Oos-Kaapse misdaadstatistiek bekendgemaak

(Foto verskaf deur SAPD Oos-Kaap)

Die Oos-Kaap het ʼn beduidende afname in verskeie kategorieë van gewelddadige misdaad aangemeld tydens die algehele afsonderingsperiode, insluitend veediefstal en seksuele oortredings.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het dié kwartaallikse statistiek Dinsdag by die Bhisho-akademie aangekondig.

Ntshinga het gesê tydens die betrokke periode het die landswye afsondering teen Covid-19 geskuif van vlak 3, vlak 2 en uiteindelik na vlak 1. Sy het bygevoeg die afsonderingsperiode het ʼn positiewe uitslag tot gevolg gehad wat betref ʼn afname in misdaad. “Almal was in hul huise en daar is beperkings geplaas op persone se beweging. Dit het uiteraard gedien as ʼn afskrikmiddel vir opportunistiese en gewoontemisdadigers in die gemeenskap.”

Met slapper beperkingsregulasies is die realiteit dat die situasie verander het. “Die goeie nuus is dat die statistiek uit die 2020/2021-periode, Julie tot September, ʼn beduidende afname getoon het met verbetering in vergelyking met vorige kwartale. Dit dui op toewyding en vasberadenheid deur die magte om die kriminele element in die samelewing te takel.”

Ntshinga het gesê sy waardeer die pogings en prestasie deur SAPD-lede op die grond, maar dit moet in gedagte gehou word dat hulle onder “gevaarlike omstandighede van ʼn verwoestende wêreldwye pandemie” gewerk het. “Ons moet in gedagte hou dat ons polisiebeamptes nie immuun is van die maatskaplike euwels wat deur ons gemeenskappe in die gesig gestaar word nie. Daar is byna daagliks of weekliks kantore wat moet sluit weens Covid-19-infeksies, beamptes wat gehospitaliseer moet word en in sommige gevalle bedroefdheid weens die koronavirus. Dit is ʼn bewys van hoe toegewyd en lojaal ons beamptes is om hul lewens neer te lê vir die beskerming en oorlewing van ons gemeenskappe,” het sy bygevoeg.

Ntshinga het gesê in een week het twee senior beamptes van die provinsiale hoofkantoor gesterf weens Covid-19-komplikasies.

ʼn Beduidende impak is gemaak om die veediefstalsindikaat in die provinsie oop te vlek. Daar was ook ʼn beduidende afname in die getal seksuele oortredings. ʼn Rits vonnisse is ook aangemeld sedert die aanvang van die jaar. Tot dusver is 39 lewenslange tronkstrafvonnisse opgelê met 950 jaar vir persone wat seksuele misdade gepleeg het.

Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR vir vervoer en veiligheid, het tydens die geleentheid 116 polisievoertuie oorhandig, insluitend vier vragmotors, ses motorfietse en drie minibusse vir verkeersbeamptes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elsabe ·

Wel, dit is sommer baie goeie nuus. Kan dit asseblief oorspoel na die WP?

Jaco ·

Die Wes-Kaap se syfers sal kunsmatig hoog gehou word, net om te wys hoe sleg regeer “die rassistiese DA”.

Die Wolf ·

Tabelleer asb die beduidende afnames. Wat is hulle definisie van beduidend. Een of twee verbeterings?

Pieter ·

Nou gaan strandbesoek die hoof kriminele daad word en daarna inbraak, diefstal, aanranding en moord soos die ekonomie van die Oos-Kaap en ANC bastion inmekaar val. Point of no return.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.