Oorvol trok met liggame ‘pandemie se skuld’

Die vragmotor is met tientalle liggame op die N2 voorgekeer. (Foto: Twitter)

Die vragmotor wat na bewering meer as ’n 100 liggame op die N2 in die Wes-Kaap vervoer het, was oorlaai omdat begrafnisdienste nie genoeg hande het weens die Covid-19-pandemie nie.

Só sê die Kaapse begrafnisondernemer wat die liggame vir verassing vanaf Kaapstad na Gqeberha (Port Elizabeth) laat vervoer het, toe sy vragmotor oor die naweek op die snelweg afgetrek is.

Verkeersbeamptes het die vragmotor Saterdag gedurende ’n roetine‑ondersoek by ’n weegbrug in die omgewing van Somerset‑Wes voorgekeer en die morbiede vonds van tientalle liggame gemaak.

Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het vroeër vandag aan Maroela Media gesê die vervoer van menslike oorskot is nie vreemd nie. Die aantal liggame in die betrokke vragmotor was wel buitengewoon en die polisie en die departement van gesondheid is in kennis gestel.

Fredeline Knowles van Funerals Direct – die begrafnisondernemer wat die liggame na die Oos-Kaap laat vervoer het – het by navraag aan Maroela Media gesê al die nodige dokumente was in plek en die vragmotor is toegelaat om verder te reis.

Knowles hou egter vol die vragmotor het net 92 liggame vervoer toe dit voorgekeer is. “Ek weet nie waar kom hulle aan die 106 nie, maar al die dokumente was reg.”

Sy vertel dat die betrokke begrafnisondernemer ook liggame van ander begrafnisondernemers vir verassing na die Oos-Kaap help vervoer het, aangesien daar tans ’n agterstand van sowat ’n maand by krematoriums in die Wes-Kaap is weens die Covid-19-pandemie.

Knowles sê slegs ’n derde van die liggame in die vragmotor was egter dié van Covid-pasiënte wat weens die virus dood is.

“Ek is eintlik bly die vragmotor is voorgekeer sodat mense besef onder watter druk begrafnisondernemers verkeer. Mense verstaan nie waardeur ons gaan om die naasbestaandes van oorledenes te akkommodeer nie.”

Die betrokke vragmotor is volgens Knowles weer terug in die Kaap nadat die liggame by ’n krematorium in Gqeberha afgelaai is.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het intussen gesê die oorsprong van die liggame in die vragmotor hou hoegenaamd geen verband met ʼn agterstand by die Stad Kaapstad se krematoriumfasiliteit nie.

Volgens Badroodien is daar geen agterstand by dié fasiliteit nie en die stad is in die stadium heeltemal daartoe in staat om in die huidige vraag te voldoen.

“Die stad het genoegsame kapasiteit om begrafnisse te akkommodeer.”

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het vanoggend by navraag gesê die polisie het ’n voorlopige ondersoek by die weegbrug gedoen voordat die vragmotor toegelaat is om sy reis voort te sit.

Niemand is in hegtenis geneem nie en ’n navraag is ingedien om die omstandighede rakende die saak te bekyk.

Maroela Media het die departement genader vir kommentaar en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris dupreez ·

Nou wonder ek , word al die ligame nou veras en dan word daar net as geskep met n skoppie vir elke ligaam, of word elkeen apart veras

Hanna ·

Ek wonder waar is die duur kiste waarvoor mense betaal, die kiste op die foto lyk soos goedkoop bokse…

Marina ·

Die telraam het seker gebreek toe die liggame getel is … dit is hartseer om te sien hoe min dink sekere mense van ander, dood of lewendig.

Gert ·

Is daar dan ‘n beperking van hoeveel liggame op ‘n slag vervoer kan word

john ·

Just imagine if this truck gets hijacked …The look on the faces of these hijackers would be priceless.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.