Oos-Kaapse polisieman dood ná skietgeveg met rowers

Argieffoto: SAPD

Die polisiebestuur in die Oos-Kaap het sy skok en ontsteltenis uitgespreek oor die skietdood van ’n polisiebeampte in die Mhlakulo-gebied in Tsolo.

Brig. Tembinkosi Mhlakulo, polisiewoordvoerder, sê ʼn skietery het uitgebreek toe die polisie Maandagaand ’n groep van agt vermeende gewapende rowers agternagesit het. Dit volg nadat die verdagtes vroeër die aand op twee G4S-geldwaens, wat kontant in die Port St. Johns-omgewing vervoer het, toegeslaan het.

“Daar word verneem dat die verdagtes die twee voertuie gestuit het deur een op te blaas, die veiligheidswagte se vuurwapens te gryp en die kluise oop te maak om by die geld uit te kom.”

Terwyl die verdagtes besig was om geld uit die kluis te vat, het lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid wat van Port St. Johns af teruggekeer het, die voorval gesien. Nog voordat hulle kon ondersoek instel, het die verdagtes in ʼn wit dubbelkajuit Ford Ranger en ʼn Toyota Hilux-bakkie ontsnap.

Die polisielede het hulle agternagesit.

“Tydens die jaagtog is een van die voertuie later in die Mhlakulo-omgewing in Tsolo opgemerk, waar die skietery uitgebreek het.”

Die verdagtes het skote op die polisievoertuig gevuur en een van die polisielede, die 41-jarige sers. Mzoxolo Gxothani, is in die bolyf geskiet. Hy het aan sy skietwond beswyk.

“Die jaagtog het voortgeduur totdat die verdagtes in die Nqadu-bos verdwyn het,” het Mhlakulo gesê.

Al die verdagtes is steeds op vrye voet en het met ʼn ongenoemde bedrag geld gevlug.

Die polisie ondersoek sake van gewapende roof en moord.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het sy medelye met Gxothani se familie, kollegas en vriende betuig.

“As die bestuur van die polisie is ons inderdaad verpletter oor die nuus van hierdie koelbloedige moord op ons polisielid. Misdadigers moet besef moord op ʼn polisiebeampte is ʼn aanval op die gesag van die staat. Sulke optrede kan nie toegelaat word nie,” sê Ntshinga.

Gxothani was ten tyde van sy dood verbonde aan die taktiese reaksie-eenheid op Oos-Londen.

Enigiemand met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Plaaskind ·

Moord en doodslag net waar jy kyk, ‘n donker wolk hang oor SA. Hartseer dat die mooi land so verrot.

Anel ·

As hy in die bolyf geskiet is waar was sy koeëlvaste baadjie?

Sarel ·

So onnodig dat die dinge mort gebeur. Hy moes deel van ‘n familie gewees het. Hoeopm konsentreer Bheki nie op hierdie onwettige vuurwapens as om Burgerlikes te ontwapen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.