Oorstromings eis dalk munisipale werkers   

’n Helikopter van Reaction Unit South Africa (Rusa) soek na die vermiste munisipale werknemers. Die dak van die wit Toyota Etios kan ook in die water gesien word. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

Die soektog na twee vermiste werknemers van die eThekwini- plaaslike munisipaliteit in KwaZulu-Natal het teen Dinsdagmiddag steeds voortgeduur.

Solomon Shandu en Simphiwe Norman Cele was Saterdag glo op pad na eNtaphuka in die Ndwedwe-omgewing toe die Toyota Etios waarin hulle gery het deur vloedwater by ʼn rivier in Ogunjini meegesleur is.

Nooddienswerkers het die voertuig intussen opgespoor en was teen Dinsdagmiddag steeds besig om na Shandu en Cele te soek. Reaction Unit South Africa (Rusa) het in ʼn verklaring op Facebook gesê dat die twee vermoedelik verdrink het.

’n Lid van die gemeenskap hou ’n skoen vas wat glo aan een van die vermiste munisipale werkers behoort. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

Shandu was van ʼn begrafnis in Harrismith in die Vrystaat op pad huis toe, toe die voorval plaasgevind het. Daar is eers later bevestig dat Cele ook in dieselfde voertuig was en dat hy Shandu na en van die begrafnis vervoer het. Albei werk vir die munisipaliteit se waterdepartement in Ottawa, Verulam.

Familielede van Shandu het Saterdag omstreeks 18:00 vir die laaste keer met hom gepraat. Dié familielede het Rusa gekontak nadat Shandu se voertuig Maandag in die rivier opgemerk is.

’n Helikopter van Reaction Unit South Africa (Rusa) soek na die vermiste munisipale werknemers. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

Die voertuig is vermoedelik op ʼn brug tydens ʼn storm deur vloedwater meegesleur.

Rusa het sy R44-helikopter en reddingspanne Dinsdagoggend ingespan as deel van ʼn herwinningsoperasie. Paramedici en lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid was ook op die toneel. Rusa het Dinsdag ʼn foto van ʼn skoen gepubliseer wat in die rivier gevind is. Die skoen behoort glo aan Shandu.

Msawakhe Mayisela, munisipale woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat hulle met die gesinne van die vermiste werknemers simpatiseer.

“Ons hoop dat nooddienswerkers onverpoos sal werk om hulle op te spoor sodat die families afsluiting kan kry.”

Die soektog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.