Oorsese paartjie op staproete beroof

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

ʼn Buitelandse paartjie is Maandag in die Wildernis-gebied van die Tuinroete Nasionale Park aangeval.

Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van SANParke, het gesê die Duitse paartjie is omstreeks 14:30 op die Brown-Hooded Kingfisher-staproete aangeval.

Die paartjie is van al hul waardevolle items beroof terwyl hulle op dié roete gestap het. “SANParke en die polisie het onmiddellik gereageer en na die verdagtes, soos deur die slagoffers beskryf is, begin soek.” Die paartjie sal traumaberading ontvang.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die paartjie was op pad terug van die staproete toe die voorval plaasgevind het. “Drie gemaskerde mans het hulle oorval, twee was met messe gewapen. Die paartjie is van ʼn kamera, hul horlosies, ringe en ander juweliersware asook ʼn aansienlike bedrag kontant beroof,” het Pojie gesê.

Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug. “Hulle is nie beseer nie, maar erg getraumatiseerd. Hulle het gister na Port Elizabeth vertrek en van daar na Kaapstad en is toe terug na die buiteland, so dis moeilik om hulle in die hande te kry.”

Die man is 54 jaar oud. Pojie kon nie onmiddellik die vrou se ouderdom bevestig nie.

SANParke het die hoeveelheid patrollies op die roete verhoog en skakel met die Wildernis-polisiëringsforum.

Hulle het alle besoekers gemaan om nie waardevolle items soos juwele, kameras en selfone sigbaar te maak nie. Die Brown-Hooded Kingfisher-staproete is sowat 5 km lank.

Die polisie ondersoek ʼn saak van roof.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan sers. Enrico Beukes by 044 8034 715 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

leser ·

gaan “iemand” ooit die verdagtes kan opspoor, dit is sulke voorvalle wat maak dat suid afrika vermy word

Adriaan Swart ·

Dit is vir my pateties dat die polisie vra dat kameras nie sigbaar vertoon moet word op ‘n staproete nie.
Die gebruik van drone is dalk iets waarvan Sanparke en die Polisie nog moet leer vir patrolering. Een drone vervang n paar patrolies en is baie meer effektief.

Max ·

Mooi man, net die regte manier om SA die middelpunt van wêreld toerisme te maak.

Theresa ·

Nee wat, as mens nie jou kamera kan saamdra waar dit vir jou gemaklik is as jy stap nie – stap ek sowaar iewers waar dit wel so kan werk.
Komaan, Suid-Afrika – die krimineel moet oppas, nie die wegsgehoorsames nie!!!

Paul ·

Watter toeris wil nou so ‘n staproete doen sonder ‘n kamera? As die staproetes nie veilig is om te stap met ‘n kamera nie dan moet daar waarskuwings by die beginpunte aangebring word wat duidelik aandui dat die staproete onveilig is en liewers vermy moet word, asseblief.

Cherokee ·

Daardie waarskuwings waarvan jy praat behoort by die hoofhek waar Suid Afrika binnegestap word, te wees.

Korreksie ·

Maroela

Dis nie juis belangrik nie maar ek merk op dat ander koerante berig dis ‘n Nederlandse paartjie, nie Duits nie – het julle nie dalk per abuis “Dutch” na “Duits” vertaal nie?

Landi Slatter ·

Dagsê Korreksie

Baie dankie vir jou kommentaar. Die boodskap van SANParke het aangedui dat dit ‘n “Dutch couple” was soos jy sê. Die polisie het egter laat hoor dat dit inderdaad ‘n Duitse paartjie was, ons het die inligting twee keer met hulle bevestig. Ons het dus besluit om by die amptelike inligting van die polisie te hou.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Geliefd ·

Ons het Desember daar gestap. Ek was self onrustig. Dit is ‘n baie besige tyd v d jaar, maar tog was dit baie stil die heletyd. Ons het die roete en natuur baie geniet, maar in my agterkop was ek tog waaksaam. Daar is baie baie duidelike aanduidings voor die roete begin, waar hulle vra, stap eerder in ‘n groep as in ‘n paar of selfs alleen. Ek glo die toeriste is verseker dopgehou.

Welcome ·

‘Welcome in SA, did you leave all your belongings at home’?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.