tans nog geen gevalle in die provinsie aangemeld nie. Mense kan ook met die virus besmet word, maar kom slegs in rare gevalle voor wanneer mense in baie noue kontak met besmette voëls gekom het.

In die geval van die paramiksovirus, is van die simptome wat besmette voëls kan toon lusteloosheid, braking, groen diarree, die onvermoë om te vlieg, ʼn verlies aan balans, disoriëntasie, vlak asemhaling en tranerige oë. Besmette voëls kan binne drie dae na besmetting vrek.

Die paramiksovirus kan deur ontlasting oorgedra word. Daar is ook geen spesifieke behandeling vir die virus nie.

Die departement raai boere en mense wat voëls besit aan om die volgende veiligheidsmaatreëls in te stel:

  • Hou voëlhokke en -kampe skoon.
  • Ontsmet toerusting wat gebruik word om voëls te voer of hokke skoon te maak.
  • Hou voëls weg van gebiede waar wilde voëls is.
  • Vermy dit om nuwe voëls met ʼn onbekende siektetoestand in die voëlkudde in te bring.
  • Hou nuwe voëls eers in kwarantyn vir twee weke.
  • Beheer toegang van mense en toerusting tot pluimveehokke of -kampe.
  • Maak seker jou voëls is teen die virusse ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PersHeks ·

Ek is seker dat dieselfde virus in Centurion ook is … het nou al ‘n hele paar dooie voëls in ‘n kort tydperk opgemerk.

Piet parys ·

Self die voël spesies is oorbevolg dus al die siektes wat die wereld tot stilstand dwing.

Sanet ·

Het een hier aan die Oos Rand in Gauteng in my tuin gehad, simptone baie dieslfde gewees soos hier gemeld. Hy het heeltyd al in die rondte gedraai en probeer vlieg, ek het maar water en kos neergesit maar tevergeefs aan die einde van die dag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.