‘Oorweldigende voldoening’ aan afsonderingsregulasies – studie

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

ʼn Studie deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) oor Suid-Afrikaners se voldoening aan afsonderingsregulasies het bevind dat 99% van mense net hul huise verlaat om kos, medisyne of maatskaplike toelae te gaan afhaal, of tuisbly.

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, het die bevindings van die ondersoek Sondag in Pretoria bekend gemaak. Dit is die tweede gedeelte van die studie wat eers op bewusmakingsvlakke en kennis oor die nuwe koronavirus gefokus het en nou ook die uitwerking van die regulasies op Suid-Afrikaners bekyk het.

Die studie het Suid-Afrikaners ouer as 18 jaar van alle rasgroepe betrek.

  • Die navorsers het bevind die meeste mense gehoorsaam regulasies rakende die landwye staat van afsondering. Altesaam 30% van mense het aangedui dat hulle nog glad nie die huis verlaat het sedert die afsonderingstydperk begin het nie en 62% het die huis verlaat om kos en/of medisyne te kry.
  • Uit diegene wat die huis verlaat het, het 8% aangedui dat hulle tydens dié uitstappie kontak met meer as 50 mense gehad het. Altesaam 51% van mense het gesê hulle was in aanraking met 10 of meer mense en 15% van mense het aangedui dat hulle in dié tyd van openbare vervoer gebruik gemaak het.
  • Een uit elke twee mense het gemeen dat hulle ʼn lae risiko het om Covid-19 op te doen en net een uit vyf mense het gedink dat hulle ʼn groot kans het om die virus op te doen.
  • Volgens die navorsers het net minder as ʼn kwart van mense geen geld om kos te koop nie. In informele nedersettings was dié syfer hoër en 55% van diegene in sulke woongebiede het aangedui dat hulle nie geld het om kos te koop nie.
  • Sowat 13% van mense sê hulle sukkel om hul chroniese medisyne in die hande te kry.
  • Tussen 45% en 63% van mense sê die afsonderingstydperk gaan dit vir hulle baie moeilik maak om rekeninge te betaal, ʼn inkomste te verdien, hul gesinne kos te gee, of hul werk te behou.
  • Wat betref toegang tot alkohol en sigarette, is bevind sigarette is makliker om tydens die afsonderingstydperk in die hande te kry. Sowat ʼn kwart van mense in informele nedersettings het aangedui dat hulle sigarette tydens die afsonderingstydperk kon koop. Die verkoop van alkohol en sigarette word tans verbied.
  • ʼn Oorweldigende 75% van mense het gesê hulle het in dié tyd geen interaksie met wetstoepassers gehad nie en van dié wat het, het amper 15% aangedui dat hulle sleg behandel is.

Die navorsers het bevind wanneer die afsonderingstydperk opgehef word, gaan Suid-Afrikaners aangemoedig moet word om verantwoordelikheid vir hul eie gedrag te aanvaar.

Daar is ook bevind die onwettige handel in tabakprodukte, asook die smokkel daarvan, benodig ingryping.

Sosiale distansiëring in ʼn ry buite ʼn toetsingskliniek in Khayelitsha, Kaapstad (Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

“Suid-Afrikaners moet hul sosiale verhoudings en bedrywighede ontwrig om lewens te red deur sosiale distansiëring in werking te stel. Enigiemand, met of sonder simptome, kan ander aansteek en elkeen het ʼn plig om ander te beskerm deur ʼn masker te dra wanneer jy ook al jou huis verlaat,” het die navorsers gesê.

Hulle het ook bevind die regering en samelewing moet erken dat sommige gemeenskappe swaarkry en dat daar mense is wat geen geld meer het om kos op die tafel te sit nie. ʼn Ooreenkoms moet tussen dié gemeenskappe en die staat- en private sektor aangegaan word om finansiële en maatskaplike hulp te verleen. Dit moet maatreëls soos voedselbanke op distriksvlak insluit.

Volgens die navorsers moet daar ook ʼn erkenning wees dat dit vir mense moeilik is om sulke groot veranderinge in werking te stel om hul gesinne en gemeenskappe te beskerm en dat mense leiding en steun benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Dis duidelik nie waar nie. In elk geval nie waar ek bly nie. Weereens ANC leuns

Scalla

Stem nie saam met die statistieke nie, ek het permit om te ry en gaan kyk hoe lyk dit in informele nedersettings en afgeleë agter paaie, hul pas dit definitief nie toe nie.

netekalleen

Die meningspeiling is seker weer net in soweto gedoen en lieg is maklik vir enigeen wat selfsugtig is

Jan

Nig n groot lieg in my dorp lyk als nog baie bedrewig. In 6 weke nog nie een padblokade gesien nie. Die anc gaan hulle self uitroei. Gee maar kans. Die mense wat hulle vandag screen loop more weer rond. Ek trust nie hulle syfers nie.

Michael 1

Ek kan saamstem vir die eerste paar dae daarna het die mense in die buurt waar ek bly hulle stelselmatig afgevee aan die reëls agv n afwesigheid van wetstoepassers en swak selfdissipline.