Oos-Kaapse polisie se vlerke geknip

(Argieffoto)

Die vier helikopters wat die Oos-Kaapse polisie tot sy beskikking het, is tans buite werking.

Dít terwyl een van dié helikopters reeds byna twee en ʼn half jaar nie in gebruik is nie omdat dit nog versien moet word, en ʼn ander al sowat 20 maande terwyl sy enjin vervang word ná ʼn ongeluk.

In antwoord op ʼn vraag van die DA in die provinsiale wetgewer het Weziwe Tikana-Gxothiwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, gesê dat twee van die helikopters onderskeidelik in April en September vanjaar weer in diens sal wees. Die ander twee sal egter eers na verwagting in Julie 2022 weer operasioneel wees.

“In ʼn bekwame staat kan dit nie twee en ʼn half jaar neem om ʼn helikopter te laat versien nie, veral nie wanneer daar gemiddeld 13 mense per dag in die Oos-Kaap vermoor word nie,” het Bobby Stevenson, DA-LPW, gesê.

Tikana-Gxothiwe het in haar antwoorde aan die DA gesê dat daar veronderstel is om sewe vlieëniers vir polisiehelikopters in die provinsie te wees, maar dat daar tans net vyf beskikbaar is om die helikopters te vlieg.

Volgens Stevenson was daar glo in die negentigerjare drie helikopters en ʼn vastevlerkvliegtuig in werking in Port Elizabeth, Mthatha en Oos-Londen. Vandag is daar nie een vastevlerkvliegtuig aan dié provinsie toegeken nie.

“Misdadigers moet in vrees lewe vir die geluid van helikopters wat oorhoofs vlieg en soekligte wat hulle opspoor in die nag. Dit is egter nie die geval nie.”

Vyf van die tien polisiestasies waar die meeste veediefstalgevalle aangemeld word, is glo in die Oos-Kaap. “Helikopters kan aansienlik help in dié stryd, asook om vinnig op plaasmoorde in die omgewing te reageer.”

Die helikopters is volgens Stevenson ook nodig in die stryd teen bendegeweld, dwelmsmokkelary aan die kus en verskeie ander misdade in die Oos-Kaap.

“Helikopters en vastevlerkvliegtuie kan ook gebruik word om die stygende vragmotorkapings in die provinsie hok te slaan. Minstens 43 vragmotors is in die afgelope drie maande gekaap.”

Die DA sê hy sal die kwessie met Tikana-Gxothiwe opvolg om te versoek dat die dienskontrakte vir dié helikopters dringend hersien word, sodat dit betyds herstel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Baardman ·

Nou toe DA waarom weereens net praat. Is daar nie ondersteuners met baie geld in die DA wat n handjie kan gee nie. AfriForum en Solidariteit het onder andere ‘n Universiteit en ‘n Tegniese Kollege gebou. Julle vra te veel vrae en doen te min.

Fritz ·

Daar is n praat kompetisie onder politici. Die DA en VF loop kop aan kop in die eerste plek.

Jack ·

Ja nee wat.Die DA kla te veel,skryf te veel briefies en petissies en probeer ‘n dowe hond oorreed om te luister.Die DA doen niks.

Misky ·

Alle aandag en insette is bestee aan die beplande naamsverandering……. #prioriteite

Chris dupreez ·

Dit is tyd dat die korrupte verantwoordelikes in die tronk beland

Hendrik ·

Ons kyk al lankal self na ons sekuriteit. Die polisie se vlekies moet maar geknip bly. Daar is nie meer geld nie. Miskien moet hulle Cele beskermde voertuie verminder na 1 motor en hy het seker ook nie die vermoe omself te bestuur nie.

Boerkind ·

Maar die gewetenslose ANC het geld om stede en dorpe se name te verander – hulle kan dit self nie eens uitspreek nie. Wat is daar nog oor wat die ANC kan vernietig behalwe eiendomsreg en pensioene wat tans in hul “besige” program is?

jzjz05 ·

Moenie julle onstel nie dit is normaal ,dit is soos die nuwes Suid Afrika werk.kyk maar na al die staats depatemente,Danel is die nuutste wat besig is om te gaan, Viva ANC.

4ntj13 ·

Seker 5 vliëniers wat salarisse verdien deur bolletjies te rol! Tipies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.