Oorstroomde Vrystaat ‘moet tot rampgebied verklaar word’

‘n Oorstroomde plaas in die Hoopstad-omgewing. (Foto: Verskaf)

Die VF Plus het ’n brief aan die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, gerig waarin sy gevra word om die gebiede waar hael-, versuip- en vloedskade weens swaar reën aangerig is, tot rampgebiede te verklaar.

Die party oorweeg intussen om van munisipaliteite waar boere skade gely het, te eis dat hul grondbelasting vir ’n jaar opgeskort word.

Armand Cloete, VF Plus-LP in die Vrystaat, sê die provinsiale regering het ’n verantwoordelikheid teenoor die boere om tydens buitengewone omstandighede –  soos die afgelope maand se swaar reënval en gevolglike verliese – op te tree.

“Die provinsie kan dit nie bekostig om nié sy boere by te staan nie. Landbou se bydrae tot die provinsie en die res van die land is te kosbaar. Optrede deur die Vrystaatse regering is nou broodnodig.”

Volgens Cloete sal die premier alles in haar vermoë moet doen om die provinsie se landbousektor by te staan indien sy voedselsekuriteit in haar provinsie wil verseker.

“Die premier het nou die geleentheid om haar erns teenoor voedselsekuriteit te bewys en ons boere by te staan deur gebeurlikheidsplanne vir ramptoestande in werking te stel.

“’n Ramptoestand vir die geraakte gebiede sal ʼn beginpunt wees om verligting te bring vir boere wat reeds grootskaalse skade en verliese ervaar het.”

  • Lees Maroela Media se onlangse berigte oor hael-, versuip- en vloedskade op Vrystaatse plase hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Weet die mense ooit waar al die lekker kos op hul tafels vandaan kom ? Die mense wat die kos verbou, bewerk en spotgoedkoop aan die vars produkte markte verskaf word wreed gemartel en vermoor sonder dat daar ‘n vinger gelig word. Hoekom sal hul nou gehelp word omdat die oeste faal ?

Piet parys ·

Ja boere kry peanuts vir hulle produkte en moet al die risiko dra terwyl winkelsentrum net die prys verdubbel van die boer af n dan agteroor sit en in weelde leef op die boer se rug . As jou oes wegspoel gaan afskaffing van grondbelasting nie jou red nie . Dis die insetskuld wat die probleem is en hoe om die skade te verhaal oor die komende jare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.