Oos-Kaapse gesondheidsramp in parlement ontbloot

Nooddiens-motorfietse in die Oos-Kaap (Foto: Zweli Mkhize/Twitter)

Die ware omvang van die koronavirus-ramp wat op die punt staan om in die Oos-Kaap te ontvou, is gister vir die eerste keer amptelik ontbloot en deur die regering erken tydens ‘n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid.

En dis baie erger as wat enigeen gedink het. Basies het die Oos-Kaapse regering geen voorbereiding vir die koronavirus getref nie. Nou moet die nasionale regering en die aangrensende provinsies (Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal) alweer inspring om te help te midde van ‘n moeras van wanbestuur, onbetroubare of nie bestaande data, korrupsie, sterftes, lyding en ‘n weiering van die provinsie se ANC-regering om enige verantwoordelikheid te aanvaar, enige boetedoening te oorweeg of enige dringendheid te toon.

Opposisielede was uitgesproke in hul verstomming oor die omvang van die Oos-Kaapse regering se patetiese onbeholpenheid, met ANC-LP’s wat om dieselfde rede met stomheid oorval is.

In’t kort het die Oos-Kaap glad nie die afgelope drie maande produktief gebruik om enige noemenswaardige voorsorg vir die pandemie te tref nie.

Selfs die tragikomiese en teen hierdie tyd berugte “bromponie-ambulanse” waarop die provinsie R10 miljoen uitgegee het, is nog nie gebruik nie, as dit ooit gebruik gaan word.

Die omvang van die gebrekkige huidige inligting sowel as die komende ramp is onthul in ‘n voorlegging deur dr. Sibongile Zungu, voorsitter van die nasionale taakspan wat deur die regering ingestuur is om te red wat daar te redde is in die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement.

Die amptelike syfer vir koronavirus-gevalle in die Oos-Kaap het teen Dinsdagaand op 66 759 gestaan, wat 17% van die nasionale totaal verteenwoordig – maar Zungu het bevestig wat al lankal in Wes-Kaapse kringe geglo word en wat die Oos-Kaap nog heeltyd ontken, naamlik dat die syfer onbetroubaar en waarskynlik baie hoër is, want syfers vir die afgeleë landelike gebiede in byvoorbeeld die Alfred Nzo-distrik (die noordelike Transkei) is gewoon nie beskikbaar nie, terwyl die sterftesyfer in Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth, Uitenhage en Despatch) geensins amptelik toegeneem het die afgelope twee weke nie.

Vir die hele pandemie het die Oos-Kaap 5 418 algemene hospitaalbeddens en 1 746 kritiekesorg-hospitaalbeddens beskikbaar. Dit het aan die lig gekom dat die noordelike Transkei nie eens genoeg hospitaalbeddens het nie.

Gemeet aan Wes-Kaapse patrone kan die kruin van die pandemie in Port Elizabeth spoedig bereik word (maar dan moet die syfers korrek en die regeringsoptrede vergelykbaar met die Wes-Kaap s’n wees – en dis ‘n groot maar), en die kruin in die noorde van die Transkei kan so laat as Oktober eers bereik word.

Zungu het bevestig dat die Oos-Kaap inderdaad nie ‘n enkele veldhospitaal opgerig kon kry nie. Die enigste veldhospitaal in die hele provinsie is buite Uitenhage deur Volkswagen opgerig en is nou deur die provinsie oorgeneem.

Dis dadelik herdoop na die Eerwaarde Dokter Chabula-hospitaal, maar nou het die provinsie nie genoeg dokters en verpleegsters om dit te beman nie.

Zungu het dus gesê wat die Oos-Kaap nog heeltyd ontken, naamlik dat die buurprovinsies sal moet help. In sommige Wes-Kaapse kringe word beweer hospitale in die ooste van die provinsie (min of meer tot by George) word reeds oorval met pasiënte wat nie in die Oos-Kaap gehelp word nie.

Volgens Zungu is geen kritiekesorg- of hoësorgbeddens hoegenaamd tans beskikbaar buite die provinsie se twee metropole, Nelson Mandelabaai en Buffalo City (Oos-Londen) nie.

Hoewel die getal beddens in Oos-Londen tans genoegsaam is, word omtrent die hele Transkei se kritieke gevalle ook tans soontoe verwys, wat soms ʼn ambulansrit van vier en ‘n half uur oor gaar teerpaaie beteken, soos sy reguit uitgewys het.

So benard is die situasie trouens dat die nasionale regering tekorte in bestuursvaardighede, higiëne en skoonmaakpersoneel, mediese personeel, toerusting en medisyne geïdentifiseer het.

Daar is byvoorbeeld te min verpleegsters wat bereid is om te werk (vrywilligers word dus gebruik vir mindere take soos om pasiënte se tande te borsel en hul beddens uit te pof, met die relatief min verpleegsters wat sowel bereid as opgelei en in staat is om te werk, wat vir ingewikkelder take gebruik word.

