Oorskot van gesneuwelde soldate na SA gerepatrieer

Familielede het Woensdagmiddag bedroef toegekyk hoe die liggame van Kapt. Simon Mkhulu Bobe en o.kpl. Irven Thabang Semono, gedrapeer in die Suid-Afrikaanse vlag, deur hul kamerade gedra word. (Foto: Marco Longari/AFP)

Die liggame van twee Suid-Afrikaanse soldate wat in ʼn mortieraanval in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gesneuwel het, het Woensdag in die land aangekom te midde van omstredenheid oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se ontplooiing in die oorloggeteisterde land.

Kapt. Simon Mkhulu Bobe en o.kpl. Irven Thabang Semono is verlede Woensdag dood toe ʼn mortierbom binne-in een van die basisse beland het. Albei soldate was verbonde aan 1 SA Infanterie-bataljon en was saam met 2 SA Infanterie-bataljon tydens hul dood ontplooi.

Familielede het Woensdagmiddag bedroef toegekyk hoe die liggame van hul geliefdes, gedrapeer in die Suid-Afrikaanse vlag, deur hul kamerade gedra word.

“Ons neem dinge een dag op ʼn slag, so moeilik as wat dit is. Ons rou,” het Bonga Bobe, een van die familielede, gesê.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, het vroeër gewaarsku die besluit om troepe tot die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se mag in die DRK by te dra, is ʼn fout wat lewens kan kos. Hy het pres. Cyril Ramaphosa se besluit om die 2 900 Suid-Afrikaanse weermaglede in die ooste van die DRK te ontplooi as “roekeloos” en “irrasioneel” bestempel en gevra dat dit onmiddellik omgekeer word.

Marais het gesê die president verontagsaam waarskuwings van verskeie militêre kenners oor die ontplooiing en dat Suid-Afrika eenvoudig nie die kapasiteit vir ʼn teeninsurgensie-sending het nie en ook nie die nodige toerusting om grondmagte te ondersteun nie. Hy het ook gemaan dat die Suid-Afrikaners uit hul diepte kan wees in gevegte teen rebelle op ʼn terrein waarmee hulle onbekend is.

Die twee weermaglede het kort daarna in die aanval gesterf.

Genl. Rudzani Maphwanya, weermaghoof salueer terwyl hy verby die familieelde van die gesneuwelde weermaglede stap. (Foto: Marco Longari/AFP)

Thandi Modise, minister van verdediging, het egter die ontplooiing verdedig en die DA se kommer as ʼn “blou leuen” by die seremonie by die Waterkloof-lugmagbasis waar die liggame ontvang is, bestempel.

“Wanneer lede van die nasionale weermag op enige sending gestuur word, word hul voorbereidheid altyd nagegaan,” sê Modise.

Die sterfte is die eerste sedert Suid-Afrika in die middel van Desember begin het om soldate in die DRK te ontplooi. Soldate van onder meer Tanzanië en Malawi vorm ook deel van die mag wat die M23-rebelle help beveg.

“Ons het [na die DRK] gegaan, want vir die streek om vrede te maak, moet ons soms een buurman toelaat om vrede onder mekaar te maak.

“Soveel as wat dit ons harte breek om die liggame terug te bring, gee dit ook aan die Suid-Afrikaanse troepe die ‘nodige ondervinding’,” sê die minister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

Die regering het ‘n groot fout gemaak om teen Israel te draai,hierdie is net die begin van die anc se elende en vernietiging.

Casper ·

Salueer die familie,dit gaan nie die pyn,hartseer en verlange na ‘n gestorwe famililid ligter maak nie.Daar het ons soldate te doen met bosoorlog en dit maak oorlogvoering verskillend.Hulle veg teen terroriste in die DRK en Mosambiek,hoekom.Israel mag hulle nie selfvededig teen Hamas en vennote nie.Dit blyk dat Hamas nie meer lank gaan staan nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Casper, die M23 “terroriste” is unieke Tsutis wat net wil afstig van die DRK. Terloops, die DRK steun weer die FDLR wat Rwanda wil ontwrig. En raai wat, Israel is Rwanda se hoofborg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.