Oorskryf van uitgelekte vraestelle verwelkom

(Argieffoto: Unsplash)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die DA het die besluit van die onderwysdepartement verwelkom dat die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskappe-vraestel landwyd oorgeskryf moet word nadat dit vroeër uitgelek het.

Die SOS het gesê die organisasie steun die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se “ferm optrede” in dié verband.

“Die stap ondersteun die geloofwaardigheid van die nasionale senior sertifikaateksamen.”

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, het ook ʼn beroep op skoolgemeenskappe gedoen om die minister se besluit te ondersteun en leerders te motiveer om die geleentheid aan te gryp en selfs beter te presteer as met die vorige eksamengeleentheid.

“Daar moet ten sterkste opgetree word teen die oortreders en die SOS sal graag wil sien dat maatreëls ingestel word om ʼn herhaling hiervan te voorkom.”

Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor onderwys, het gesê dit is ongelukkig dat leerders nou die gevolge moet dra van die swak besluite wat deur ʼn paar mense geneem is.

“Die lesse wat deur die aanvanklike misstap geleer is, mag nie tydens die herskryf herhaal word nie. Ons vertrou dat die uitlek van die vraestel ʼn wekroep vir die departement sal wees om veiligheidsmaatreëls te verskerp,” het Marchesi gesê.

Die DA het ook ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om die ondersoeke na die uitlek van die vraestelle vinnig af te handel en te verseker dat die aanspreeklikes skuldig bevind word.

Motshekga het vroeër vandag gesê die tweede wiskundevraestel sal op 15 Desember oorgeskryf word en die tweede fisiese wetenskappe-vraestel op 17 Desember.

“Dit was nie ʼn maklike besluit om te neem nie, maar een wat in die omstandighede nodig was. Ons moet hard werk om die menslike faktor in die eksamenstelsel in ag te neem. Dit is duidelik dat diegene wat verantwoordelik is vir die uitlek van die vraestelle wel volwassenes is.”

Volgens Motshekga is daar tydens die ondersoek na die uitlek van die vraestelle onder meer bevind dat die verspreiding daarvan op kubernetwerke dit bykans onmoontlik gemaak het om vas te stel hoeveel leerders uiteindelik toegang tot die uitgelekte vraestelle gehad het.

Ná gerugte dat die vraestel vir besigheidstudies óók uitgelek het, is dié vraestel voor die aanvang van die eksamen vervang.

“Dit was ʼn duur oefening, maar ons moes in die belang van leerders en lede van die publiek in die algemeen vinnig optree,” het Motshekga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Ek sou darem hoogs ontstoke gewees het as dit in ons tyd gebeur het. Skeinnat was ‘n vak wat ek met passie gehaat het maar my ma het my gedwing om dit te vat

Johanncb ·

Daar is na bewering 195 leerders betrokke. Gaan hulle gestraf word?

Riana ·

Neee hulle gaan nie…. seker al klaar hulle studie hulp fonds in plek om geld op Universiteit ook te gaan mors

Chris ·

Ek sou nie eintlik wou sien dat die leerders getraf word nie maar eerder die persoon wat dit aan die leerders beskikbaar gestel het. Hoe gaan jy maak as daar ewe skielik n whatsapp op jou foon deur kom met n vraestel sonder dat jy daarvoor gevra het?

Martie Smartie ·

Eks bevrees die SOS en DA sit die pot totaal mis. Leerlinge wat onskuldig is word nou rond georder, dit nadat hulle gedink het die eksame is verby. Daar kan met eenvoudige algoritmes bepaal word dat leerlinge wat skielik se maar 7 of 8% meer het as in die rekord eksamen waarskynlik toegang gehad het tot die vraestel, en hulle laat oorskryf. Ongelukkig is hierdie ANC se ferm optrede, soos met die Chinese COVID virus, gewoonlik belaglik en nie gegrond op wetenskaplike bewys nie. Maar hulle wil ander grade 5% ekstra gee kwansuis oor die moeilike jaar en emand soos Mary Metcalfe, wat haar uitgee as ‘n kenner, steun nogal sulke snert. Om onskuldige leerling ‘n vraestel te laat oorskryf, is soos om ‘n hele klas pakslae te gee oor twee of drie stout was. Daar is geen regsgronde of regverdiging daarvoor nie. Geen. Maar is ook tipies die strategie vd ANC om enige iets te bestuur. Tekort aan breinkrag dan vat hulle die domste manier. Domastrante politiekery