Vakbonde se rol is in hierdie verband vir die nasionale regering ʼn probleem, en onderhandelings met hulle is een van die min aspekte wat oorgelaat word aan die provinsiale LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba.

Gomba se inset in die debat was terloops ‘n meesterklas in ontduiking, blamering van ander en bedenklike eerlikheidsvlakke. Oor die provinsie se versuim om suurstoftenks te bekom het sy beweer dis ‘n wêreldwye probleem, met dieselfde antwoord op ‘n vraag oor die provinsie se versuim om beskermende mediese kleredrag te bekom.

Die patetiese toestand van die provinsie se hospitale en klinieke is deur haar op die departement van openbare werke (van dieselfde provinsiale regering waarin sy dien!) geblameer, en die miljoene rand wat die OR Tambo-distriksmunisipaliteit in die suidelike Transkei (wat deur haar ANC-kollegas beheer word) wat op die munisipaliteit geblameer is, met Gomba wat geen antwoorde kon verskaf nie omdat sy skynbaar niemand daaroor uitgevra of tot verantwoording geroep het nie.

Sy kon weliswaar nie ontsnap aan die verantwoordelikheid vir die bromponie-ambulanse (met ‘n matrassie in die syspan) nie, want dit was onteenseglik haar idee. Gomba het volstoom volgehou dis ‘n uitstekende idee wat in die onbepaalde toekoms groot vrug gaan dra.

Hieroor is sy openlik deur LP’s van die DA en EFF uitgetrap en belaglik gemaak, maar sy wou nie bes gee nie.

Gomba het ook (tot groot kommer van die DA, EFF en VF Plus) aangedui die Oos-Kaapse regering het nie nou tyd vir tydrowende tenderregulasies nie. Hulle sal die lonende kontrakte sommer uitdeel aan ondernemings op hul databasis.

Terugkerend na die meer realistiese inset van die nasionale regering se dr. Zungu, was die feite verontrustend. Op die oomblik fokus die nasionale regering net op Port Elizabeth en Oos-Londen, want mens moet iewers begin.

Die Dora Ngiza-hospitaal in Port Elizabeth is reeds vol en die Livingstone-hospitaal het groot probleme. As personeel gevind kan word vir die voormalige Volkswagen-veldhospitaal en daardie veldhospitaal word tot sy volle kapasiteit van sowat 4 000 beddens ontplooi, meen die nasionale regering se taakspan, wat ‘n klomp kundiges uit die akademiese en private sektor insluit, dat dit genoegsaam vir Port Elizabeth en die gebiede weswaarts tot by die Wes-Kaapse grens sal wees.

Zungu het as onmiddellike hoofprioriteite vir die nasionale regering se taakspan uitgestippel die bekom van suurstoftenks, die vergroting van die voormalige Volkswagen-veldhospitaal, logistieke steun sodat behoorlike data minstens ingesamel kan word en die aanskaf van voorrade versnel kan word, die oplos van vakbondkwessies en die regstel van vaardigheidsgebreke onder die personeel.

In vraetyd was die ANC opvallend stil.

Lindy Wilson, DA-LP, het gevra wat die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement vier maande lank gedoen het as hulle nie eens die mees basiese toerusting vir die koronavirus, naamlik suurstoftenks, kon bestel nie.

Wilson het uitgewys dat die provinsie nie genoeg ambulanse het om die planne teen die koronavirus uit te voer nie, en dat tekortkominge van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement elke jaar deur die ouditeur-generaal uitgewys en deur die ANC geïgnoreer word. Nou sterf mense in groot getalle en die ANC maak asof niemand kon raai wat is gaande nie.

Wilson se DA-kollega, Siviwe Gwarube, het uitgewys dat geen spertye vir die uitvoering van enige van die planne gestel is nie, so dis net lugkastele met niemand wat behoorlik verantwoordbaar gehou kan word vir vordering nie.

Phillip van Staden, VF Plus-LP, het uitgewys dat die Oos-Kaap op die rand van ‘n ramp staan omdat die provinsie so lank hul plig versuim het, en daar nou nie meer tyd oor is om die situasie te red nie.

Naledi Chirwa van die EFF het gesê al wat mens van die nasionale en Oos-Kaapse regering hoor is planne vir die toekoms, maar niks is al gereed nie en niks is tot dusver gedoen nie.

Sy het uitgewys dat geen spertye gestel en geen mens as verantwoordbaar vir foute uitgewys is nie.

Die portefeuljekomitee het besluit dat die Oos-Kaap gereeld verslag sal moet doen oor vordering, en dat kommer oor die situasie geregverdig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

marius ·

En wat se slim dok en sy buikspreker hoofman van die area waar die wereld se ikoon vandaan kom ?

Johann ·

Maar stem vir die wat hulle “people” letterlik laat doodgaan agv GEEN diens nie? En die ANC smile en waai…nie ‘n kans om tot verandwoording gebring te word nie!

