Oos-Kaap gekap oor 100 nooddiens-motorfietse

Nooddiens-motorfietse in die Oos-Kaap (Foto: Zweli Mkhize/Twitter)

Die departement van gesondheid in die Oos-Kaap word uit verskeie oorde gekritiseer vir die aankope van 100 mediese nooddiens-motorfietse om pasiënte in afgeleë gebiede te bereik.

Die projek is Vrydag bekendgestel.

Theo Coetzee, woordvoerder van die VF Plus, het gesê sy party beskou die aankoop van die motorfietse as ʼn bewys van Sindiswa Gomba, die provinsiale LUR vir gesondheid, se onvermoë om krisisbestuur toe te pas. “Alhoewel die aankoop van motorfietse geregverdig mag word, is die aankoop van ʼn honderd daarvan moeilik regverdigbaar. Dit is sinneloos om pasiënte op verafgeleë plekke te gaan haal terwyl die provinsie se hospitale en klinieke nie behoorlik funksioneer nie.”

Die Ekonomiese Vryheidsvegters in Buffalo City het ook die gebruik van die motorfietse bevraagteken. “Hoe kan mens verwag dat die skedonkies in ons binnelandse dorpies kan werk met paaie wat uitmekaar val en min tot geen infrastruktuur het nie?” het Siya Rumbu, woordvoerder van die EFF in die munisipaliteit, gevra.

“Ons mening is dat die regering eerder die paaie moes regmaak en mobiele klinieke moes verskaf soos vragmotors of 4×4’s.” Rumbu wou ook weet hoe ʼn “baba-stootwaentjie” ʼn baie siek pasiënt op ʼn reënerige dag gaan vervoer. “Indien ʼn pasiënt op pad na die hospitaal sterf, sal daar van die bestuurder verwag word om met die lyk na die hospitaal te ry – vir almal om te sien?”

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement, het intussen in ʼn verklaring gesê die motorfietse vorm nie deel van sy nooddiensvloot nie en sal nie kritieke of noodgevalle na hospitale vervoer nie. Volgens die departement sal dit slegs vir gesondheidsopvoeding en bewusmakingsveldtogte gebruik gemaak word.

Nooddiens-motorfietse in die Oos-Kaap (Foto: Zweli Mkhize/Twitter)

Die projek was glo reeds aan die gang nog voor die uitbreking van die koronavirus-pandemie. ʼn Bykomende 150 persone is aangestel om met die motorfietse rond te ry as deel van sy primêre gesondheidsorg-uitreikingsprogram.

“Die departement het ʼn driejaarooreenkoms aangegaan met ʼn maatskappy in King Williams Town ná ʼn deursigtige en mededingende tenderproses,” het Kupolo verduidelik.

Die kontrak, van R10,1 miljoen, sluit die aanskaffing van die motorfietse in teen R94 000 per eenheid plus R6 000 vir instandhouding. Altesaam 200 persone is aangestel tydens die vervaardiging van die motorfietse.

Die motorfietse het beddens, gazebo’s en ekstra sitplek beskikbaar.

“Toe die provinsie ʼn cholera-uitbreking gehad het, is soortgelyke ingrypings geïmplementeer vir uitreiking na die gemeenskap,” het Kupelo bygevoeg. “In die stryd teen Covid-19 en ander siektes in die provinsie, sal ons steeds van kreatiewe maniere gebruik maak om dienslewering na die gemeenskap te bespoedig.”

Hy het die gemeenskap van die Oos-Kaap gerus gestel dat nooddienste steeds sal voortgaan om van gespesialiseerde voertuie, helikopters, en pasiëntvoertuie gebruik te maak wat deur gekwalifiseerde paramedici en ambulanspraktisyns bedryf sal word.

Rumbu het bygevoeg die EFF verwerp die “grap” deur die Oos-Kaapse departement van gesondheid en versoek die regering om die waardigheid van ʼn swart kind te respekteer. “Die feit dat die meerderheid van ons mense nie mediese fondse of privaat gesondheidsorg kan bekostig nie, beteken nie dat hul menswaardigheid geskenk moet word nie.”

Volgens Coetzee is daar verskeie provinsiale hospitale en klinieke in die Oos-Kaap wat nie in staat is om te voldoen aan verwagte dienslewering nie. Dit word veroorsaak deur personeel wat weier om te werk weens agterstallige oortyd-vergoeding en ʼn tekort aan beskermende klere.

Verskeie eenhede van die Livingstone-hospitaal in Port-Elizabeth funksioneer nie, afvalmateriaal in plastieksakke hoop op in die gange en linne word nie gewas nie.

