Oos-Kaapse man sterf aan listeriose

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Een man in die Oos-Kaap het weens listeriose gesterf en nog 23 mense het in die afgelope 10 maande positief getoets vir dié voedselverspreide siekte, het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gesê.

Laboratoriumtoetse wat tussen Februarie en November vanjaar gedoen is, het 24 positiewe resultate vir listeriose opgelewer. Nios het hierdie inligting in ʼn verslag bekendgemaak in reaksie op ʼn aankondiging vandeesweek dat daar reeds 36 mense landwyd aan listeriose gesterf het.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag gesê die departement is bewus van twee gevalle van listeriose in die Nelson Mandelabaai-metro. Die ander gevalle is in die OR Tambo-‚ Amathole- en Sarah Baartman-munisipaliteite aangemeld.

In Port Elizabeth is ʼn plaaseienaar van Bluewater Bay op 25 September in die St George’s-hospitaal opgeneem nadat sy vrou op hom afgekom het waar hy bewusteloos was. Die man, wat ook ander onderliggende mediese toestande gehad het, het die volgende dag gesterf.

“As veganis het hy ʼn spesiale streng vegetariese dieet gevolg, nie verwerkte kos geëet nie en slegs gefiltreerde water by die huis en op die plaas gedrink. Hy het organiese kos gekoop en voor hy inmekaargesak het, het hy papaja en vlassade geëet,” het Kapelo gesê.

In die tweede geval in die metro het ʼn 69-jarige man van Uitenhage op 13 Oktober by sy dokter aangeklop met griepsimptome. Hy is ʼn griep- en Voltaren-inspuiting gegee. Die volgende dag is die man na die Cuyler-hospitaal gehaas met ʼn erge hoofpyn, nekpyn en braking.

Bloedtoetse is gedoen en hy is met bakteriële meningitis gediagnoseer wat deur Listeria monocytogenes veroorsaak is, het Kapelo gesê. “Hy is ʼn maand lank in ʼn hospitaal behandel en later ontslaan. Hy het ʼn geskiedenis dat hy gereeld kaas eet van ʼn bekende kettinggroep en ʼn private suiwelaanleg in PE.”

Maroela Media het vroeër berig listeriose is baie ernstig, maar kan wel behandel en voorkom word. Dit word veroorsaak deur die bakterie Listeria monocytogenes. Dit word wyd versprei in die natuur en kan in grond, water en gewasse voorkom. Diereprodukte en vars produkte soos vrugte en groente kan ook met dié bakterie besmet word.

Lees hier meer vir wenke oor voedselveiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

LouE ·

Ek dink die problem is dat groentes en vrugte besproei word met water wat uit die riviere kom. In meeste gevalle is reeds aangetoon dat die riviere besmet is. Mens moet maar begin deur eers die riool stelsels reg te maak.

Agent LX ·

Biltong is gedroogte vleis en die hoë konsentrasie van sout sal beslis dit nie die ideale omgewing vir bakterieë maak nie.

WATER ·

Klink vir my baie na water – so al was jy jou groente/vrugte met water af, en die water het die bakterie in, help dit niks nie. Dit is baie hartseer .. persoonlik dink ek hulle moet die waterbronne begin nagaan en inspekteer en monsters neem ..

Hartjie ·

Hoekom hoor die publiek nou eers daarvan. Is verpleegpersoneel ingelig om sekere vrae te vra in ongevalle.
Is daar planne in plek?

Agent LX ·

Biltong is gedroogte vleis en die hoë konsentrasie van sout sal beslis dit nie die ideale omgewing vir bakterieë maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.