Oos-Kaap: ‘Gewelddadige protesoptrede verbaas nie’

Bobby Stevenson, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, sê dis onder meer weens swak finansiële bestuur dat inwoners oproerig raak. Foto: Verskaf

Net agt van die 39 munisipaliteite in die Oos-Kaap het ʼn heeltydse hoof- finansiële beampte wat aan die minimum vereistes vir sy pos voldoen.

Dit lei nie net tot gekwalifiseerde oudits nie; dit trek ook die sluise oop vir korrupsie. Bobby Stevenson, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, sê dis geen wonder nie dat plaaslike regering in die provinsie in ʼn warboel is terwyl party munisipaliteite se dienslewering in duie stort en Eskom dreig om hul kragvoorsiening af te sny.

“Mense wend hulle ál meer tot geweld,” sê Stevenson, “en steek munisipale geriewe aan die brand om uiting aan hul frustrasie te gee.”

In die jongste geval het werklose jong mense van die township Mlungisi die strate van Stutterheim ingevaar en geboue van die Amahlathi-munisipaliteit en Amathole-distriksmunisipaliteit asook die plaaslike kliniek afgebrand.

“ʼn Tekort aan vaardighede op plaaslike vlak lei daartoe dat dienslewering in gedrang kom,” meen Stevenson. “Die gebrek aan finansiële bestuursvaardighede blyk duidelik uit die getal gekwalifiseerde oudits wat die provinsie kry.”

Vir die mees onlangse boekjaar, 2016-’17, het net 5% van die provinsie se munisipaliteite ʼn skoon oudit gekry, byna vier keer minder as die amper 20% in die vorige boekjaar, sê Stevenson.

Betogers het verlede week drie munisipale geboue op Stutterheim afgebrand. Foto: Facebook

“Die ouditeur-generaal [OG] sê in sy verslag onregmatige uitgawes het toegeneem weens onbestendigheid, verontagsaming van wette en ordonnansies en die afwesigheid van deeglike interne beheermaatreëls.”

Dit bekommer hom dat munisipale leierskap talle waarskuwings van die OG verontagsaam het oor hoe veranderings in administrasie en die onvermoë om vakante poste te vul, ʼn nadelige uitwerking op verantwoordbaarheid sal hê.

Stevenson sê van die vernaamste maniere om swak finansiële bestuur en gebrekkige dienslewering te bestry, is ʼn aandrang op minimum tersiêre kwalifikasies, werkverwante ervaring en basiese bestuurs- en bedryfsvaardighede. “Dit word duidelik nie [in die Oos-Kaap] toegepas nie.”

Hy sê dit verbaas hom nie dat die OG sy kommer uitgespreek het oor die finansiële volhoubaarheid van 24 Oos-Kaapse munisipaliteite nie. “Al is dit die plaaslike owerhede en hul munisipale raad se plig om aandag te skenk aan amptenare se gebrek aan die minimum kwalifikasies en vaardighede, behoort die provinsiale regering dié munisipaliteite verantwoordelik te hou.”

Hy sê die DA glo dienslewering moet opgeskerp word, wat beteken munisipaliteite moet die regte mense met die nodige kwalifikasies aanstel om die taak te verrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nita ·

Die regte mense met die regte kwalifikasies??Wat jy waar kry? Elke Jan Rap en sy maat word in poste geplaas en hulle het nie n clue wat dit behels nie, behalwe dat hy nou n miljoen rand motor kan ry.

P G Slabbert ·

Die plaas paaie in die Port Alfred omgewing, is byna 2 jaar gelede geskraap. Belastings word ook in die bodemlose put gestort. Geld vir die regte doele, bestaan nie ! Boere moet self inspring en begaanbaar maak.

E le roux ·

Cradock Mun se lisensie afdeling n hele week af a.g.v. ‘offline’, òf geen papier om lisensies te druk òf sonder ink. Die waarheid weet niemand. Ons ry kilometers ver om lisensies uit te neem en dan kom ons by dooiemansdeur. Die paaie is in vrot toestand binne die dorp want die geld wat hulle ontvang het vd dorp se paaie het hulle ESKOM vereffen

Eish ·

En steeds gaan die stemvee getrou elke 5 jaar stemkraal toe…

Johan ·

Ek het nuus vir die DA. Selfs al sou daar meer verantwoordelike mense aangestel word, sal daar nog steeds met klippe gegooi en eiendom afgebrand word. Indien daar wel aan die eise voldoen word, sal die doelpale net verskuif word. Want die geweldadige betogings het binne n kort tydjie deel van SA se kultuur geword. Sommige mense geniet dit soveel, dat hulle dit nooit sal staak nie

Jannie ·

Afbrand en klipgooi los skynbaar sommer tjop-tjop al jou griewe op!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.