Oos-Kaap nog nie gereed om skole te heropen

Gr. 12’s van Xhentse Senior Secondary in die Oos-Kaap. (Foto: Groundup/Manqulo Nyakombi)

Die portefeuljekomitee vir basiese onderwys is bekommerd dat die Oos-Kaap nog nie heeltemal gereed is om met die nuwe akademiese jaar te begin nie. Nog net een uit elke vyf skole het handboeke ontvang. Meer as 1 500 onderwys- en skoolbestuursposte is boonop nog nie gevul nie.

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, die voorsitter van die komitee, het gesê hulle is bekommerd dat die nodige ondersteuningsmateriaal vir leerders en onderwysers nie betyds afgelewer gaan word nie. (Dié materiaal word deur die departement bekom.)

“Die beskikbaarheid van hierdie materiaal is van deurslaggewende belang in enige onderrig- ​​en leeromgewing. Daarom is ons beroep op die departement om deur middel van sy diensverskaffers die aflewering van materiaal aan skole te bespoedig, veral aangesien daar nog net ʼn week oor is voordat skole amptelik heropen,” sê Mbinqo-Gigaba.

Die komitee is in kennis gestel dat die departement sedert 27 Januarie by slegs 3 440 skole (68%) in die provinsie skryfbehoeftes afgelewer het.

Die komitee is ook bekommerd dat die departement handboeke aan slegs 20,7% van die skole in die provinsie gelewer het. Net so het die departement die aflewering van werkboeke nie afgehandel nie, met 82% van volume 1-werkboeke en 45,8% van volume 2-werkboeke wat tot dusver afgelewer is.

“Terwyl die departement die komitee verseker het dat die aflewering teen 15 Februarie afgehandel sal wees, is dit steeds kommerwekkend, aangesien skole aanvanklik twee weke vroeër sou begin het.”

Die aantal vakante poste vir onderwysers en skoolbestuurspanne is ook vir die komitee ʼn kopseer. Die Oos-Kaapse stelsel het altesaam 1 595 onderwyser- en SBS-poste beskikbaar.

“Dit is erger in die Alfred Nzo West-distrik, met 135 vakatures beskikbaar, en Joe Gqabi met 4% van poste wat vakant is.”

Die komitee het ʼn beroep op die departement gedoen om die vakante poste te vul om doeltreffendheid binne die stelsel te verseker en sodat leerders genoeg onderwysers het om hulle te onderrig.

Ondanks hierdie knelpunte het die komitee die departement se planne verwelkom om sielkundig-maatskaplike ondersteuning te bied aan onderwysers en leerders wat erg deur Covid-19 geraak is.

“Die komitee het herhaaldelik gevra vir samewerking tussen die departemente van basiese onderwys en maatskaplike ontwikkeling om voldoende ondersteuning aan getraumatiseerde onderwysers en leerders gedurende hierdie uitdagende tye te verseker.”

Die komitee verwelkom ook die voorneme om met die departement van kommunikasie, telekommunikasie en posdienste saam te werk om uitdagings rakende kommunikasieverbindings in die provinsie op te los, aangesien die departement al hoe meer aanlyn onderrig in werking stel.

Ten opsigte van skoolvervoer het die komitee dit verwelkom dat die departement van vervoer diensverskaffers gekontrakteer het om altesaam 124 036 leerders in 1 044 skole vir drie jaar te vervoer. Dit sal verseker dat leerders op die eerste skooldag vervoer het.

Die komitee het ʼn beroep op die departement gedoen om te verseker dat daar voorsiening gemaak word vir alle leerders wat vervoer benodig.

Die komitee verwelkom ook die versekering dat persoonlike beskermingstoerusting te midde van die Covid-19-pandemie by alle skole in die provinsie afgelewer sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marius ·

Dit verbaas my glad nie . Dis nie ek nie dis hy . “The blame game” Dit is hoe alles mos werk in die land .

Kokerboom ·

Kry vir hulle. Vir 27 jaar hoor ons dieselfde storie. Die mense kan nie eers ‘n snoepiewinkel bestuur

Fritz ·

Hulle kan nie eens was en stryk nie. Dis hoekom ek dit self doen.

Willem ·

Hulle het mos mororfietse met sidecars om skool boeke aftelewer

Wondermaarnet ·

Waar doen ek aansoek vir my kind vir vervoer skooltoe en terug? Ons bly 50km van my kind se skool en ek ry elke dag die ent pad sonder dat die departement omgee hoe my kind by die skool kom.

Dup ·

Waarom bly die komitees altyd bekommerd…..? wie is in beheer en wie het die beplanning gedoen?
Seker om ñ ronde tafel gesit,elkeen met n KFC boks en ñ 2liter koeldrank….Eish!

Charmain ·

Dis die groot rede hoekom hulle so baklei om die skole gesluit te hou, het niks met covid te doen nie.

SomeOne ·

en intussen is daar honderde onderwysers wat wag vir hul sertifikate wat hulle moet he voordat hulle kan klas gee, regering se slapgat “bestuurs lede”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.