Oortreder wou glo met Gautrain vlug

gautrainDie man wat Dinsdag ernstig beseer is toe ʼn Gautrain hom getref het, wou glo op een van die bewegende sneltreine spring om van die polisie te ontsnap.

Johan Pieterse, ʼn woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Woensdag gesê al twee die man se bene is gebreek en hy het ook erge kopbeserings opgedoen. “Die polisie het die man Dinsdag gejaag en hy het ongemagtigde toegang tot die spoorlyn bekom,” het Pieterse gesê. Die voorval het op die spoorlyn tussen die Hatfield- en Pretoria-stasies plaasgevind. “Hy het probeer om op een van die bewegende treine te spring.”

Sers. Asnath Melatsi, ʼn woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn huishulp het die verdagte vroeër naby Devenishstraat opgemerk. Hy het gehardloop en oor die heining van ʼn aangrensende huis en die spoorlyn gespring. Hy het ʼn paar meter ver geval waarna hy op die bewegende trein wou spring en wéér geval het. “Die man is vir oortreding in hegtenis geneem,” het Melatsi gesê. “Hy is tans in die hospitaal onder polisiebewaking.”

Daar is aanvanklik berig dat twee mans ongemagtigde toegang tot die spoorlyn bekom het, maar Melatsi het aan Maroela Media bevestig dat hulle slegs die een man ondersoek.

Errol Braithwaite, woordvoerder van die Gautrain-bedryfsmaatskappy Bombela, het Dinsdag aan Maroela Media gesê treindienste was vir ʼn kort rukkie tussen Hatfield en Pretoria vertraag. Treindienste het normaalweg voortgegaan nadat die man na die hospitaal geneem is.

“Die treinspoor is uiters gevaarlik, omdat die treine  baie vinnig en baie stil is. Daar is ook gevaarlike toerusting,” het Braithwaite aan Sapa gesê. “Ons sal optree teen enigiemand wat ongemagtigde toegang tot die spoorreserwe wil bekom en aanklagte van oortreding sal aanhangig gemaak word.” – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nefie ·

Nou gaan hy seker die Gautrain dagvaar omdat die trein nie sag genoeg is om teen te val nie. Ek hoor dan as ‘n inbreker by my huis seerkry is dit my verantwoordelikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.