Oos-Kaapse skool al amper ’n maand sonder krag

Argieffoto

Laerskool ­Krakeelrivier in die Langkloof, Oos-Kaap, sit vir byna ’n maand al sonder krag. Dit omdat die Oos-Kaapse departement van onderwys glo nie die skool se kragrekening betaal het nie. Die munisipaliteit het gevolglik die kragtoevoer na die skool afgesny.

Volgens die skoolhoof, Samuel McKelly, is dit die tweede keer sedert verlede jaar wat die skool deur lang kragonderbrekings lamgelê is. Die vorige kragonderbreking het ongeveer twee weke geduur.

Laerskool ­Krakeelrivier is ’n staatskool met ongeveer 450 leerders van graad R tot 8. Dit is nie die eerste keer dat ʼn skool gestraf word vir die departement van onderwys se foute nie. In Augustus is ʼn klomp skole in Bloemfontein se water afgesny weens agterstallige waterrekenings.

McKelly het sy misnoeë uitgespreek oor die omstandighede waaronder onderwysers en leerders die afgelope maand gebuk moes gaan weens die lang kragonderbreking. “Ons kinders moet in donker klaskamers skoolgaan. Ons kan nie ons projektors of fotostaatmasjien gebruik nie. Ons maak maar staat op alternatiewe leermetodes,” sê McKelly.

Volgens McKelly is hulle in verbinding met die Oos-Kaapse departement van onderwys om oplossings te vind. Die departementele woordvoerder het ontvangs van Maroela Media se navrae erken, maar nog nie reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

H ·

Sit asb SOWETO inwoners se krag af……hulle skuld al meer as R17 miljard, wel hul krag nog aan is.

Danie ·

Snaaks dat die skool se krag afgesit kan word, maar nie Soweto nie

onnie ·

Of dit nou af bly en of hulle dit weer aanskakel, dit gaan geen verskil maak aan die uitslae nie. Kinders leer in elkgeval niks vir assesserings of eksamens nie!

GM ·

Weereens ‘n geval waar kinders ly omdat grootmense nie hul gemors kan uitsorteer nie. Waar is die kinders se regte nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.