“Belangrike klinieke soos Motherwell Community Health Centre het reeds sy deure gesluit weens die tekort aan persoonlike beskermende toerusting. Die situasie bring mee dat ernstig siek pasiënte weggewys moet word,” het Coetzee bygevoeg. “Die Cecilia Makiwane-hospitaal het drie eenhede gesluit nadat personeel Covid-19 opgedoen het.”

Coetzee het bygevoeg die VF Plus in die Oos-Kaap verwag dat Gomba verantwoordelikheid moet aanvaar vir die swak toestande by provinsiale hospitale en klinieke en moet toesien dat die probleme reggestel word, veral met die verwagting dat die siekte vinnig gaan versprei in die provinsie. Volgens hom is die provinsie tans nie gereed nie. “In die lig van ʼn nie-funksionerende departement van gesondheid en ʼn LUR wat nie opgewasse is om die huidige pandemie te bestuur nie, dring die VF Plus daarop aan dat die LUR vervang moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Niklaas ·

How lank behoort dit te vat voordat 87 van hierdie items stukkend en onbruikbaar is.?

Loompa ·

Belaglik. Jy bel nie vir ‘n ambulans om dorp toe te gaan nie. Dis 99% van die tyd vir lewe en dood.

ooknetmens ·

Jy sal verbaas wees. Meeste van die tyd word ambulanse gebruik vir nie lewensbedreigende situasies. Die meerderheid van die bevolking het nie transport nie, in afgelee areas ook nie publieke transport nie, en bel dan die ambulanse vir ‘n seer maag, n gebreekte toon etc. Dan kos dit die staat anper R10 000 om net weer die ambulans te ontsmet.

Maya ·

Ai tog, enige positiewe poging word dadelik afgeskiet as korrup of iets negatief. Ja, dit voel of niks meer reg of goed gedoen kan word in hierdie tye nie, maar gee tog maar soms erkenning aan die wat ‘n poging aanwend om te help waar hulp nodig is, selfs al is dit om ‘n motorfiets te gebruik om by siekes uit te kom.

Baardman ·

Dan moet die poging realisties wees. Stel jou voor hoe lyk n pasient met n gebreekte heup teen die tyd dat hy/sy by die hospitaal uitkom, al lêend op n 4×4 bike

BoerSonderRoer ·

Hulle kos eerder 5 Hilux bakkies gekoop het as om 100 promponies the koop.

Johan ·

Doen iets wat jy weet kan werk jy toets mos nou met die poging persone se IK tot n leerling in graad een kan vir jou se dit gaan nie werk nie. Al wat hier gebeur is dat een persoon in King Williams town R8 miljoen ryker is.

Adrian ·

Lyk of daar Partye is wat bietjie jaloers is omdat húlle nie aan so ‘n plan gedink het nie…

Die Wolf ·

Sal nie lank wees nie dan staan dit erens in n pakhuis en vergaan.

pokkel ·

Nee dankie ek stap eerder hospitaal toe terwyl politici met sooibrand in ‘n helikopter na die beste privaat hospitaal gevlieg word

Baardman ·

Iets pla my deesdae: As die proses so deursigtig was, waarom wag die opposisiepartye tot die geld klaar vermors is, voordat hulle dit aan die groot klok hang. Daar is mos n besluitnemingsproses waarby al die partye betrokke is, of is dit deesdae makliker om na die tyd klippe te gooi, eerder as om die probleem te beveg.

Nie Verbaas ·

R94000 per eenheid. Die motorfiets sonder sidecar kos R8655 so modifikasies en sidecar kos R85345? Dan nog R6000 per eenheid vir onderhoud? Oor hoe lang tydperk? Die mense moet dink ons is onder kalkoene uitgebroei. N mobiele 4×4 eenheid sou beter gewees het om na die mense toe te gaan. Nou moet 150 drywers nog aangestel word wat meeste van die tyd gaan sit en niks doen nie. Mooi gedink daar.

Cleopatra69 ·

Die probleem is nie soseer die motorfiets ambulanse nie maar die hoeveelheid wat bestel is en die tender proses. Waar kry hulle nou soveel personeel met motorfiets lisensies. Laat mens wonder, word
vriende nou weer aangestel

Vranet ·

Nog ‘n Chinese maatskappy wat uit die pandemieput skep! En die 10 nuwe bakkies wat in die agtergrond staan? Wonder watter tenderpreneurs het hieruit geskep?

