Oortreders by eThekwini-munisipaliteit moet ‘vasgevat’ word

Argieffoto van Durban (Foto: oldeani0, Pixabay)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake het die eThekwini-munisipaliteit in Durban se leierskap opdrag gegee om beslissend op te tree teen diegene wat hulle skuldig maak aan finansiële wangedrag by dié munisipaliteit.

“Die komitee beskou dit as onaanvaarbaar dat die stad ʼn verstommende R2,9 miljard aan ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes vir die 2018-’19-boekjaar bestee het. Die gebrek aan doeltreffende gevolgebestuur sal lei tot straffeloosheid en ʼn toename in verkwistende uitgawes,” sê Malatswa Molepo, ʼn woordvoerder van die parlement.

Volgens Molepo vra die komitee nou vir spoedige en effektiewe gevolgebestuur.

Hoewel daar tans 436 dissiplinêre prosesse by die munisipaliteit aan die gang is, vra die komitee dat dié prosesse afgehandel word sodat die publiek se vertroue in die munisipaliteit herstel kan word.

“Die agterstand in verslae oor ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes versterk die persepsie dat daar nie ʼn aptyt is om korrupsie te hanteer nie. Die komitee het die munisipaliteit gevra om ʼn gedetailleerde verslag oor die status van strafregtelike aanklagte teen die stadsbestuurder rakende die Durbanse tenderafdeling binne redelike tyd te verskaf.”

Sipho Nzuza, stadsbestuurder van eThekwini (Foto: Doctor Ngcobo/African News Agency/ANA)

Maroela Media het vroeër berig Sipho Nzuza, stadsbestuurder van die eThekwini-munisipaliteit, word daarvan beskuldig dat hy ’n rol gespeel het in die R500 miljoen-tenderskema wat tot die sogenaamde herontplooiing van die voormalige burgemeester, Zandile Gumede, gelei het.

Volgens Molepo het die komitee boonop ʼn omvattende inwerkingstellingsplan geëis om die agterstand van 330 verslae van die stad se eenheid vir integriteit en ondersoeke te hanteer.

“Die gebrek aan ʼn plan om die agterstand in te haal ondermyn die eenheid se werk en bevorder straffeloosheid binne die munisipaliteit.”

Die komitee het verder sy kommer uitgespreek oor die feit dat tot 56% van wykskomitees nie funksioneer nie. Die komitee is ook bekommerd oor water- en rioollekkasies wat die welstand van inwoners bedreig, asook die munisipaliteit se hoë uitgawes aan veiligheidsverwante dienste.

“Die komitee vind dit ironies dat die munisipaliteit voldoende en hoogs bekwame personeellede het om te verseker dat die gehalte diens wat hy aan die gemeenskappe lewer, van die hoogste standaard is en steeds onvoldoende dienste lewer.”

Molepo sê die komitee het besluit om later met die munisipaliteit te vergader nadat hy skriftelike antwoorde op sy vrae van die munisipaliteit ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dup ·

Korrupsie,bedrog en diefstal vind al jare in die munisipaliteite plaas.Waarom nou sê daar moet opgetree word.Wie keur die tenders goed,nie juniors nie maar wel senior beamptes.Die hele stelsel is korrup.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.