Oorwinning teen SEB-wet

(Argieffoto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Die organisasie Sakeliga het ʼn grensverskuiwende oorwinning in die Konstitusionele Hof behaal nadat die land se hoogste hof Woensdag beslis het dat staatsinstellings nie meer voorafvereistes oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) mag stel en mense op grond van SEB mag uitsluit van staatsverkrygingsprosesse nie.

Dit was sedert 2017, nadat die Wet op die Raamwerk vir die Voorkeurverkrygingsbeleid in werking gestel is, die praktyk dat diegene wat nie aan SEB-vereistes voldoen nie, nie eens mag tender vir sekere staatskontrakte nie.

Die Konstitusionele Hof se uitspraak keer dit nou om.

Piet le Roux, hoof van Sakeliga, sê dit beteken alle tenders wat voortaan geadverteer word, mag geen sulke voorvereistes stel nie.

“Dit skaf SEB egter nie heeltemal af nie. Daar mag punte afgetrek word as daar nie aan SEB-kriteria voldoen word nie, maar daar mag nie voorafvereistes wees nie.

“Dit was ʼn absolute uitsluiting wat beteken het as jy nie aan SEB voldoen nie, mag jy nie eens tender nie. Nou is ons terug op die vlak waar almal mag deelneem.”

Le Roux sê dit beteken kontrakteurs wat nie aan SEB-vereistes voldoen nie, mag in die tenderproses gepenaliseer word. Daar kan dus punte by hul aansoek afgetrek word, maar hulle mag nie uitgesluit word nie.

Pravin Gordhan, destyds minister van finansies (en nou minister van openbare ondernemings), het die regulasies – dat voorvereistes gestel mag word – in 2017 uitgereik. Vantevore het SEB ʼn invloed op die toekenning van staatstenders gehad, maar dit was net een van die faktore wat in ag geneem is. Ná die wetgewing deurgevoer is, kon ʼn voorvereiste gestel word dat diegene wat nie aan SEB-vereistes voldoen nie van die hele proses uitgesluit word, pleks daarvan om net punte daarvoor te verloor.

Sakeliga het hom tot die howe gewend om die wetgewing ter syde te laat stel op die grondslag dat die minister buite sy magte opgetree het en die regulasies ongeldig is. Die hooggeregshof het die aansoek verwerp, waarna Sakeliga hom tot die appèlhof gewend het. Dié hof het in Sakeliga se guns beslis – dat die regulasies onregmatig was – waarna die minister in die Konstitusionele Hof gevra het dat die uitspraak ter syde gestel word.

“Omdat elke staatsorgaan bemagtig is om sy eie voorkeurverkrygingsbeleid te bepaal, kan dit nie ook by die minister van finansies berus om regulasies oor dieselfde veld te maak nie,” het die hof bevind.

Sakeliga het die uitspraak verwelkom.

“Dit is hoekom byvoorbeeld Eskom en munisipaliteite ineenstort, hoekom daar korrupsie is … omdat daar ʼn kunsmatige verkleining van die poel was en waar alles behalwe prys en doeltreffendheid – dus alles behalwe waarde vir geld – gegeld het,” sê Le Roux.

Hy sê ook Sakeliga is nog lank nie klaar met SEB nie. “Dít is ʼn belangrike stap in die regte rigting en Sakeliga sal deur die loop van die jaar verdere litigasie daaroor aankondig.

“SEB is een van die grootste struikelblokke vir kleinsake en nie net vir ondernemings wat deur wit mense besit word nie, maar ook vir ondernemings in swart besit. Dit trek die ekonomie skeef.

“Diegene met toegang tot politici kry kontrakte en tenders. Die waarde daarvan vir politici word belangriker as die waarde vir lede van die publiek en verbruikers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Dit sê nie veel nie en beteken nog minder, want hul gaan “punte” aftrek om nog steeds in hul doel te slaag. Absoluut tyd en geld mors gewees.

Johann ·

Groot oorwinning vir die beginsel van uitsluiting, net jammer ons is blootgestel aan n blatante diskriminerende ANC MAGS BASIS wat GEEN beginsel behalwe eie gewin nastreef nie!

Cherokee ·

Wat het geword van die Afrikaanssprekendes(!) wat tye gelede Gordhan wou verhef tot SP? Tjoepstil geword.

007 ·

Ja Jeep hy is nogsteeds ‘n kommunis en een van die big five wat ons land regeer. Selfde afstammeling as JZ.

Johannes_64 ·

Selfde mense wat die tenders toeken, so die saak maak nie saak nie!

Herman ·

Wat is die nut van tender uitwerk net om te weet jy gaan dit nie kry nie omrede jy nie voldoen aan hulle riglyne nie. Klink vir my hulle juig oor n verlore saak.

Ansie ·

SEB kos die staat ‘n klomp geld omdat diegene wat goeie SEB-punte het, hulle pryse kwaai opblaas.

dada ·

So almal kan nou aansoek doen vir tender, maar as jy nie aan SEB voldoen nie gaan jy tien teen een nie tender kry nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.