Oorwinning vir ‘stille meerderheid’ op Tuks-kampus

henrico-barnard-tuks-voorsitter-2017

Henrico Barnard is tot die voorsitter van die Universiteit van Pretoria se tussentydse studenteraad verkies. Hy is ‘n lid van AfriForum Jeug. Foto: Verskaf.

Henrico Barnard het nog die voorreg gehad om te sien hoe die Universiteit van Pretoria se studente jool met vlotte in die hoofstad vier, maar vanjaar is die jaarlikse liefdadigheidsaksie heeltemal afgeskaf.

“ʼn Mens kan dit verstaan, want dit was iets wat ʼn paar duisend rand vir liefdadigheid ingesamel het, maar nadat die vlotte die laaste paar jaar net op die LC de Villiers-sportgronde vertoon is, het dit meer gekos as wat ingesamel is. Dis maar waar ons onsself nou bevind,” het hy gesê.

Dit is dalk net een van die bewyse van hoeveel die studentelewe deesdae op universiteitskampusse in die land verander het.

Barnard, ʼn 24-jarige boorling van Centurion, wat vanjaar sy meestergraad in tegnologiebestuur voltooi en lid van AfriForum Jeug is, is verlede week tot die voorsitter van UP se tussentydse studenteraad verkies. Hy dien sedert 2015 op die universiteit se studenteraad.

Sy verkiesing tot die amp word beskou as ʼn oorwinning vir die sogenaamde ‘stille meerderheid van studente’, wie se stemme nie tydens die #FeesMustFall-veldtog gehoor is nie – of soms heeltemal ontken is – en dit is hierdie groep studente waarvoor Barnard homself nou wil beywer. Hy glo die meeste studente wil eintlik maar net op ʼn veilige kampus studeer.

“Ek wil nie hê net die hardste stemme moet op kampus gehoor word nie. Dit is vir my belangrik om ʼn atmosfeer op kampus te skep waar almal hul menings kan lug,” sê hy. Barnard reken die a-politiese tussentydse studenteraad kan help om ʼn groot verskil in hierdie opsig te maak.

Die UP se raad het ʼn tussentydse studenteraad as ʼn werkbare oplossing goedgekeur, nadat die studentraadsverkiesing verlede jaar na onrus op die kampus gekanselleer is.

“In die verlede het die studenteraad baie eensydige mediaverklarings uitgereik, wat sommer uit die staanspoor studente vervreem het. Ek dink dis belangrik om ʼn objektiewe beeld te skep deur beide kante van ʼn kwessie te belig.”

Verder glo Barnard as die studenteraad weer daarin kan slaag om ʼn gesonde studentelewe op die kampus aan die gang kry, kan dit ook ʼn geleentheid skep waar gedagtes uitgeruil word en verskillende kulture mekaar kan ontmoet, sonder om geforseerd te voel. Hy dink ʼn kampuskultuur, wat verskille akkommodeer, is beslis weer haalbaar op Tuks.

Barnard se mening oor die #FeesMustFall-veldtog is dat dit deur opportuniste gekaap en verpolitiseer is. “Dis nou net chaos en studente word mislei deur mense wat hul eie politieke agendas najaag en goedkoop sensasie soek.

“Daar is baie arm studente op kampus en in die land wat verdien om te studeer, maar alle studente verdien om te studeer. Iewers moet ook na die meriete van die saak gekyk word. Almal kan nie swot en dit boonop verniet doen nie, dit is eenvoudig net nie haalbaar nie.”

Hy reken die regering en die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) moet hul geld beter bestuur. “Net 4% van studente betaal hul NSFAS-lenings terug, maar daar is beslis nie net soveel studente wat hierdie lening ontvang het wat werk nie. Dit is nie regverdig teenoor die volgende behoeftige student wat wil studeer nie. As die skema fokus op die invordering van uitstaande gelde en hulself tot die inkomstediens wend om te help om uitstaande skuld te verhaal, sal dit beslis ʼn stap in die regte rigting te wees. Dit sal die eerste stap wees na ʼn volhoubare oplossing.”

Volgens Barnard is die kwessie van Afrikaans as onderrigmedium tans ʼn uiters sensitiewe kwessie op die kampus. “Ek het gesien hoe die onmiddellike verandering van die taalbeleid verdeeldheid op die kampus veroorsaak het. Ek voel die universiteitbestuur het die hele kwessie swak bestuur en nie wyd genoeg gekonsulteer nie.”

Hy sê die taalbeleid sal beslis op die studenteraad se agenda wees en dit is iets wat deur dié raad hanteer kan word. Die raad het egter nog nie oor die behoud van Afrikaans gepraat nie, maar Barnard voel daar moet gevra word of die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal op UP die regte besluit was.

“Ek het al met ander universiteite se studenterade gesels en iets waaroor ons saamstem, is dat alle Afrika-tale tot akademiese vlak ontwikkel kan word.”

Barnard is deeglik bewus dat die jeug die mense is wat oor vyf jaar van nou af werkbare oplossings moet vind vir probleme wat Suid-Afrika nou knel. “Ons moet nou al begin handevat en kyk waarin ons kan saamstem.”

Barnard het ʼn eenvoudige boodskap vir sy medestudente vir 2017: “Sorg dat jy soveel as moontlik uit jou tyd as student kry. ʼn Mens kan soveel blootstelling aan verskillende fasette van die lewe in hierdie tyd kry. Leer bymekaar, leer uit ander se foute.

“In hierdie moeilike tyd is dit belangrik dat jy jou graad kry en kan bydra tot die land, want so kan ons Suid-Afrika vorentoe vat. Ons grade is die enigste ding wat ons in gemeen het en as ons trots op ons instelling is, kan ons ook trots op ons graad wees – dit is iets wat werknemers sal sien.

“En geniet jou studies – dit hoef nie altyd so ernstig te wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna Botha ·

Baie sterkte hoop die mense luister wat nie wil hoor nie want soms al praat mense sence wil hulle net dwarstrek tenkoste van alles en almal on politieke gewin.

Sterkte ·

Sterkte boet, moenie te vinnig bly raak nie, die betogers en bestuur vee hulle af aan enige hofsaak of enige besluit wat geneem is, hulle stoom net voort en vernietig. BAIE STERKTE .. julle gaan nie hierdie geveg wen nie. DIE ANC gaan nie gelukkig wees voor Afrikaans, die Afrikaner en Blanke nie heeltemal gebreek en vertrap is nie.

Vincent ·

Ek is bruin en ook n Afrikaner. Hou op praat van blankes.

AL ·

Mooi so Vincent! Dankie vir jou bydrae. Ons as blankes is so gewoond om sleggese te word dat ons gedurig op die verdedigende voet is. Henrico Barnard jy is n oopkop man. Met jou siening en uitsig is jy n aanwins vir enige universiteit.

Abo ·

Aan Vincent en ander. Lees bietjie die verskil tussen Afrikaner, Boer en Afrikaanse op Wikipedia en ander artikels. Sommige swartes beskou hulself ook as “Afrikaners” maar dan verskil hul in kultuur en geloof nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.