Oos-Kaapse DA wys hoe goed ʼn virtuele kongres kan werk

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Die Oos-Kaapse DA het gister gewys dit is moontlik om in Suid-Afrika ʼn hoogs suksesvolle politieke kongres virtueel te hou – mits almal presies weet hoe dit werk, alle afgevaardigdes se besware vooraf tot die beswaardes se tevredenheid opgelos word sodat hulle die stelsel vertrou, en mits dit uitstekend georganiseer word.

Gister het afgevaardigdes van Matatiele oor Mthatha deur die mees afgeleë dele van die Transkei en Ciskei tot by Humansdorp, van Port Elizabeth en Oos-Londen deur die Karoo en die Grens tot by Aliwal-Noord virtueel kongres gehou, sonder die omstredenheid wat die aanloop tot die DA se landwye virtuele kongres ontsier.

Die kongres was boonop so volledig as wat dit in die afwesigheid van samesyn kan wees – dit was dus nie net ʼn leiersverkiesing nie. Daar was ook debat en verskille oor beleidskwessies en interne partyprobleme, soos wat ʼn suksesvolle en betekenisvolle partykongres in enige politieke party moet hê.

Die DA is tans die enigste Suid-Afrikaanse politieke party wat selfs probeer om provinsiale en landwye kongresse te hê, en daar is groot kommer dat die virtuele landwye kongres kan misluk tot groot verleentheid vir die party – veral om tegnologiese redes.

Toe die Oos-Kaapse DA-voorsitter, Andrew Whitfield, dus so ses weke gelede aankondig dat sy provinsie besluit het hulle gaan kongres hou, was daar ʼn wye gevoel in DA-kringe dat sukses moeilik sou wees.

Die uitslae vir die twee topposisies is dat Nqaba Bhanga herkies is as provinsiale leier, en Whitfield as voorsitter. Verskeie verkiesings vir ander posisies is suksesvol afgehandel.

Op ʼn vraag wat die suksesresep vir ʼn virtuele kongres is, het Whitfield gesê die feit dat die Oos-Kaapse DA die twee naweke voor die kongres twee volledige oefenlopies gehou het, met elke afgevaardigde op die plek en werkend met die rekenaar wat hulle vir die regte kongres gebruik het.

Dit het beteken dat almal vertroud was met die tegnologie en die vrymoedigheid gehad het om dit gemaklik te gebruik.

Die provinsie is geregtig op 309 afgevaardigdes, van wie 300 opgedaag en 297 suksesvol gestem het. Elke kiesafdeling se afvaardiging het vanaf ʼn sentrale datapunt in daardie kiesafdeling deelgeneem, waaronder 19 kiesafdelings in die Transkei.

Daar was enkele kere dat sommige kiesafdelings se verbindings onklaar geraak het, maar dan het die kongres bloot gewag tot die verbinding herstel is.

Met al die goeie nuus oor die kongres se verloop is daar egter redes waarom die Oos-Kaap se sukses nie ʼn waarborg vir ʼn suksesvolle landwye kongres is nie.

Eerstens sal die landwye kongres sewe keer groter wees, met 2 166 stemgeregtigde afgevaardigdes. Tweedens was die twee belangrikste provinsiale posisies – Bhanga en Whitfield s’n – onbestrede, terwyl ʼn klipharde en soms giftige stryd reeds om die ekwivalente landwye posisies woed.

ʼn Tekortkoming in die huidige virtuele stemstelsel van die DA is dat dit tans moontlik is vir mense met wraaksugtige kwade bedoelings om – met heelwat moeite – presies vas te stel wie het vir watter kandidaat gestem. Dit kan op die landwye kongres ʼn doodskoot wees.

Derdens het die Oos-Kaap tans die doeltreffendste administratiewe opset van al die DA-provinsies, so dit kan elders moeiliker gaan. En laastens word die Oos-Kaapse DA (soos die Vrystaatse DA) gekenmerk deur gemoedelikheid eerder as faksievorming – tegniese en ander probleme ontaard dus nie in giftige krisisse nie.

Maar die eerste hekkie is oor en die Oos-Kaap het die pad gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankbaar dat DA sukses behaal…doen so voort asb