Oorskot uit Limpopo-begraafplaas gesteel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Nick Fewings/Unsplash)

Die polisie in Limpopo ondersoek tans ʼn ongewone saak nadat oorskot uit ʼn plaaslike begraafplaas in Mokwakwaila in Polokwane gesteel is.

Wat die saak nog vreemder maak, is dat die gesteelde liggaam al meer as ʼn jaar gelede begrawe is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê ʼn familielid van die oorledene het Sondag die begraafplaas besoek om die gebied voor te berei vir die onthulling van die grafsteen. Die oorledene se familie sou almal vir die geleentheid by die begraafplaas byeenkom.

“Sy het egter met haar aankoms gevind dat die graf oopgegrawe en die oorskot gesteel is,” sê Mojapelo.

“Sy het toe familielede van die voorval in kennis gestel en die polisie is na die toneel ontbied.”

Die betrokke polisiebeamptes het op hul beurt ook bevind dat die kis oopstaan en leeg is.

Die polisie se voorlopige ondersoek na die saak dui daarop dat ʼn onbekende aantal verdagtes die begraafplaas binnegekom het deur ʼn deel van die omheining oop te sny.

“Hulle het toe ʼn gat langs die graf gegrawe om toegang tot die kis te kry en die oorskot gesteel.”

Die oorledene is intussen geïdentifiseer as Modike Philemon Masedi. Hy is verlede jaar op 15 Januarie dood en is sewe dae later begrawe.

Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die motief vir die voorval is onbekend.

Die polisie ondersoek die grafskending en diefstal van die oorskot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Wat sal hulle nie NOG aanvang in die land nie. Gun nie eers die dooies enige rus nie. Sprakeloos!

Lillian ·

Wat is aan daai lyk wat hulle wou hê? En wat wil hulle daarmee maak?

Nico ·

Die groot oorsaak is die Sangoma’s en die toordokters, hulle is nie mense met verstand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.