Jacques de Bruin (47), ʼn boer van Queenstown in die Oos-Kaap, is in die Cradock-streekhof gevonnis op agt aanklagte van bedrog, vier aanklagte van vervalsing en vier aanklagte van geldwassery.
Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê De Bruin het van September 2013 tot April 2015 ʼn kredietfasiliteit gehad by Oos Vrystaat Kaap Bedryf Beperk (OVK). “As deel van die bepalings en voorwaardes het die OVK hom toegelaat om voer op krediet aan te koop van ʼn eksterne verskaffer – sou die OVK nie voorraad beskikbaar gehad het nie,” het Ngcakani verduidelik. “As ʼn kliënt moes hy dan die verskaffer se faktuur by die OVK indien. Die OVK sal dan die verskaffer direk betaal en die bedrag teen De Bruin se rekening debiteer.”
Op vier gevalle tussen Februarie 2014 en Augustus 2014 het De Bruin die OVK egter om die bos gelei deur vals en vervalste fakture in te dien wat die instansie mislei het om te glo dat hy by twee verskaffers altesaam 828 ton voer, ter waarde van net meer as R1,05 miljoen, aangeskaf het. “OVK het die betalings gedoen aan die bankrekeninge op die fakture en dus die bedrag verbeur.”
Tussen 2007 en 2013 het De Bruin ook huurkontrakte aangegaan met vier boere in die Queenstown-distrik om ooie, ramme en melkkoeie by hulle te huur. “Die ooreenkoms het bepaal dat hy altesaam 418 koeie, 249 ooie en 15 ramme sou huur. Teen die einde van die ooreenkoms moes hy die vee weer terugbesorg in dieselfde toestand as wat hy hulle ontvang het. De Bruin kon die melk en die lammers hou, met die uitsondering van een ooreenkoms waar hy ook 20 twee jaar oue verse sou teruggee.”
Hy het van die vee verkoop, wat ʼn oortreding was kragtens die bepalings van die ooreenkoms en het beweer die vee het vermis geraak. “In die proses het hy die boere uit R2,5 miljoen bedrieg.”
De Bruin is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir elke oortreding – altesaam 21 jaar. Die hof het bepaal dat die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word, wat beteken dat hy slegs sewe jaar direkte tronkstraf sal uitdien.
Kapt. Lariane Jonker, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, het die ondersoekbeampte Christiaan Potgieter geloof vir sy harde werk om die skuldigbevinding en vonnis te verseker.
Snaaks dat hy so vinnig skuldig bevind en gevonnis word, die vorige president loop al 20 jaar vry rond en sy saak word net elke keer uitgestel.
Ons soek vir mnr Potgieter op die president se saak!!
Nuwe episode van “boereverneuker”.
Bietjie meer as spreekwoordelike boereverneukery. Wys weer bedrog en korrupsie het nie kleur nie.
Hmm, Queenstown en Cradock is twee verskillende dorpe, is d plaas se naam dalk Queenstown?
Stem saam
MM ek dink julle moet dalk net ‘n onderskrif by die foto plaas, dat die foto dié van Potgieter van SAPD is en nie van die veroordeelde nie.
Dagsê Jan
Dankie vir jou boodskap.
Die berig is gewysig.
Groetnis
Suné
(nms Maroela Media)
Hoe lyk die skelm vuilgoed?
Wonderlike vonnis maar vir moord kry jy miskien 10 jaar, en so spoedig as moontlik parool. Skandelik man
Wys die skelm se gesig, hy is mos skuldig bevind, benoude katte maak benoude spronge. Oneerlikheid betaal nie.