Oos-Kaapse premier toets positief vir Covid-19

Lubabalo Oscar Mabuyane (Foto: GCIS)

Die Oos-Kaapse premier, Lubabalo Oscar Mabuyane, het positief vir Covid-19 getoets.

Dié nuus volg kort nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand in sy toespraak gesê het kommer bestaan oor die situasie in die Oos-Kaap, ʼn provinsie wat al hoe meer tekens van nog ʼn vlaag infeksies toon.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, woordvoerder van Mabuyane, het Donderdag gesê die premier het griepsimptome getoon waarna hy hom laat toets het.

Mabuyane sterk sedertdien tuis in isolasie aan waar hy sy pligte sal voortsit en deurgaans virtueel in verbinding met belanghebbendes sal wees.

Die premier doen ’n beroep op persone met wie hy moontlik die afgelope sewe dae in aanraking was om hulself te laat toets sodra hulle simptome begin toon.

Maroela Media het vroeër berig die getal nuwe gevalle in die Oos-Kaap was die afgelope week 50% meer as in die vorige week. Die algehele getal nuwe gevalle oor die afgelope 14 dae was boonop 145% hoër as in die vorige 14 dae.

Ramaphosa het gesê die stygings is moontlik veroorsaak deur uitbrekings by onderwysinstellings soos skole en universiteite, asook omdat mense groot byeenkomste bywoon.

Volgens die departement van gesondheid het die Oos-Kaap teen Woensdagaand 5 881 aktiewe gevalle van die virus gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alleen Wolf ·

Nog een wat nie sy eie reels nagekom het nie, kyk en leer Ramaphoza wie die oortreders eintlik is en hou op om ons soos kinders te behandel, as jy dit nie kan begryp nie is jy breindood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.