Oos-Kaap: Fel stryd om die Baai

Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth Foto: Niel Grundling, Panoramio (via stadiumdb.com)

Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth Foto: Niel Grundling, Panoramio (via stadiumdb.com)

In die Oos-Kaap sal alle oë tydens die munisipale verkiesing op Nelson Mandelabaai wees waar ʼn fel stryd tussen politieke partye woed.

Prof. Joleen Steyn-Kotze, politieke ontleder van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, sê dis egter baie moeilik om te voorspel wie as oorwinnaar uit die stryd gaan tree. “Selfs Ipsos se meningspeilings wys dat 15% van diegene wat deelgeneem het nog nie weet vir wie hulle gaan stem nie.”

In die munisipale verkiesing in 2011 het die ANC 377 138 (51,91%) van die stemme op hom verenig in Nelson Mandelabaai. Die DA het 291 571 (40,13%) van die stemme gekry. In die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014 het die ANC 212 862 (48,81%) van die stemme gekry, die DA 177 952 (40,80%) van die stemme en die EFF het 18 077 (4,15%) van die stemme op hom verenig.

Volgens Steyn-Kotze het die ANC se steun in 2007 al begin afneem ná die Polokwane-konferensie waar Jacob Zuma vir Thabo Mbeki geklop het. “Dit het twee kampe tot gevolg gehad in Nelson Mandelabaai en tot binnegevegte gelei. Lede van een van die ANC-faksies het byvoorbeeld nie vir vergaderings opgedaag nie en dus kon daar nie besluite geneem word oor begrotings en dies meer nie. Dit het tot ʼn direkte uitwerking op dienslewering begin lei en met gewelddadige betogings gepaardgegaan.”

Steyn-Kotze sê verder is daar bewerings van ernstige korrupsie, onregmatige en verkwistende besteding en potensiële wanpraktyke in sekere departemente. “Danny Jordaan is as burgemeester in Nelson Mandelabaai aangestel met die ANC se nasionale leierskap wat die aanstelling onderskryf het. Die ANC was maar te bewus van hul steun wat erg kwyn in die metro en dit was ʼn simboliese knou aangesien die metro ANC-hartland was – die tuiste van ANC-legendes en strugglehelde.”

Volgens Steyn-Kotze het Jordaan goed gevaar om op administratiewe vlak weer ʼn verskil te maak, hoewel dit nog nie noodwendig oorgespoel het in dienslewering nie. “Die DA het aan die ander kant ʼn baie aggressiewe verkiesingsveldtog in die Baai en het vroeg begin. Die party se fokus is sterk op dienslewering en hy hou Kaapstad en die Wes-Kaap in geheel as voorbeeld voor.”

Die moontlikheid van koalisies kan egter ook nie uitgesluit word in Nelson Mandelabaai nie. Steyn-Kotze sê al die betrokke politieke partye is tans daarop gefokus om te wen, maar indien geen party ʼn meerderheid kry nie, sal hulle realisties moet kyk na dié moontlikheid. Sy meen die EFF, UF en UDM kan ook nog ʼn rol speel.

Die ANC se steun het min of meer dieselfde gebly in die nasionale en provinsiale verkiesing in 2014, in vergelyking met die vorige verkiesing in 2009. Die DA het in 2014 as amptelike opposisieparty in die provinsie by Cope oorgeneem. Die ANC het 1 528 345 (70, 09%) van die stemme in die Oos-Kaap op hom gevestig. Die DA het 353 316 (16,2%) van die stemme gekry, die UDM 134 280 (6,16%) en die EFF het 75 776 (3,48%) van die stemme gekry.

NOTA: Die totale aantal stemme is die totale aantal wyk- en proporsioneleverteenwoordiging-stemme.  

Lees alle berigte oor die verkiesingsfokus op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

johann cb ·

Danny Jordaan is die spreekwoordelike wolf in skaapklere, glo my! Ek woon in hierdie Metro en sy “sjarme”, tesame met die groot meerderheid kiesers van kleur wat werkloos is, kan dinge vir die DA baie moeilik maak. Die mense besef egter nie dat hulle nie net op beloftes kan leef nie…

Rapes ·

En toe stel hulle vir Danny Jordaan aan nadat die sokker bedrog op die lappe gekom het. Hy was deel daarvan, maar bewys net die hele spul in die anc is korrup.

jaco ·

ek wonder nou nog hoe het Danny Jordaan hierdie pos gekry. Hy is dan ‘n Kleurling en as dit by regstellende aksie kom, word daar hoeveel keer vir Kleurlinge gese “jammer maar julle is nie swart genoeg nie”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.