Oorwinning vir studente ná NSFAS finansiering staak

(Foto: Unsplash)

Die hooggeregshof in Kaapstad het ʼn besluit van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) dat ʼn groep studente se finansiering vir hul studies opgeskort word, ter syde gestel.

Die hof het gelas dat die studente, Rozanne Jonck, Lianne Steyn en Jan Albert Jordaan, geregtig was op die geleentheid om voorleggings aan NSFAS te doen oor enige besluit om hul finansiële bystand op te skort, voor dit gedoen is.

Luidens die hofstukke het die drie studente hulp by die skema gekry vir die finansiering van hul 2020- akademiese jaar, maar dit is in Mei van dieselfde jaar gekanselleer.

Die drie studente het die organisasie AfriForum Jeug genader nadat die finansiering van sowat 5 000 studente teruggetrek is. Die saak is verlede jaar al aangehoor en regter Mark Sher het Woensdag uitspraak gelewer.

NSFAS het beweer dat die studente oneerlik was met hulle aansoeke. Die instelling het ook SMS-boodskappe aan die studente gestuur waarin beweer is dat inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang is wat aandui dat die studente se huishoudelike inkomste meer as R350 000 per jaar is.

AfriForum sê in die hof is erken dat NSFAS nie die inligting van die inkomstediens ontvang het nie, maar wel van ’n kredietagentskap wat bloot huishoudelike inkomsteskattings gemaak het.

Die regter het hierdie bekentenis as uiters kommerwekkend beskryf.

Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug, sê die organisasie is teleurgesteld dat net sommige studente weens die uitspraak verligting sal kry en nie die hele groep wat deur die aanvanklike besluit benadeel is nie.

Die organisasie oorweeg regstappe om te appelleer teen die hof se besluit om nie ook in die guns van die res van die groep te beslis nie.

“AfriForum Jeug moedig die publiek aan om private beursskemas soos dié van AfriForum Jeug en Solidariteit Helpende Hand te ondersteun, aangesien dit duidelik is dat staatsondersteunde fondse die studente, soos in hierdie geval, lelik in die steek kan laat,” sê Pieters.

“Met staatsverval is instellings soos NSFAS nie bevoeg om met die toekoms van die Suid-Afrikaanse jeug vertrou te word nie. Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid vir hulle jongmense se ontwikkeling aanvaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AW ·

MM lede en lesers kan maar vies wees vir my, tog dis baie duidelik dat al hoe minder wit kinders , enige vorm van hulp sal kry in die toekoms, Meeste wit kinders , sal nie eens n geleentheid kry om aan die agter speen te suig nie!!

Wit ouers sal uit die boks moet dink om hulle kinders n alternatiewe geleentheid te gun waar dit by verdere studies kom …..

Mariana ·

Jy is nie verkeerd nie, baie wit kinders kan nie verder gaan studeer nie want hulle kan dit nie finansieël bybring nie, maar die instansies wat wel kan help, wrier.

Anel ·

Wit Afrikaanse kinders!!!En waar dink hulle kom die geld vandaan om vir die menigtes gratis opleiding te gee? En hoeveel van hulle slaag werklik en misbruik nie die geld nie?

Tanniepetoors ·

Die terugtrekking was van toepassing op studente van verskillende rasse. Asseblief, nie alles is spesifieke diskriminasie nie. Partykeer is dit blote onnoselheid wat sulke besluite tot gevolg het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.