Oorstromings ná swaar reënval in Kaapstad

George van der Westhuizen, bestuurder van Goodwood Body and Sprayworks, en ander personeel probeer die water wegvee wat in die werkswinkel ingespoel het. Foto: Ian Landsberg/ANA

Oorstromings het Vrydag op talle plekke in Kaapstad voorgekom nadat swaar reën deur die nag in die stad en ander dele van die droogtegeteisterde Wes-Kaap geval het.

Inwoners hou duim vas dat die reën damvlakke ʼn aansienlike hupstoot sal gee.

Die Stad Kaapstad se rampbestuursentrum het aangemeld dat uitgebreide oorstromings in die stad se noordelike voorstede insluitend Goodwood, Parow, Ravensmead, Belhar en Bellville-Suid voorgekom het. Die reënval het ook met stormsterk winde gepaardgegaan.

Charlotte Powell, woordvoerder van die rampbestuursentrum, het gesê ongeveer 150 huise is deur die oorstromings geraak. “In die Sir Lowry’s Pass-nedersetting is daar dakke afgewaai en ʼn paar eiendomme is beskadig. In Parow, Goodwood, Constantia en Belhar het bome omgewaai.”

Volgens Powell is kragdrade in Goodwood, Parowvallei, Langa, Bergvliet, Durbanville en Maitland beskadig en modderstortings is in die Houtbaai-gebied aangemeld.

ʼn Wetstoepassingsbeampte is met geringe beserings na ʼn hospitaal geneem nadat ʼn boom in Constantia op sy voertuig geval het.

Personeel van Goodwood Body and Sprayworks maak skoon nadat water in die werkswinkel ingespoel het. Foto: Ian Landsberg/ANA

Die stad se departement van parke en ontspanning het Vrydagoggend gewerk om al die bome wat omgeval het te verwyder om die paaie oop te stel, terwyl ander owerhede stormwaterdreine oopgemaak het.

Rampbestuurbeamptes is steeds besig om die skade in die geaffekteerde gemeenskappe te assesseer.

Die damvlakke in die Wes-Kaap het die afgelope paar dae gestyg, met die gemiddelde damvlakke wat tans op 24% staan.

Die provinsie se grootste dam, die Theewaterskloofdam, wat die meerderheid van Kaapstad se water voorsien, se vlak was teen Woensdag nog net op 14,9%. Teen Donderdag was die Theewaterskloofdam op 15,9%, maar dit was voor die stortvloed Donderdagnag en Vrydagoggend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

BB ·

Dis nou goeie nuus, dis mos waarvoor ons al lankal vra. Laat die reen val en die damme volmaak. More behoort ook goeie water te bring volgens die weerburo!!!

Gerhard ·

Ja die res van ons kan net droom van ‘n goeie oorstroming geniet soos wat die mense nou doen.

Alida ·

Wonderlik! Die pype moes skoon gewees voor die reen gekom het. Beplanning ai tog.

Mrs.B ·

Reen, reen, pragtige reen. Ons wardeer elke druppel wat val. Die skade kan herstel word na die oorstromings , die reen het ons nodig. Sterkte vir almal wat skade het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.