Oos-Kaapse polisie ontken tekort aan forensiese stelle

Argieffoto: SAPD

Die Oos-Kaapse polisie het vandeesweek ontken dat daar ʼn tekort aan forensiese stelle om bewyse van verkragting of DNS-monsters te neem in dié provinsie is.

Dit kom nadat Wesiwe Tikana, die provinsiale LUR vir veiligheid, vroeër vandeesweek in ʼn antwoord op ʼn vraag in die provinsiale wetgewer erken het dat die Oos-Kaap nie een enkele verkragtingstoetsstel of DNS-versamelingstel vir die boekjaar 2018-’19 het nie.

Die provinsiale polisie het ʼn verklaring in reaksie op mediaberigte oor dié skokonthulling uitgereik waarin hulle ontken dat dit die geval is. “Hoewel die SAPD soms ʼn tekort aan hierdie toetsstelle ervaar, was slagoffers van misdaad nog nooit sonder die nodige sorg en gebruik van hierdie stelle nie,” lui die verklaring.

“Daarom is enige aanduiding dat die mense van die Oos-Kaap in die steek gelaat word ʼn oordrewe weergawe van gebeure. Daar is absoluut geen krisis van groot afmetings nie en die SAPD gaan nie gebuk onder ʼn tekort aan hulpbronne soos beweer nie. Die SAPD se personeel is goed opgelei en in staat om seksuele en ander misdade te hanteer.”

Die verklaring bied egter geen verduideliking waarom Tikana dié bewering in haar antwoord op ʼn vraag in die wetgewer gemaak het indien dit nie die geval is nie. “Hierdie saak is uiters sensitief en daarom wil ons nie die media as platform gebruik om daaroor te debatteer nie, aangesien dit moontlik die regte van slagoffers van seksuele oortredings en hul familielede kan skend,” lui die verklaring.

“Hierdie kantoor wil nie by ʼn openbare debat betrek word oor die beweerde foutiewe inligting wat [aan Tikana] verskaf is nie, maar sal wel ʼn interne ondersoek doen en is in verbinding met die LUR se kantoor rakende die kwessie.”

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die publiek gerusgestel dat oortreders onder geen omstandighede toegelaat sal word om vry te loop nie, insluitend in gevalle waar daar ʼn tekort aan misdaadtoetsstelle is. “My kantoor wil graag die mense van die Oos-Kaap gerusstel: terwyl die verkrygingsproses nagegaan word, sal dienslewering nie daaronder ly nie en die situasie is onder beheer,” het Ntshinga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.