MVH ·

Dit is teleurstellend,maar nodig…iewers moet iemand ń stok in die wiel steek…

Pretorianer ·

Wat die DA sê traak my min, maar as lid van n skoolbestuurspan is ek geskok dat die SOS hierdie waansin ondersteun. Derduisende kinders word weens die aksies van n krimineel gestraf met nog meer spanning in n uiters traumatiese jaar . Daar is baie ander maniere om hierdie saak te bestuur: vergelyking van punte met jaarpunte is maar een. Die analiese van punte lei in elk geval jaarliks na aanpassings, of mense dit wil weet of nie, gebasseer op statistiek, maar nou skielik kan dit nie gebeur nie? Belaglik.

Pretorianer ·

Hier is my voorspelling: chaos by merksentrums. Ons gaan berigte hoor van verkeerde vraestelle wat gemerk is waar die departement deurmekaar geraak het(“is hierdie nou die uitgelekte vraestel of die nuwe een?”) asook die verkeerde memorandum wat gebruik is. Tragies. Maar waarskynlik. Want die departement is onbevoeg, en nou moet kinders gestraf word. Wat sê die sielkundiges? Seker “dankie vir die Kersfeesbonus”.

Riana ·

Bly DA verwelkom oorskryf…. bitter onregverdig teenoor die kinders wat nie “gecheat” het nie…. nou hulle waar vanvoorcaf stress… en die Asss uit op R 1500 bail!!! Vlge jaar gebeur dit weer… wat gaan Angie doen om dit te stop????

Annelize ·

wat nou van die kinders wat reeds op vakansie is daardie tyd ? Die ouers het reeds vakansies beplan en geld bestee om na hierdie mal jaar, n wegbreek te vat ?

Cecilia ·

Solank as d kaders in beheer is sonder enige integriteit sal daar d gemors wees.
Al oplossing is om vraestelle elektronies op n webwerf te laai ipv om dit te druk en dan te versprei. D skole kry dan slegs toegang tot d vraestelle d oggend.
Dis hoe dit by Home Schooling gedoen word en het jy nou al ooit erens gelees v vraestelle wat uitlek by Home School sentrums.

Lizelle ·

Die DA is uit voeling met hul kiesers. Jy kan nie al die kinders straf vir die regering se onvermoë om eksamen vraestelle sekuur te hou nie. Die matrikulante is al deur genoeg in 2020. Waar moet hulle nou weer die moed bymekaar skraap om die 2 moeilikste vraestelle oor te skryf?

Ferdi ·

Iemand moet êrens n standpunt inneem teen korrupsie, want dis wat uitgelekte vraestelle is. Ja ons kinders betaal die prys, maar kom ons motiveer hulle om selfs nog beter te doen. Hulle word nou as’t ware soldate in die stryd teen korrupsie, kom ons salueer hulle daarvoor. My kind moet ook oorskryf en ek kry hom bitter jammer, maar ons sal daar wees vir hom en hom ondersteun en aanmoedig en vir hom bid. En ja ons het ook n reeds betaalde vakansie wat ons nou moet uitstel, of eerder verkort, maar as ouers moet ons nou leierskap wys en ook opofferings maak. Die minister weier dat korrupsie die eksamen beinvloed en dis reg so. Ons moet nou druk plaas op die owerhede om seker te maak dat die skuldiges swaar gestraf word, ook die betrokke leerlinge. Dan het ons kinders se swaarkry iets beteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.