Oorwinning vir UV-studente wat nie wil ent

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: University of the Free State/Facebook)

Die aansoek in die Vrystaatse hooggeregshof oor die Universiteit van die Vrystaat (UV) se verpligte inentingsbeleid is verlede week deur Free State for Choice (FS4C), ʼn organisasie sonder winsoogmerk, teruggetrek nadat maatreëls vir dié wat nie teen Covid-19-ingeënt is nie, verslap is.

Volgens FS4C behels die nuwe maatreëls dat oningeënte studente nou ʼn heelwat goedkoper antigeentoets, wat vir agt dae geldig is, kan wys om toegang tot al drie die universiteit se kampusse te verkry. Die gebruik van mediese maskers in die buitelig is ook afgeskaf, terwyl diskriminerende hekname – soos die gebruik van die term “oningeëntes” –voorts nie gebruik sal word nie.

FS4C het die nodige aanpassings aan die beleid verwelkom.

“Hierdie veranderinge stem sterk ooreen met die druk wat FS4C en die groter gemeenskap wat in solidariteit met FS4C staan, op die universiteit toegepas het,” sê dr. Willie Shaw, direkteur van FS4C.

Volgens Shaw het die organisasie die saak teruggetrek nadat ʼn skikking met die universiteit bereik is en het dit geen betrekking op die meriete van die saak nie.

“Dit beteken nie dat FS4C ʼn swak saak gehad het of dat ons die saak op enige manier verloor het nie.”

Die universiteit verskil egter met FS4C hieroor en sê aanpassings aan die beleid is gemaak bloot op grond van veranderings aan die regeringsbeleid rakende die bekamping van die koronavirus.

“Dit moet beklemtoon word dat nie een van hierdie veranderinge gemaak is as gevolg van enigiets wat in die dokumente vervat is wat deur FS4C ingedien is nie.”

FS4C het in Januarie vanjaar ʼn aansoek by die Vrystaatse hooggeregshof ingedien waarin hy ʼn dringende interdik aangevra het wat die UV se implementerings van sy inentingsbeleid sal keer. Dié aansoek is egter later van die hofrol verwyder weens ʼn gebrek aan dringendheid.

In ʼn verklaring sê die UV die beleid is onderworpe aan gereelde hersiening en is onlangs gewysig om voorsiening te maak vir veranderinge aan die regulatoriese raamwerk, asook om die mees onlangse wetenskaplike en mediese bewyse wat beskikbaar is, in ag te neem.

“Die universiteit bly daartoe verbind om ʼn veilige omgewing vir al sy personeel, studente en ander persone wat ons kampusse moet betree, te verseker.”

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lourens ·

“Nie-winsgewend” beteken bedryf teen ‘n verlies, maar die entiteit kan wel ingestel wees op wins. Dis gewoonlik kommersiële entiteite se doelwit – om wins te maak, maar omstandighede (bv. inperkings of resessie) kan hulle in ‘n verliessituasie indwing.
“Nie-winsbejag” wys op die ingesteldheid/doelwit. Dis gewoonlik diensorganisasies wat ten doel het om sekere aksies te loods en resultate te verkry.
FS4C is een so ‘n nie-winsBEJAG organisasie.

Miskruier ·

“Why do the protected need to be protected from the unprotected by forcing the unprotected to use the protection that did not protect the protected in the first case? Imagine a vaccine so safe you have to be threatened to take it for a virus so dangerous you have to be tested to see whether you have it or not”

Harley Davidson ·

Dit is goed so n mens moet n keuse hê en die Bybel waarsku teen hierdie dinge.

Samuel ·

Die ewige gekarring oor inent of nie. Dit is so vervelig. Mens kan jou nie met ‘n ent uit die pandemie stuur nie. Die sogenaamde entsof is boonop volgens die jongste navorsing ook nie so veilig nie.

Sarie ·

Daardie navorsing sal nooit gepubliseer word in die media nie

Carin ·

Waarom moet slegs “oningeëntes” toets?? As “ingeëntes” ook die virus kan opdoen en versprei, waarom moet hulle nie ook toets nie?

Nico ·

Dit is ‘n skande dat ANC regering inbreuk maak teen die vryheid van spraak en die reg om self te besluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.