Oorwinning in hof vir Middelburg-inwoners

Die Steve Tshwete -plaaslike munisipaliteit se kantoor in Middelburg. (Foto: CoGTA/Facebook)

Die inwoners van Middelburg in Mpumalanga het Dinsdag ʼn oorwinning in die hof behaal toe ʼn aansoek om ʼn dringende interdik om die sporadiese munisipale stakings in die dorp stop te sit en dienslewering te herstel, toegestaan is.

“Die hof het beslis dat die stakers nie mag voortgaan met enige onwettige of onregmatige staking nie,” het die prokureur, André Brandmuller, aan Maroela Media bevestig.

Brandmuller het verlede week die aansoek in sy persoonlike hoedanigheid as ʼn inwoner van Middelburg voor die hof gebring in ʼn poging om normale toestande op die dorp te herstel.

Munisipale werkers van die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit neem al vir die afgelope 11 maande sporadies aan stakings deel wat elke keer talle dienste tot stilstand ruk.

Die jongste staking het egter gewelddadig geraak toe veiligheidswagte, wat deur die munisipaliteit aangestel is om sy infrastruktuur te beskerm, glo vier betogers geskiet het wat onregmatig toegang tot sy kantore probeer verkry het. Een van die betogers is in die proses dood.

ʼn Afsonderlike strafregtelike saak is teen een van die veiligheidswagte aanhangig gemaak en hy is intussen borgtog toegestaan.

Die hof het Dinsdagoggend gesê betogers mag nie ander munisipale werkers wat opdaag vir werk intimideer nie.

Die betogers mag ook nie op enige wyse met die dienslewering van die munisipaliteit inmeng nie, aangesien die munisipaliteit nou daarmee gelas is om dadelik dienslewering op die dorp te hervat.

Inwoners moes sonder voldoende vullisverwydering en allerlei ander broodnodige dienste klaarkom sedert die jongste staking sowat ʼn maand gelede opgevlam het.

Die hof het ook die polisie verplig om uitvoering te gee aan die interdik en teen enige nienakoming van die bevel op te tree.

“Indien die betrokkenes nie gehoor gee aan die bevel nie, geld dit as minagting van die hof. Die betogers moet daarvan verseker wees dat nóg ek nóg SG Coal, wat ook ʼn applikant in die saak is, agteroor sal sit as dit gebeur. Mense sal aanspreeklik gehou word as hulle die bevel verontagsaam.”

Brandmuller voer aan dat hierdie interdik die eerste stap is om die onwettige optrede van die werkers stop te sit en om “terug te keer na normale toestande en dienslewering”.

“Ek het geen probleem met enigiemand wat staak nie, solank dit regmatig gedoen word,” sê hy.

“Die dorp en sy inwoners kan dus nie verder gyselaar gehou word nie.”

Brandmuller het in die laaste deel van sy aansoek gevra dat die stadsraad ontbind word. Hy is van mening dat lede van die raad versuim het om te verseker dat dienste aan belastingbetalers gelewer word.

Die hof het Dinsdag dié deel van die aansoek uitgestel en die betrokke raadslede die geleentheid gegee om beëdigde verklarings af te lê, waarna enige party die saak vir beregting kan stel.

Die bepaling van koste is voorbehou met betrekking tot die bogenoemde uitstel.

Intussen duur samesprekings tussen die munisipale bestuur en verteenwoordigers van die werkers se vakbonde voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wielspore ·

Ek dink hierdie is ‘n model saak in die hof waar stakers die gewoonte het om enige plek of instansie gyselaar hou om hulle griewe te lig. Soos onlangs toe die pad na die KNP deur stakers toegemaak is omdat daar ‘n ander roete in die omgewing is wat nog nie geteer is. Mense is nou moeg vir allerhande stakings oor nietighede en onproduktiewe mense.

Nettie ·

Hoe verskriklik. Dat mense in hul privaat hoedanighede hofaansoeke moet rig en befonds, om dit waarop hulle geregtig is, af te dwing.

Om mense deur ‘n hofbevel te moet verplig om hul werk te doen – die onwettige stakers, die munisipaliteit, die polisie.

Wanneer ‘n staat nie meer sy basiese opdragte uitvoer nie, is dit dan nog geregtig om “staat” genoem te word, as sodanig beskou te word en betaal te word vir daardie basiese opdrag?

Elize ·

Dis omdat ons gedink het hulle gee om en hulle kan. Nou weet ons hulle gee nie om nie en kan nie. Hulle is nog in die slawe tydperk waar hulle net werk as hulle gedwing of geslaan word. Hulle is gevangene in hulle eie koppe.

Waarnemer ·

En wie gaan die polisie wie net staan en toekyk hoe die stakers optree te arresteer?In hierdie land van ons geld die landswette slegs vir blankes.Die kaders is mos vrygetel van die landswette en kan maar net doen waarvoor hulle lus het.

Henri ·

Mag hierdie ‘n waterskeidingsaak wees in Suid Afrika. Hierdie stakery en protesteerdery moet êrens end kry.

Swerwer ·

Kommuniste steur hul nie aan hofuitsprake nie. Dit sal net erger word.

Lourens ·

Waarom hou die munisipaliteit samesprekinge met die vakbonde indien die staking onwettig is? Dank eenvoudig die klomp summier af en stel ander werkers aan.

Oosieoos ·

Baie goed gedoen. Fire net die lot wat nie wil werk nie daar is baie wat werk soek

Tokkel ·

Hulle trek alles deur en dan soek hulle weer. Dit is hoekom die matriek slaagsyfer 33% is, want daar is geen breins om te dink aan gevolge nie

Petrus ·

Het iemand dalk al vir die stakers die uitslag van die hof se beslissing meegedeel, en indien wel, wat is die stakers se reaksie daarop? Is daar iemand wat dink dat die stakers hulle daaraan gaan steur? Ek vra maar net.

Michael ·

Jaag die klomp weg, daar is genoeg werklose en mense wat meer as bereid is om die werk te doen.

Elize ·

En die wese wat hierdie betogings gewettig het is lankal nie meer op hierdie aarde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.