Oos-Kaapse vrou ‘nog angstig’ ná plaasaanval

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die aanval op die egpaar Andri en Erica Fox wat vroeër vandeesmaand op hul plaas tussen Alicedale en Paterson in die Oos-Kaap aangeval is nie. Dít ondanks die beloning van R250 000 wat uitgeloof is vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei.

Die egpaar sukkel nog om die gebeure van die aand van 14 April te verwerk en het bykomende veiligheid by hul huis aangebring om ’n bietjie rustiger te kan slaap.

“Ek en my man kan soms nie glo dat dit met ons gebeur het nie. Jy gaan maar aan met jou lewe. Jy het kinders en kleinkinders en jy is so bly jy lewe nog vir hulle, maar ek kan nie [die trefslag van só ’n aanval op jou lewe] beskryf nie,” vertel Erica Donderdag.

Maroela Media het vroeër berig Erica (48) en Andri (49) het op 14 April net ná 19:00 gesit en televisie kyk toe hul Jack Russell met ’n spoed by die vertrek ingehardloop en histeries begin blaf het. ’n Amerikaanse gas, wat die egpaar gehuisves het terwyl hy op die plaas gejag het, was in daardie stadium in ’n ander vertrek besig met ’n oproep. Hy het ten tyde van die aanval vreesbevange en kaalvoet na ’n nabygeleë natuurreservaat gevlug en daar gaan wegkruip.

Erica is aan die boarm na die kluis gelei terwyl Andri se hande met een van hul honde se leibande vasgebind is en hy aangesê is om op die vloer te lê. Die verdagtes het eindelik met vier vuurwapens, dollarnote en juweliersware op die vlug geslaan.

Sy vertel dat hulle sedertdien die veiligheid op die plaaswerf opgeskerp het.

“Ons slaap nog onrustig.

“Ek was nog nooit bang op die plaas nie. Ek was altyd eerder bang as ek Port Elizabeth toe moes gaan vir inkopies. Ek is nou versigtiger en meer bewus van my omgewing en in die aand is ek angstig. Dit voel tog of dit beter word nadat ons die veiligheid opgeskerp het.”

Hoewel die belofte van ’n beloning nog geen resultate gelewer het nie, het die egpaar baie vertroue in die ondersoekbeampte in die saak en hoop op ’n deurbraak.

Erica vertel dat die Amerikaanse gas op die plaas intussen weg is na vriende toe.

Inligting wat moontlik tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei, kan by 083 571 2333 of 079 773 6391 aangemeld word. Mense kan ook die polisie by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snowball ·

Ek hoop die Amerikaanse gas gaan basuin sy belewenis van SA op elke moontlik nuusplatform uit as hy terug is in sy eie land. Dalk help eerstehandse beskrywings van die terreur waaraan boere blootgestel is, om die ware toedrag van sake aan die wêreld te verkondig; dalk glo minder mense dan die ANC president as hy sê : There are no farm murders in SA.

Genis ·

Hoop die Amerikaner kry TV lugtyd in Amerika, om sy storie te vertel…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.