Lindi ·

Ek verstaan nie die doel van die motorfietse nie. “Volgens die departement sal dit slegs vir gesondheidsopvoeding en bewusmakingsveldtogte gebruik gemaak word.” Hoekom dan die ekstra sitplek en “bed”?

Rodger17 ·

Die bed is vir die drywer om te rus terwyl hy wag vir n oproep!

Anel ·

My motor se jaarlikse diens kos nie eens so baie nie. Dink net hoeveel klinieke hulle met die geld kon koop en midisyne. Maar nou ja die ongeletterdes dink die is wonderlik want hulle weet nie op die oomblik van beter nie.

BoerSonderRoer ·

Daai lyk my soos Sjinese motorfietse. Oor 6 maande is almal gedaan.

En nou kom daai brah op die platteland aan… is hy ‘n paramedikus?

Nell ·

Nee kyk bou nou ‘n nasie met sulke stene…geen wonder die land se ekonomie het “rock bottom” getref nie.

Gawie ·

Weereens kan niemand iets positiefs sê nie, en die een persoon (Maya) wat wel iets positiefs sê word onmiddelik afgeskiet! Tipies Afrikaners – gun niemand niks.
Miskien is dit nie heeltemal realisties nie, maar hulle probeer darem – gee erkenning waar dit toekom!

pokkel ·

ag siestog ja kom ons moedig eerder die ANC aan en gee hul nog so 100 jaar om te kyk of hul iets kan regkry en die land kan opbou, arme ou Zuma se gevoelens is seker erg seergemaak met al die kritiek, siestog, hoe onregverdig, kom ons gee hom ook sommer ‘n tweede kans

Simon ·

Ek wil vir Theo Coetzee, net reg help want dit kom vir my voor dat hy nie behoorlik ingelig is met betrekking tot die verskaffing van voertuie aan enige van die Oos-Kaap Provinsiale Departemente nie. Gaan so 15 jaar of wat terug en gaan kyk hoe die Oos-Kaap Regering met Fleet-Africa gekonkel het om die provinisie se vloot voertuie op ‘n onderduimse en korrupte wyse te kaap en sommer in die proses die Oos-Kaap Provinsiale Regering gyselaar te hou en sodoende die Dept. van Vervoer te verhoed om weer enige voertuig self te mag koop. Wat ek hier gese het is ook maar net weer eens ‘n bewys dat met tyd dinge vergeet word en gevolglik die ANC regering se plundering van onder andere staat bates ens., gekondoneer word.

SomeOne ·

met die “tentjie” wat op die motorfiets in video het, verkluim die pasient in elk geval voor hy/sy by die hospitaal uitkom

pokkel ·

ja ek wil sien hoe lank die matras en laken op die motorfiets bly, laaste keer wat ek in ‘n staatshospitaal was het hul nie genoeg lakens en komberse vir al die beddens gehad nie

JohanR ·

SomeOne – daar word ‘n kombers teen R2500 aangebied vir die pasient deur die tender maatskappye. Hulle kan nog meer geld maak deur seker te maak daar ry ‘n woef met groot ore in elke karitjie. Kan jy sien dat sukke breins kom daar uit die Wes-Kaap?

Spekkies ·

Het die motorfietsryers enige opleiding om na die pasiente om te sien sou iets langs die pad gebeur? Hier het iemand lekker geld gemaak

Pierreli ·

Wonder hoeveel van die motoerfietse gaan weer terug by die hospitaal uitkom, en nie omslaan nie.

Johanna ·

Kom ons gee hulle ‘n kans. Die motorfietse is semi-offroad soos dit lyk en kan op plekke uitkom waar ambulanse nie kan nie. Wie weet, dalk werk dit baie goed en kan mense vinniger by hospitale uitkom as wat dit vir die ambulans sou neem.

Vrijburger ·

Kan nie help om te giggel nie. Ek is bereid om goeie geld te wed dat in enkele maande daar artikels gaan wees oor hoe die motorfietse deur amptenare aangewend word as onwettige Tuk-Tuck’s. Het al klaar ‘n prentjie in my kop van ‘n oorlaaide ‘Tuk-Tuk’.

Renier ·

Die fietse is beskikbaar op Alibaba vir $1000 stuk. Minder as R20 000 elk.Klaar ingerig soos op die fotos.Selfs met normale invoer belasting en vervoer koste ,nog nie naby R94000 nie.

Adrian ·

Lyk of daar Partye is wat bietjie jaloers is omdat húlle nie aan so ‘n plan gedink het nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.