Oos-Kaap-beamptes geskors oor tref-en-trap

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Twee polisiekonstabels van die Oos-Kaap is Donderdag geskors ná ʼn noodlottige tref-en-trap-ongeluk.

“Ek veroordeel die betrokke beamptes se gedrag ten sterkste,” het lt.genl. Celiwe Cynthia Binta, provinsiale polisiekommissaris, in ʼn verklaring gesê. “Dit is nie die tipe gedrag wat ons van polisiebeamptes verwag nie en ons is uiters teleurgesteld in hulle gebrek aan dissipline, professionalisme en sorg.”

Pumlile Deyi (23) van Soweto on Sea in Port Elizabeth is Sondag deur ʼn gemerkte polisiemotor getref toe hy op die sypaadjie in Stofilestraat in New Brighton geloop het.

“Die polisievoertuig het nie ná die ongeluk stilgehou nie en weggejaag,” het Binta gesê.

Deyi het kopbeserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

Die beamptes wat met die motor gery het, het ook versuim om die ongeluk aan te meld nadat hulle skof geëindig het. “Hulle het nie aan hul bevelvoerder gesê wat gebeur het nie,” het sy bygevoeg.

ʼn Nadoodse ondersoek is Woensdag gedoen en die motor is ook ondersoek. “Ek het daarom seker gemaak dat die kennisgewings van onmiddellike skorsing vroeg vanoggend op die twee lede bedien word.”

Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat kon nie dadelik bereik word om te bevestig of die beamptes krimineel aangekla sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerrit ·

Weereens `n bewys watter tipe polisiebeamptes ons het !

“To protect and serve”..we protect ourselves and serve our masters.

Ons is meer onveilig met polisie teenwoordigheid as sonder hulle.

Drieks ·

Ek baaaie bang vir die mense in blou. Arogante, dom, oningeligte, BEE aanstellings wat die land moet veilig hou. En lewe op omkoop geld. ANC se trots wat hul geskep het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.