Oorskot in vlak graf dalk dié van vermiste plaasman

Michael Andrews (66). Foto: Facebook

Michael Andrews (66). Foto: Facebook

Die ontbinde oorskot van ʼn mens, vermoedelik dié van ʼn man wat op ʼn plaas gebly en in November spoorloos verdwyn het, is Maandag in ʼn vlak graf in ʼn beboste gebied gevind.

Michael Andrews (66), ʼn ongetroude verkoopsman wat op ʼn plaas in die Paddock-omgewing, wes van Port Shepstone in KwaZulu-Natal, gebly het, is op 24 November die laaste keer lewend gesien. Sy naasbestaandes het ʼn vermistepersone-saak by die Paddock-polisie aanhangig gemaak.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die oorskot is tydens ʼn moordondersoek ontdek ná ʼn gesamentlike poging deur die Port Shepstone-polisie se soek-en-reddingseenheid en speurders van die Paddock-polisie.

“Twee mans, onderskeidelik 24 en 27 jaar oud, is tydens die ondersoek geïdentifiseer. Hulle het die vlak graf aan die polisie in ʼn beboste gebied in die Paddock-omgewing uitgewys, waarin die oorskot van ʼn mens gevind is. Die oorskot is vermoedelik dié van iemand wat in November verlede jaar as vermis aangemeld is.”

Mbhele het gesê daar sal DNS-ontleding op die ontbinde oorskot gedoen moet word om die identiteit van die oorledene te bevestig.

Die twee mans, vermoedelik broers, is in hegtenis geneem op aanklag van moord en moet Woensdag in die hof verskyn. Gesteelde goedere is in hul besit gevind en die polisie het daarop beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus 4e ·

MM het julle die berig gelees voordat julle dit geplaas het?

Skim ·

Skokkend, baie jammer oor julle groot verlies, ek hoop sy naasbestaandes kry darem nou ‘n mate van ‘closure’ om te weet waar hy is, en nie net dat hy weg is nie. Jammer vir nog ‘n onsinnige moord op ‘n blanke waaraan die regering hulle nie steur nie.

Mossie ·

Die woord “plaasman” maak glad nie sin in hierdie opskrif nie,dit maak net mense warm onder die kraag,gebruik plaas inwoner of iets aanvaarbaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.