Oorwinning vir slagoffers van seksuele misdade

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

ʼn Baanbreker-uitspraak is Donderdag deur die konstitusionele hof gelewer wat ʼn einde bring aan die 20 jaar-tydsbeperking waarin vermeende seksuele oortreders vir hul misdade vervolg kan word.

Artikel 18 van die Strafproseswet tref ʼn onderskeid tussen verkragting en ander tipes seksuele oortredings en stel dit dat hoewel verkragting-beskuldigdes enige tyd vervolg kan word, is daar ʼn beperking op die tydperk wat seksuele oortredings aangemeld en die oortreders vervolg kan word. Seksuele oortredings verjaar ná 20 jaar en daarna kan die vermeende oortreder nie meer aangekla word nie.

Die konstitusionele hof het Donderdag beslis dat artikel 18 van die Strafproseswet teenstrydig met die grondwet is en het dus dié bepaling dat seksuele misdade verjaar as ongeldig verklaar.

Die uitspraak kom nadat agt beweerde slagoffers, die sogenaamde “Frankel Agt”, ʼn aansoek gebring het om dié bepaling in die Strafproseswet te betwis. Paul Diamond, George Rosenberg, Katherine Rosenberg, Nicole Levenstein, Marinda Smith, Lisa Wegner, Daniela McNally en Shane Rothquel het die aansoek gebring nadat hulle aangevoer het dat hulle deur die miljardêr-aandelemakelaar, Sidney Frankel, seksueel mishandel is toe hulle nog kinders was. Die beweerde oortredings het tussen 1970 en 1989 plaasgevind en die aansoekers was tussen ses en 15 jaar oud toe dit gebeur het.

Die Frankel Agt het aangevoer hulle het ernstige fisieke, emosionele en sielkundige trauma van die voorvalle oorgehou. Hulle voer aan hulle het eers tussen Junie 2012 en Junie 2015 ten volle besef wat die impak van die mishandeling op hulle was en het toe siviele en strafregtelike regstappe teen Frankel geneem.

Die direkteur van openbare vervolging in Gauteng het egter besluit om Frankel nie te vervolg nie, omdat die beweerde misdade verjaar het.

Die beweerde slagoffers het daarna die hooggeregshof genader om dié bepaling in die Strafproseswet te betwis. Hulle het aangevoer die bepaling is ʼn oortreding van hul regte op menswaardigheid, gelykheid en nie-diskriminasie.

Die hooggeregshof het in die Frankel Agt se guns beslis en bevind dat Artikel 18 die regte van oorlewendes van seksuele misdrywe minag. Die hof het sy beslissing vir 18 maande opgeskort om die parlement kans te gee om die nodige wysigings aan die wet aan te bring.

Die aansoekers het hulle daarna tot die konstitusionele hof gewend omdat hulle nie saamgestem het met die 18 maande-opskorting van die hof se beslissing nie. Die Frankel Agt het aangevoer indien die parlement versuim om die nodige wysigings aan die betrokke wetgewing aan te bring, sal die bewoording in die wetgewing steeds bly soos dit is wat dus nie die grondwetlike gebrek in die wetgewing sal aanspreek nie.

Die aansoekers het die konstitusionele hof gevra om die hooggeregshof se beslissing te beaam sonder die 18 maande opskorting van die beslissing.

Die konstitusionele hof het die hooggeregshof se beslissing ondersteun dat Artikel 18 die regte van oorlewendes van seksuele misdrywe minag. Die hof het gesê die grondslag van die gedeelte van die wet is gebaseer op die aanname dat sekere seksuele oortredings ernstiger is as ander, terwyl slagoffers van seksuele oortredings dieselfde persoonlike en maatskaplike trauma deurmaak, ongeag die aard van die oortreding.

Die konstitusionele hof meen artikel 18 plaas te veel klem op die aard van die oortreding ten koste van die slagoffer en benadeel die slagoffer deur hom of haar ná ʼn sekere tydperk te verhoed op aanklagte aanhangig te maak. Die hof het ook bevind artikel 18 ondermyn die staat se verpligting om alle geslagsgebaseerde misdaad en diskriminasie te voorkom.

Die konstitusionele hof het die parlement 24 maande kans gegee om die Strafproseswet aan te pas om dié grondwetlike teenstrydigheid reg te stel en het gelas dat die verjaring van seksuele misdade in dié tyd nie sal geld nie. Indien die parlement versuim om binne 24 maande die nodige wysigings aan te bring, sal die hof se beslissing finaal word.

Die hof het ook beslis dat die minister van justisie en korrektiewe dienste die kostes van die agt se aansoek moet betaal.

Frankel het drie maande voor die hooggeregshofuitspraak aan kanker gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GM ·

Gestel ek neem aan dat die 6-jarige die laaste slagoffer was in 1989, en die persoon was eerste om dit aan te meld in 2012, dan was die persoon om en by 29. Hoe vat dit jou SO lank om te besef wat die volle impak van die mishandeling was? En dan is die persoon wat die misdaad gepleeg het ‘n miljardêr? So dit wil voorkom of ‘n groepie saamstaan om geld te kry. Ek het simpatie met kinders wat gemolesteer word, en ek kan insien dat hul skaam sou wees om oor so iets te praat, maar dit gaan my verstand te bowe hoe mense vir hoe lank wegkom met sulke dinge, met verskeie slagoffers, en dan word daar NOOIT ‘n woord deur enige een gerep nie. En dan, uit die bloute, hoeveel jare later, is daar ‘n hele groep wat die stilswye eweskielik verbreek. Ek klink onsensitief, dis nie die bedoeling nie, maar geen geld gaan die oortreding regmaak nie, en die man wat beskuldig word, is oorlede. Ek hoop dit gaan suiwer net om die wetgewing verander te kry sodat ander slagoffers kan baat vind daarby.

Chris ·

Ek stem saam en hy is dood hoe gaan hy homself in die hof nou kan verdedig? Dit klink vir my nie so vars nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.