Oorwinning vir Transnet-pensioenarisse

transnet-learnershipsTwee pensioenarisse het Donderdag verlof gekry om ‘n R80 miljard-klasaksie teen Transnet en sy pensioenfondse in te stel.

Regter Ephraim Makgoba het in die hooggeregshof in Pretoria ‘n bevel uitgereik waarvolgens Johan Pretorius en Johan Kruger namens Transnet se 62 000 verarmde pensioentrekkers ‘n klasaksie kan instel, in ‘n poging om nagenoeg R80 miljard se bates en belange te verhaal.

Die pensioenarisse beskuldig Transnet daarvan dat hy die Tweede Transnet Vaste Voordeelfonds gestroop het en tot so mate wanbestuur het dat die fonds nie sy verpligtinge teenoor sy lede kan nakom nie.

Transnet is ook daarvan beskuldig dat hy probeer om die pensioenfonds te ontbind. Die verhoging wat die pensionestrekkers ontvang is die afgelope dekade tot 2% per jaar beperk

Die hof het tydens Pretorius en Kruger se aansoek gehoor dat talle pensioenarisse slegs sowat R1 per maand ontvang. Sowat 80% van die pensioenarisse ontvang minder as R4 000 per maand en 62% ontvang minder as R2 500 per maand.

Meeste van die pensioenarisse is tussen 70 en 90 jaar oud. Die oorgrote meerderheid van die pensioenarisse moet bedel om in hul basiese behoeftes te voorsien en talle het al selfmoord gepleeg.

Transnet het 2001 staatseffekte ter waarde van R7,7 miljard verruil vir aandele in M-Cell. Die staatseffekte het vir die fonds ‘n inkomste van R1,2 miljard per jaar besorg. Daar is egter geen aanduiding dat die fonds enige inkomste uit die M-Cell-aandele gekry het nie.

Die aandele is in 2006 vir ‘n verlies verkoop.

Die pensioenfonds, Transnet en die ministers van finansies en openbare ondernemings het die aansoek teengestaan. Hulle voer aan daar is geen gronde vir die aansoek nie, en dat dit ‘n mors van tyd, moeite en geld is.

Regter Makgoba het in sy uitspraak opdrag gegee aan Metropolitan, die administrateur van die fonds, om die applikante te help om lede van die fonds in te lig oor die beoogde klasaksie. Daar moet ook ‘n kennisgewing in koerante gepubliseer word.

Pretorius en Kruger het 60 dae om die klasaksie in te stel. Transnet is beveel om die regskoste van die aansoek te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Prys die Here – het familie wat al jare LY onder hierdie ongeregtigheid – ek hoop dat Transnet se mediese fonds hierby ingesluit is! Hulle weet te vertel dat ‘n heupvervanging KOSMETIES is en weier om toestemming te gee daarvoor!

m.j.barnard ·

Ek het vir transnet gewerk as n trajekbestuurder en is op pensieon in 2010. On shet ook bygedra tot die pensieon fons maar is later oor voorsorg fons toe waar ek my geld sels moes belê. Ek kon nie enige verhogings op my geld vat nie vir die laaste vier jaar anders sou my geld minder wees as wat ek in gesit het. Toe die bates verkoop is soos die Kaapse water front het ons ook gee voordele daar uit getrek nie. Is ons nou maar uit die prenkie gegooi of waar pas ons in.

Michael Barnard
Kroonstad

Johann Roux ·

Hoe kan hierdie gewetenloses dit oor die hart kry om ‘n pensioenfonds so te plunder?

Vader.

Ons bid vir die regslui, wat vir ons pensionarisse verskyn, vir deursettingsvermoë, insig en krag. Hulle het met hul swaarverdiende geld bygedra tot hierdie pensioenfonds.

Vader, voorsien asseblief in hulle behoeftes.

Die nood is groot.

Amen.

Y. Sim ·

Wil graag weet of bestaande werkers ook geraak word deur die regsaksie en hoe word ons toekomstige pensioen en aftrede geraak?

Y. Sim ·

Kan familie van pensioenarisse wat onlangs oorlede is ook deel uitmaak van die klasaksie?

Evert Nienabet ·

Sover so goed hoop net dat die hofsaak ook sukses vol sal wees. Het 32 jaar vir Transnet as n treindrywer gewerk waarvan ek 15 jaar by die vakbond betrokke en dagliks gesien hoe swaar die ou mense kry. Van hulle het hul huise verkoop en bly in Jan Rigter tehuis in Pmb. Lyk net soos n Spoorweg hostel en jy word ook so behandel.

Hermias ·

En die “fatcats” reken dis n mors van geld, die hofsaak. So in my onkunde om in verlies te verkoop is nie mors van geld ni. Wavoor skerm die klomp transnet fatcats? Die mense wat jul nu skroef het transnet opgebou met bloed en sweet. Transnet hoop jul kry slae, van die pension mense.

cobus van burick. ·

Ek was ,n treindrywer en het 38 jaar diens gehad toe ek in 1992 afgetree het , elke jaar as ek die 2 persent verhoging kry dan styg die bydrae van transmed ook en my pensioen word met 180 rand minder as die voriger jaar. Ek en my vrou is albei oor 75 jaar en ons sukkel om kop bo water te hou.Baie dankie vir die regs mense wat so hard en geduldig vir ons pensioenarise gestry en werk het ons glo dat daar op ons oudag verligting gaan kom!

Henry ·

Ek dink hulle moet Maria Ramos ook oor die kam skeer. Dis onder haar bestuursvernuf wat hierdie wanbestuur plaasgevind het…

berta van loggerenberg ·

ek sal ook graag wil weet of die kinders van mense wat onlangs oorlede is iets daar gaan uitkry ek voel dit is niks minder as reg nie die hof het al hoe lank terug beveel Transnet skuld die oumense daai geld en intussen is van hulle oorlede!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.