Oos-Kaap 75% van sy reserviste kwyt

Argieffoto: SAPD

Die Oos-Kaapse polisie is oor die afgelope ses jaar driekwart van sy reserviste kwyt – ʼn reuseterugslag vir die veiligheidstandaard in die provinsie. Die DA is egter oortuig daarvan dat talle inwoners bereid sal wees om as reserviste aan te meld – as die polisie net hierdie bereidwilligheid sal inspan.

Die DA sê Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR van gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het oor die jare die skoksyfers in antwoorde op parlementêre vrae aan die party onthul.

Tikana-Gxothiwe het in die 2015-’16-boekjaar gesê dat die polisie 2 017 reserviste tot sy beskikking het. Hierdie syfer het intussen (2021-’22) tot slegs 524 gedaal.

Sowat 75% van die provinsie se reserviste het dus oor die afgelope ses jaar die polisie verlaat.

Slegs 304 van die polisie se huidige reservistegroep is al vanjaar ingespan, met die res van die vrywilligers wat nog wag om voldoende opleiding te ontvang. ʼn Groot aantal reserviste kan weens Covid-19-kapasiteitsbeperkings op die venue wat die polisie gebruik, nie gelyktydig opgelei word nie.

Bobby Stevenson, woordvoerder van gemeenskapsveiligheid in die provinsie, sê dit is broodnodig vir die betrokke departemente en die polisie om planne te beraam en betrokke te raak by veldtogte om nog polisiereserviste te werf en op te lei.

“Dit maak geen sin vir die polisie om toe te laat dat die aantal reserviste afneem nie, aangesien hulle ʼn waardevolle kragtevermenigvuldiger is,” sê hy.

“Dit is nou veral belangrik gegewe die tekort aan polisielede in die Oos-Kaap en die gemeenskap se oproep vir meer sigbare polisiëring.”

Die DA glo misdaadbekamping is ʼn vennootskap tussen die gemeenskap en die polisie. “Die polisie kan dus nie alleen die oorlog teen misdaad wen nie. Ons benodig meer stewels op voetsoolvlak en groter gemeenskapsdeelname as deel van die oplossing.”

Volgens Stevenson daal die misdaadsyfer van ʼn gebied met tot 40% wanneer daar ʼn hoë vlak van sigbare polisiëring is. Dit is juis om hierdie rede dat reserviste so ʼn belangrike hulpbron vir die polisie is.

“Stasiebevelvoerders moet uit hul pad gaan om te verseker dat toestande bevorderlik is om polisiereserviste te lok. Dit beteken dat daar voertuie vir hulle beskikbaar moet wees en die nodige toerusting en geleenthede om vir vuurwapentoetsing en ander opleiding te gaan,” sê hy.

“Ons wil sien dat die strate van ons provinsie veilig is vir ons kinders om in te speel, vroue om in te stap en sakeondernemings om in te funksioneer. ʼn Verbeterde klimaat van veiligheid en sekuriteit is ʼn voorvereiste vir belegging en werkskepping.

“Met die regte strategieë kan ons die oorlog teen misdaad wen en om meer polisiereserviste te hê, is net een daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Sover my kennis strek werk reserviste verniet. In vandag se tye kan mens nie werk sonder een of ander vergoeding nie. Moet die die reserviste nie dalk vir hul diens vergoed word nie ?

Anel ·

Reserviste wat ‘n sekere tyd gewerk het word deesdae kollege toe gestuur vir ‘n verkorte kursus en dan permanent aandestel. Mense wil nie meer verniet werk nie en dring aan op vergoefing of permanente aanstelling. Verder dring hulle ook aan op die beste voertuie, toerusting en wat ook al. Permanente lede moet terug staan want die mense op hul vryetyd op. Wat ‘n bog storie. Nog nooit regtig tyd gehad vir reserviste nie, want hulke maak van jou werk ‘n stokperdjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.