Oos-Kaap ook deur vloede geteister

Phumulo Masualle, premier van die Oos-Kaap (Foto: ANA)

Die rampbestuureenheid in Nelson Mandelabaai bly Dinsdag op hoë gereedheid terwyl reën steeds in die metro val.

Mongameli Bobani, uitvoerende burgemeester, het gesê daar was nog nie enige berigte van voorvalle nie, maar rampbestuurbeamptes is in verskillende gebiede oor die stad heen ontplooi.

Die reën kom in ʼn tyd waar die stad steeds streng waterbeperkings toepas en damvlakke steeds relatief laag is.

Die weerkantoor in Port Elizabeth het vroeër gesê 21,4 mm is by die lughawe gemeet, 31,2 mm by die Third Avenue Dip, net meer as 24 mm in Uitenhage en 23 mm by Woodridge.

Phumulo Masualle, premier van die Oos-Kaap, wag op ʼn verslag van ʼn afvaardiging, onder leiding van Fikile Xasa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, om die situasie in Port St Johns en Mthatha te assesseer. Meer as 300 persone van Kwa Green is haweloos ná die vloede.

Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die premier, het gesê 100 huise is oorstroom en inwoners word in ʼn plaaslike gemeenskapsaal gehuisves. Inwoners word gemaan om nie riviere oor te steek nie en word versoek om reisreëlings so ver as moontlik uit te stel.

Motoriste op die R61 tussen Libode en Port St Johns word aangeraai om op die uitkyk te wees vir modderstortings.

Owerhede het skole aangeraai om nie leerders toe te laat om skool te gaan as hulle riviere moet oorsteek op pad skool toe nie.

Maroela Media het vroeër berig minstens 32 persone is dood ná ʼn storm Maandagaand in Durban, KwaZulu-Natal. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Judge Dredd ·

Rampbestuur vir 21mm reen ? – Ai tog – lyk my kamstige rampe is nou die nuutste verskoning vir hul geldmaak skemas/ probeer wys hulle doen iets voor verkiesing.

Enigste ding wat 21mm reen kan doen is om swak stadsbeplanning/infrastruktuur uit te wys.
Dus, selfgemaakte rampe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.