Oorsprong van cholera-uitbreking steeds onbekend

Van die duisende bottels water wat te midde van ‘n cholera-uitbreking aan inwoners van Hammanskraal geskenk is. (Foto: Tshwane-metro/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het die minister van water en sanitasie te midde van die voortgesette cholera-uitbreking opdrag gegee om aanbevelings te doen om die bestuur en regulatoriese raamwerk vir munisipale water- en sanitasiedienste te versterk.

“Siekteuitbrekings soos dié van cholera in Hammanskraal word vererger deur swak regering, swak bestuur en swak instandhouding van infrastruktuur. Ons het ʼn verantwoordelikheid om daardie tekortkominge op ʼn volhoubare manier as ʼn saak van dringendheid te takel en ons is vasbeslote om dit te doen,” het die president Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê.

Die cholera-uitbreking is aanvanklik in Hammanskraal in Gauteng aangemeld, maar het reeds na die Vrystaat versprei. Altesame 24 mense is reeds weens die siekte dood.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vroeër vanjaar gewaarsku dat cholera ʼn “verwoestende terugkeer” maak nadat daar jare lank ʼn voorgesette afname in cholera-gevalle aangeteken is. Meer as ʼn miljard mense in 43 lande loop die gevaar om die siekte op te doen.

Volgens die WGO is cholera-gevalle sedert die begin van die jaar al in 24 lande aangemeld. Benewens Suid-Afrika sluit dit ook gevalle in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe in.

Ramaphosa sê op die tuisfront moet owerhede geloof word vir hul pogings om diegene wat cholera opgedoen het so gou moontlik te help en pogings in dié verband behels onder meer die oprig van ʼn veldhospitaal en die verskaffing van bykomende watertenks aan inwoners van die gebied.

“ʼn Ondersoek is aan die gang na die bron van die uitbreking. Tegniese spanne van die Tshwane-metro, die departement van water en sanitasie, asook die provinsiale en nasionale departemente van gesondheid, doen watergehaltetoetse by verspreidingspunte en waterbehandelingsaanlegte in die gebied.

“Tot dusver is die oorspronklike bron van die cholera-infeksie nog nie opgespoor nie.”

Cholera is ʼn hoogs aansteeklike siekte, veral onder omstandighede waar daar nie behoorlike toegang tot water- en sanitasiedienste is nie.

Onbetroubare en onveilige drinkwater is al jare lank ʼn probleem in Hammanskraal. “Die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg, wat stroomop van Hammanskraal geleë is, is nie behoorlik in stand gehou nie en het onvoldoende kapasiteit om die volume water wat dit moet behandel te hanteer,” sê Ramaphosa.

Die departement van water en sanitasie het oor die jare ook verskeie direktiewe aan Tshwane uitgereik om aandag te gee aan besoedeling uit die Rooiwal-aanleg.

“Ongelukkig is daar niks hieraan gedoen nie,” sê Ramaphosa.

Die departement het die stad daarna deur regstappe gedwing om sy toelaag van die nasionale departement te gebruik om die aanleg op te knap en te verbeter.

“Hoewel daar volle aanspreeklikheid moet wees vir die tekortkominge wat gelei het tot die uitbreking in Hammanskraal, moet ons in hierdie stadium konsentreer op die probleem. Ons moet die verspreiding van cholera stuit en remediërende stappe doen om menselewens te beskerm.”

Die president sê in die algemeen is watergehalte in Suid-Afrika hoog en kan dit met die beste ter wêreld vergelyk word.

Dit is egter onaanvaarbaar dat verskeie munisipale rade steeds nie hul toewysings – spesifiek vir kardinale infrastruktuur – ten volle gebruik nie, sê hy.

Terwyl daar gewag word op die uitslae van die ondersoek na die cholera-uitbreking in Hammanskraal, is dit belangrik dat plaaslike regeringstrukture nou saam met nasionale owerhede werk om probleme met watergehalte in Hammanskraal uit te skryf.

“Water en sanitasie van gehalte is fundamenteel vir die waardigheid van elke Suid-Afrikaner,” sê Ramaphosa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harley Davidson ·

Daar is n Afrikaanse spreekwoord daar is iets in die drinkwater en ek dink dit is wat dit nou is.

domheks ·

Moenie net die ou briefie skryf nie – gee sper datums aan elke afdeling. Dit bly gewoonlik net by praat maar as dit by doen kom is almal lam.

annie ·

Ons sien gereeld rioel en dreinwater in strome afspoel in strate vol ou afval ens. Stories oor rioel wat in die see en riviere gestorts word, is algemeen. Nou is almal verbaas. Regtig?

SwartBees ·

En nou sit ek ook met die simptome maar die dr reken dis n maag kiem. Ek sk8 my longe uit. Die goewerment is net die een disaster op die ander.

Delia ·

Vra vir n stoelgang MKS by jou dokter. Dan kan lab vir jou uitsluitsel gee. Mikroskopie, kweking en sensitiwiteit

Kloekie ·

Groente tuine word soms met riool bemes.
Dalk moet hulle groente markte toets!

Janine ·

“Ramaphosa sê op die tuisfront moet owerhede geloof word vir hul pogings….” Ai tog! Geen standaarde!

Papsak ·

Hier word te veel gepraat en te min gedoen want rioolwater loop soos riviere in strate af en dit pla niemand niks nie daar antw vir cholera want hulle le op grawe rond en sit onder bome dan het ons klaar gewerk dood moeg siestog pateties

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.