Oos-Kaapse bejaarde in plaaswinkel vermoor

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ’n bejaarde man Saterdag op ’n plaas buite Alexandria in die Oos-Kaap vermoor is.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het Sondag aan Maroela Media gesê polisiebeamptes is omstreeks 18:30 na die plaas Nooitgedacht in die omgewing van Alexandria ontbied nadat die liggaam van ’n man in sy laat 70’s vroeër in ’n plaaswinkel aangetref is.

Volgens Govender het een van die gemeenskapslede op die man se bebloede liggaam afgekom toe hy benodighede by die winkel wou gaan koop het. Die winkel se deur was met die persoon se aankoms oop hoewel die veiligheidsdeur gesluit was.

“Toe niemand op sy roep reageer nie, het hy by die winkel ingeloer en ’n bebloede hand onder die toonbank sien uitsteek. Hy het die slagoffer se seuns ontbied wat by die winkel ingegaan het en die man se lewelose liggaam aangetref het,” het Govender gesê.

Polisiebeamptes en plaaslike boere het kort daarna twee mans, onderskeidelik 16 en 23 jaar oud, in verband met die moord opgespoor en in hegtenis geneem.

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe die man vermoor of wat die motief vir die moord is nie.

“Hierdie lafhartige aanval op ’n onskuldige slagoffer word ten sterkste veroordeel en die polisie sal geen steen onaangeroer laat in hierdie ondersoek nie,” het lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiehoof, in reaksie op die voorval gesê.

Die verdagtes sal binnekort in ’n hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Die motief is terrorisme onder die vaandel van roof

JohanF

Ek is sprakeloos en hartseer, my simpatie met die familie……
Ek is nie ń lafaard, maar wens ek was nie meer in die land waar ons oues, en van ons bloed gesweet het nie…..

Kiewiet

En wie, of wat gaan hierdie twee “innocent until proven guilty” nuwe demokrate voorhou as skuldig? apartheid natuurlik!

Alet

Rus in vrede oom Chrisjan… Jou plekkie gaan leeg wees.
Alet
Alexandria

Duwweltjie

Mag die woord gestand gedoen word “en geen steen onaangeroer gelaat word” om hulle aan die pen te laat ry.