Oorstromings in Oos-Kaap, KZN ʼn ‘ramp’

Oostromings in die Oos-Kaap vroeër vandeesmaand. (Foto: Buffalo City-metro/Facebook)

Stormweer het KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap op hul knieë. Meer as 40 mense is die afgelope ruk in dié provinsies dood terwyl miljarde rande waarskynlik nodig gaan wees om skade aan infrastruktuur te herstel.

Altesame 20 mense het weens onlangse kitsoorstromings in die Oos-Kaap omgekom terwyl groot skade aan infrastruktuur, waaronder skole, aangerig is. Dié provinsie het intussen ’n ramptoestand in sekere gebiede afgekondig.

“Die situasie is benard,” sê Mamnkeli Ngam, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake.

Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, versoek intussen dat ’n ramptoestand ook in dié provinsie verklaar word, nadat onlangse oorstromings en weerlig die lewe van minstens 25 mense geëis het. ’n Beraamde R3 miljard word benodig om die skade in dié provinsie te herstel.

Intussen spook die provinsies se onderskeie onderwysdepartemente om aandag te gee aan die skade by skole sodat leerders Woensdag na die skoolbanke kan terugkeer.

Onlangse oorstromings in Ladysmith, KwaZulu-Natal. (Foto: Mahandra Sukhnandan/Facebook)

Volgens Ngam het die Buffalo City-metro in Oos-Londen en ses ander distrikte, waaronder die Amathole- en Alfred Duma- distriksmunisipaliteit, veral deurgeloop toe swaar reën op 8 Januarie uitgesak het.

“Brûe het weggespoel, paaie en skole is beskadig terwyl talle diere gevrek het. Dit is ʼn enorme rampsituasie waarin ons onsself tans bevind.”

Skole

Mali Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, sê 74 skole in dié provinsie is beskadig en R116 miljoen sal binnekort aan herstelwerk by 57 van dié skole bestee moet word.

Mtima verseker Maroela Media egter daarvan dat die geraakte skole se leerders Woensdag na die skoolbanke sal kan terugkeer wanneer die kusprovinsies se skole heropen.

“Ons het reëlings met gemeenskappe, munisipaliteite en kerke aangegaan om die leerders te akkommodeer terwyl konstruksiemaatskappye aan die 57 skole werk.”

Kospakkies vir ontheemdes in die Oos-Kaap. (Foto: Buffalo City-metro/Facebook)

Kwazi Mthethwa, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van onderwys, sê 186 van dié provinsie se skole het deurgeloop. Hy voorspel nietemin wel dat leerders Woensdag sal kan terugkeer.

Dit is egter nog nie duidelik wat die omvang van die skade in rand en sent is nie.

“Ons werk dag en nag. Mobiele klaskamers is reeds by sommige van die skole opgerig.”

  • Die Buffalo City-metro het intussen ’n rampbestuursentrum gestig om geraakte families by te staan. Meer as 800 inwoners van dié metro is dakloos gelaat en die meerderheid word intussen in gemeenskapsale gehuisves. Kospakkies en komberse word ook aan geraakte families verskaf.

Bykomende bron: IOL

Onlangse oorstromings in Ladysmith, KwaZulu-Natal. (Foto: Mahandra Sukhnandan/Facebook)

Onlangse oorstromings in Ladysmith, KwaZulu-Natal. (Foto: Mahandra Sukhnandan/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Renier johannes ·

Maak net die storm water draaine skoon dit sal ook help

Swerwer ·

Ramptoestand afgekondig vir ANC gebiede. Nooit geleer dat mens nie bou en plak in laagliggende gebiede nie.

Colombo ·

Die natuur is besig om sy wonde te herstel en terug te neem wat van hom vervreem is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.