Johan ·

Plaas die Oos Kaap onder administrasie en verklaar ń noodtoestand. Lei ń paar mense op om ń amb motor fiets te bestuur,daar is baie taxi heldrivers wat werk soek. Die Wes Kaap moet net nie swig en ter wille raak nie….laat die ANC hul wantoestande self probeer uitwerk….kan nog ń spul Kubane asb kom help?

Andre ·

Nee wat.Betaal net ons groot salaris aan die einde van die maand en die res maak nie saak nie.Ons het nie die kennis van enige bestuur nie en gee nie eintlik om nie.Blameer maar iemand anders vir die chaos.Dit werk altyd.Betaal net ons geld en laat die duisende maar hande klap vir die mense waarvoor hulle gestem het.

christo ·

Die Oos-Kaapse regering moes lankal onder administrasie geplaas gewees het, maar om onder administrasie van die ANC geplaas te wees, beteken niks. Die ANC kaders word net rondgeskuif van een departement na ‘n ander of dit provinsiaal of nasionaal. Neem as voorbeeld Ace Magashule, een van die grootste nie-betroubare ANC kanonne. Net nog ‘n mislukte ANC provinsie, maar kom die verkiesing stem dieselfde kiesers maar weer ANC, agv die ‘ julle sal julle maatskaplike toelaes verloor’ dreigemente.

Tanya ·

Die ANC koop mos lekker KFC! Dis al wat hulle goed kan doen.

Nick ·

Anc, julle is korrup tot in die wortels in, hoop julle ondersteuners sien hoe dom en onbeholpe julle is. Vir elke dom besluit lag die hele wereld, kannie glo ons sit met sulke idiote in n parlement nie, hoop julle vaal in alles wat julle aanpak, bwahahahaha!

Okmardom ·

Suksesvolle regeerder, 62 jaar oud. Kader korrek intplooi, suksesvol maand vir maand haar salaris ontvang. Haar foto pruik in die ontvangs van elke hospitaal waarvan die naam paslik verander is. Dis hoekom name verander sodat dit by die optrede kan pas. Viva daai hospitale. Julle mense is trots daarop. Gomba, jy staan in die ry vir bevordeing. Gaan kies vandag solank vir jou n nuwe motor!!

Foefie ·

As ek moet kwytraak wat ek WERKLIK dink en voel slaap ek sekerlik vanaand in die naaste tronk. Gelukkig kan ek darem nog DINK wat ek wil.

Kokerboom ·

Die keiser is kaal en hy besef dit nie!!!Geen strafoptrede gaan plaasvind. Optrede teen nuttelose kaders bestaan nie in ANC se reelhandboek En…,..die bevolking stem weer vir hul!!! GEEN simpatie.
Dit bly egter ‘n ramp van katastrofiese omvang!!!

Andre ·

Ai, die Jan het darrem sleg gewerk met die Oos-Kaap! Hulle moet hom by die MRK verkla.

Frank ·

Oos Kaap se grootste uitvoerproduk is mense wat gaan plak in die Wes Kaap. Sluit alle toegang in en uit en laat slegs voedsel trokke toe totdat die virus homself uitgewoed het. En die mense begin verstaan wat “social distancing” is.

Yvonne ·

Die ANC is hulle eie grootste vyand…..Hulle gaan mos regeer tot die Here kom ….ek haal aan.

Andre ·

Ek is van die baai , en het self covid 19 op gedoen en het herstel, om ons is daar nie n mens wat nie iemand ken wat dit nie op gedoen het nie, Al rede wat ek kan aandink dat die syfers wat ons sien defnetief is weens toetse wat ne gedoen word nie omdat daan niks kapasiteit is nie, ek vat my seun wat ook positief getoets het saam met my , hy het niks simtoome gehaat nie, hoeveel ander mense is daar wat soos hy was, wat die ding soos n veldbrand in die winter aansteek, Ek praat nou van arme mense wat nie die 800 het om getoets te word nie, en mense wat te bang is om dorangesa hospitaal toe te gaan. daar is nie n manier dat ons minder infexsies as die wes kaap het nie , die mense veels te blase oor voorsorg. en kyk hoe lyk die sterfte syfers wat natuurlik aangedui is , mens kan mos sien daar is grood voud

Kokkie ·

Skokkend skandelik ! Maar kom stemdag, dan stem hulle soos een man vir die ANC.

Juls ·

Ek weet eerlikwaar nie hoe die land aan die gang bly nie. Die onbevoegdheid en korrupsie en onnoselheid word nie eens meer verdoesel nie maar sommer met trots in die openbaar gepleeg en verwag dat dit vir soet koek opgeeet moet word.

Scalla ·

Watter kadet gaan bevoeg wees om daai trike te dryf, al breek ek my nek, maar dit wil ek sien???

Inkpot ·

LOL. Ek hoop iemand neem ń video en skryf dit in vir die “Funniest Video” kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.