Oorskryf van uitgelekte vraestelle ‘noodsaaklik’ – Fedsas

(Argieffoto)

“Die integriteit van die matrieksertifikaat op die lange duur weeg swaarder as die korttermynontwrigting wat die herskryf van twee eindeksamenvraestelle meebring.”

Só sê die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) in reaksie op die onlangse besluit dat die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel wat vroeër uitgelek het, landwyd oorgeskryf moet word.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, sê hoewel die organisasie groot deernis het met die leerders wat geen aandeel in die uitgelekte vraestelle gehad het nie, matriekleerders egter nie midde die ontwrigtende skooljaar kan bekostig dat die integriteit van die matrieksertifikaat in twyfel getrek word nie.

“Matriekuitslae speel ’n groot rol in ʼn leerder se toekoms. Ons kan nie bekostig dat die persepsie ontstaan dat die 2020-uitslae met ’n knippie sout geneem moet word nie. Die herskryf van die twee vraestelle is dus noodsaaklik vir hierdie leerders se toekoms.”

Fedsas was teenwoordig in verskeie vergaderings met Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, oor die opsies vir oorweging ten opsigte van die uitgelekte vraestelle.

“Dit is duidelik dat daar geen ander uitweg is om die integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat te beskerm nie,” sê Deacon nou.

Veral Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, se kommer was deurslaggewend in die uiteindelike besluit.

“Die klas van 2020 moes reeds soveel uitdagings die hoof bied. Die derduisende eerlike leerders verdien beslis nie wat nou na hulle kant toe kom nie. Terselfdertyd kan die klas ook nie bekostig dat die geloofwaardigheid van hul uitslae in twyfel getrek word nie,” sê Deacon.

Fedsas doen nou ’n beroep op die skoolgemeenskap om die leerders by te staan met tyd en toegang tot ’n stil omgewing vir voorbereiding en die voorsiening van materiaal wat dalk reeds vernietig is of nie maklik bekombaar is nie. “Bowenal is dit ons almal se plig om hulle emosioneel by te staan, moed in te praat en te help om te verstaan waarom dit so uiters noodsaaklik is dat die vraestelle herskryf word.

“Daar is nie ʼn ander uitweg nie, hoe moeilik dit ook al mag wees – die integriteit van die eksamen bly deurslaggewend.”

Die tweede wiskundevraestel sal op 15 Desember oorgeskryf word en die tweede fisiese wetenskap-vraestel op 17 Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel ·

Die Integriteit van die Drukkersfirma sowrl as die toekenning van Tender moet ondersoek word. Hoekom wzs nie van Stastsdrukker gebruik gemaak nie. Die Minister, die Direkteur en sg. Omaluzi moet verantwoordelikheid dra

Eiervrug ·

En die punt van oorskryf is dat die kinders wat in die eerste plek skelm was nou NOG ‘n kans kry om ‘n beter punt te behaal. HOE IS DIT REGVERDIG?????????. Hierdie is maar weer ‘n bewys dat ons nie probleme kan/wil oplos nie, dis mos makliker om OM die probleem te werk. So tipies…….

Hennie J ·

Nie gedink ek sou ooit so n swak redenasie van fedsas teekom nie. Hulle stem saam dat almal gestraf moet word weens die sondes van n paar en net omdat die kaders te moeg is om die werklike skelm leerlinge aan die kaak te stel. So belaglik en dan om nog te praat oor die integriteit van die matrieksertifikaat!Hoe banaal!

Fluisterwind ·

My dogter is tans besig met haar matriek eind eksamen. Na die rekord eksamen het die matriekulante net een week tussen rekord en eind eksamen gehad. Ek praat onder korreksie, maar tot op hede was dit nagenoeg 36 vraestelle afgelê. Sy sê, sy is moeg, en ek glo talle ander ook. Sal die “derde” wiskunde en wetenskap vraestel die gehalte haal wat be-oog word?

Misky ·

@Drikus, ek stem 100% saam met jou. My seun skryf ook nou eindeksamen en die kinders is werklik moeg na die “trials” aan begin van Oktober, skaars n week af gewees en toe begin eindeksamen. Ek sê juis vir my seun dat hy mos eintlik indirek reeds geleer het vir die eksamen en kan skryf. Hy sê toe dat hy geestelik en fisies moeg is en om te dink, voel soos moeite. Hy gaan DEFINITIEF n swakker punt nou behaal as wat hy met eerste papier afgelê het. Baie onregverdig en die onskuldiges word nou gestraf!!

Danny ·

‘noodsaaklik’? Dit is NOODSAAKLIK dat die SKULDIGES aan die pen ry, DIT is wat noodsaaklik is. Elke jaar dieselfde, swak situasie – maak ‘n voorbeeld van hulle en skors hulle of skort hulle met ‘n jaar op. Magtag – doen julle werk, hou op lui wees en kry die skuldiges dat dit nie weer kan gebeur nie. Skandelik..

Chantel ·

Ek kry hierdie onskuldige kinders bitter jammer en haal my hoed af vir elkeen wat vanaf rekord tot nou hard geleer het. Ek kan hulle net sterkte toewens, want hulle het geen kans teen die wat oneerlik is nie.

Moedeloos ·

Watter punte gaan tel. Hierdie her-skryf of die eerste vraestel sin indien punte beter was?

Moedeloos ·

Tegnologie het so verander hoekom word vraestelle vooraf gedruk. Daar kan mos links gestuur word na skool en elke skool moet die oggend van die vraestel dit druk vir die aantel kinders wat in daardie skool die vraestel skryf.

Eiervrug ·

Ek stem moedeloos, maar onthou net baie skole het nie printers nie, want hoe meer daar voorsien word, hoe meer word dit weggedra en opgeneuk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.